Hosea 2

2
Israel as ontroue vrou
1 “ Kla julle ma aan,
kla haar aan,
want sy is nie my vrou nie,
en Ek is nie haar man nie.
Laat sy die tekens van hoerery
van haar gesig verwyder,
en die tekens van egbreuk
tussen haar borste –
2anders sal Ek haar kaal uittrek,
en haar laat soos op haar geboortedag.
Ek sal haar soos 'n woestyn maak,
haar as 'n dor land laat lê
en haar van dors laat sterf.
3 Oor haar kinders
sal Ek my nie ontferm nie,
want hulle is hoerkinders.
4 Ja, hulle ma het gehoereer;
sy wat met hulle swanger was,
het haar skandelik gedra.
Sy het immers gesê,
‘Ek wil agter my minnaars aanloop,
hulle wat my brood en water,
my wol en vlas,
my olie en drank vir my gee.’
5“ Daarom, kyk, Ek gaan haar pad
met doringtakke afsper,
'n muur om haar bou,
sodat sy haar paaie nie vind nie,
6 sodat sy agter haar minnaars
aangaan, maar hulle nie bereik nie,
hulle soek, maar hulle nie vind nie.
Dan sal sy sê,
‘Ek wil teruggaan na my eerste man,
want toe was dit vir my beter as nou.’
7 Maar sy het nie erken dat dit Ek is
wat vir haar koring,
•nuwe wyn en olie gegee het nie;
silwer het ek vir haar
in oorvloed gegee, ook goud.
Hulle het dit vir Baäl gebruik.
8 Daarom, Ek gaan weer
my koring terugvat in die oestyd,
my nuwe wyn in die feestyd.
Ek gaan my wol en vlas,
wat bedoel is om haar naaktheid
te bedek, wegruk.
9“ Daarom gaan Ek
haar skaamdele ontbloot
voor die oë van haar minnaars,
en niemand sal haar
uit my hand wegruk nie.
10 Ek gaan 'n einde maak
aan al haar feesvreugde:
haar pelgrimsfeeste,
haar nuwemaansfeeste
en haar Sabbatte,
ja, elkeen van haar feesgeleenthede.
11 Ek gaan haar wingerde
en haar vyeboorde verwoes,
waarvan sy gesê het,
‘Dit is 'n geskenk aan my
wat my minnaars my gegee het.’
Ek sal dit 'n ruigte maak,
en die wilde diere sal dit opvreet.
12 Ek gaan van haar rekenskap eis
oor die feesdae vir die Baäls
waarop sy vir hulle geoffer het,
toe sy haar versier het
met ringe en juwele,
en agter haar minnaars aangeloop het.
Maar My het sy vergeet,”
is die uitspraak van die Here.
Belofte van 'n nuwe verhouding
13“ Daarom, kyk,
Ek gaan haar oorhaal,
haar na die woestyn laat gaan,
en mooi met haar praat.
14Ek sal daarna haar wingerde
vir haar teruggee,
en die vallei van Agor
as 'n poort van hoop.
Daar sal sy antwoord
soos in haar jong dae,
soos in die tyd toe sy
uit Egipteland opgetrek het.
15“ Op daardie dag,”
is die uitspraak van die Here,
“sal jy My noem, ‘my Man’.
Jy sal My nie weer ‘my Baäl’ noem nie.
16Ek sal die name van die Baäls
uit haar mond verwyder;
hulle name sal nie weer in herinnering
geroep word nie.
17“ Ek sal op daardie dag
vir hulle 'n verbond sluit
met die diere van die veld,
die voëls van die hemel,
en die diere wat op die grond kruip.
Boog en swaard en oorlogstuig
sal Ek in die land stukkend breek;
Ek sal sorg dat hulle veilig gaan slaap.
18“ Ek gaan My vir altyd
aan jou verloof;
Ek gaan My aan jou verloof,
met reg en geregtigheid,
met troue liefde en ontferming
as bruidsprys.
19Ek gaan My in trou aan jou verloof,
en jy sal die Here erken.
20“ Op daardie dag sal Ek antwoord,”
is die uitspraak van die Here.
“Ek sal die hemel antwoord,
en dit sal die aarde antwoord;
21die aarde sal die koring,
die nuwe wyn en olie antwoord,
en hulle sal Jisreël antwoord.
22 “Ek gaan haar vir my
in die land saai.
Ek sal my ontferm oor Lo-Rugama,
en vir Lo-Ammi sal Ek sê,
‘Jy is my volk,’
en hy sal sê, ‘my God.’ ”

Tans Gekies:

Hosea 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid