HOSEA 4:1-14

HOSEA 4:1-14 NLV

Volk van Israel, luister na die woord van die HERE! Die HERE het ’n regsaak teen die inwoners van die land. Hy sê: “Daar is geen getrouheid, goedheid of ’n intieme verhouding met God in julle land nie. Julle vloek en lieg, maak dood en steel, en pleeg egbreuk. Oral is daar geweld en bloedvergieting. Dis waarom die hele land verskrompel en kwyn van dors saam met al die inwoners, wilde diere en voëls. Selfs die visse beswyk. “Moenie julle vinger na iemand anders toe wys nie. Moenie die skuld op iemand anders pak nie! Die klag wat Ek lê, is teen jóú, o priester! Daarom sal jy helder oordag struikel, en die profeet saam met jou in die nag. Boonop sal Ek jou ma vernietig, o Israel. My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie. Omdat jyself dié kennis verwerp het, verwerp Ek jou as my priester. Omdat jy die voorskrifte van jou God vergeet het, sal Ek jou kinders vergeet. Hoe meer priesters daar is, hoe meer sondig hulle teen My. Ek sal hulle aansien in skande verander. “Die priesters verryk hulleself wanneer die mense hulle sonde-offers na hulle toe bring. Daarom is die priesters bly wanneer die mense sondig! Soos dit met die priesters gaan, so sal dit ook met die mense gaan: omdat die priesters sondig, sondig die mense ook. Daarom sal Ek sowel priesters as mense vergeld vir hulle bose dade. Hulle sal eet, maar nog honger bly. Hulle sal egbreuk pleeg, maar geen kinders hê nie omdat hulle die HERE verlaat het om ander gode te dien. “Prostitusie, wyn en drank het my volk se denkvermoë verdof. Hulle vra ’n stuk hout om raad! Hulle dink ’n stok kan hulle adviseer! ’n Gees van losbandigheid, ’n hunkering na die afgode het hulle dwaas gemaak. Hulle het soos prostitute opgetree deur ander gode te dien. Hulle bring offers aan die afgode op die bergtoppe. Hulle bring wierookoffers op die heuwels en offer in die koel skadu van eike, populiere en ander groen bome. “Dis waarom julle dogters prostitute geword het, en julle skoondogters egbreuk pleeg. Sal Ek nie julle dogters straf omdat hulle prostitute is en julle skoondogters omdat hulle egbreuk pleeg nie? Sekerlik sal Ek dit doen, want julle mans doen dieselfde deur met tempelprostitute te sondig. O dwase mense! So bewerk mense sonder verstand hulle eie ondergang.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid