Hosea 2:1-12

Hosea 2:1-12 AFR20

“ Kla julle ma aan, kla haar aan, want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie. Laat sy die tekens van hoerery van haar gesig verwyder, en die tekens van egbreuk tussen haar borste – anders sal Ek haar kaal uittrek, en haar laat soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, haar as 'n dor land laat lê en haar van dors laat sterf. Oor haar kinders sal Ek my nie ontferm nie, want hulle is hoerkinders. Ja, hulle ma het gehoereer; sy wat met hulle swanger was, het haar skandelik gedra. Sy het immers gesê, ‘Ek wil agter my minnaars aanloop, hulle wat my brood en water, my wol en vlas, my olie en drank vir my gee.’ “ Daarom, kyk, Ek gaan haar pad met doringtakke afsper, 'n muur om haar bou, sodat sy haar paaie nie vind nie, sodat sy agter haar minnaars aangaan, maar hulle nie bereik nie, hulle soek, maar hulle nie vind nie. Dan sal sy sê, ‘Ek wil teruggaan na my eerste man, want toe was dit vir my beter as nou.’ Maar sy het nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring, •nuwe wyn en olie gegee het nie; silwer het ek vir haar in oorvloed gegee, ook goud. Hulle het dit vir Baäl gebruik. Daarom, Ek gaan weer my koring terugvat in die oestyd, my nuwe wyn in die feestyd. Ek gaan my wol en vlas, wat bedoel is om haar naaktheid te bedek, wegruk. “ Daarom gaan Ek haar skaamdele ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand wegruk nie. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde: haar pelgrimsfeeste, haar nuwemaansfeeste en haar Sabbatte, ja, elkeen van haar feesgeleenthede. Ek gaan haar wingerde en haar vyeboorde verwoes, waarvan sy gesê het, ‘Dit is 'n geskenk aan my wat my minnaars my gegee het.’ Ek sal dit 'n ruigte maak, en die wilde diere sal dit opvreet. Ek gaan van haar rekenskap eis oor die feesdae vir die Baäls waarop sy vir hulle geoffer het, toe sy haar versier het met ringe en juwele, en agter haar minnaars aangeloop het. Maar My het sy vergeet,” is die uitspraak van die HERE.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Hosea 2:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid