HOSEA 2:1-12

HOSEA 2:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Kla julle moeder aan, kla haar aan! Sy is nie meer my vrou nie, Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en sy moenie meer owerspel pleeg nie, anders trek Ek haar kaal uit en maak haar so weerloos soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, soos 'n dor land, en sy sal van dors doodgaan. Ek sal My nie oor haar eerste kinders ontferm nie, want hulle is buite-egtelike kinders. Hulle moeder was 'n prostituut, sy het swanger geword omdat sy haar skandelik gedra het. Sy het bly sê: “Ek gaan na my minnaars toe. Dit is húlle wat sorg dat ek brood en water, wol en vlas, olie en drank het.” Daarom gaan Ek haar pad versper met doringtakke en haar afkamp sodat sy nie haar planne kan uitvoer nie, en as sy dan haar minnaars probeer opsoek en hulle nie raakloop nie, hulle soek en nie kry nie, sal sy dalk sê: “Ek sal na my eie man toe teruggaan, want ek was by hom beter versorg as nou.” Sy wou nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olie en baie geld gee nie, geld wat sy in elk geval vir Baäl gebruik het. Daarom gaan Ek die koring en wyn wat sy by My kry, terughou in die oestyd. Ek gaan ook die wol en die vlas terugvat wat Ek haar gegee het om haar naaktheid te bedek. Ek gaan haar nou kaal uittrek voor die oë van haar minnaars. Nie een sal haar kan help nie. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde, haar huttefeeste, haar nuwemaansfeeste en haar sabbatsfeeste, al haar feeste. Ek gaan haar wingerde en haar vyebome verwoes, die dinge waarvan sy sê: “Dit is my beloning wat my minnaars my gee vir my dienste.” Ek gaan dit 'n boskasie maak en die wilde diere sal dit opvreet. Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.

HOSEA 2:1-12 Die Boodskap (DB)

“Raas met julle ma. Baklei met haar. Ek gaan van haar skei. Sy moet ophou om agter ander mans aan te loop. Sy moet ophou om My te verkul. As sy nie ophou nie, gaan Ek haar dwing om al haar klere uit te trek sodat almal vir haar kan lag. Ek gaan haar skaam maak. Ek gaan haar poedelkaal laat uittrek soos die dag toe sy gebore is. Ek gaan haar eensaam maak, soos die woestyn. Ek gaan haar maak soos ’n plek in die veld waar niemand kom nie, omdat daar nie water is nie. Ek sal haar laat doodgaan van die dors. Ek sal nie haar kinders liefhê nie. Hulle is nie my kinders nie. Hulle is kinders wat sy by ander mans gehad het. Hulle ma was ’n prostituut. Sy het haar skandelik gedra. Sy het hulle kinders verwag. Sy het gesê: ‘Ek wil agter die mans aangaan wat by my kuier. Hulle gee vir my drank en kos. Ek kry by hulle klere en reukwater.’” “Ek pak doringtakke rondom haar. Ek bou ’n klipmuur rondom haar om haar by die huis te hou. Sy sal agter ander mans wil aangaan. Dit sal haar niks help nie, want sy sal hulle nie in die hande kry nie. Sy sal soek waar hulle is, maar sy sal hulle nie opspoor nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my eie man toe. Dit was beter toe ek by hom was.’ Sy het nooit raakgesien dat dit Ek was wat vir haar koring en wyn en olie en geld gegee het om van te leef nie. Selfs die goud wat sy vir die afgod Baäl gegee het, het sy by My gekry.” “Ek gaan sorg dat daar nie koring is om te oes in die oestyd nie. Daar sal ook nie druiwe wees om te pluk nie. Ek gaan die wol en die materiaal terugvat wat Ek vir haar gegee het om vir haarself klere te maak. Ek gaan haar kaal laat staan voor die mans met wie sy deurmekaar is, dat sy kan skaam kry. Niemand sal lus wees om weer iets met haar te doen te hê nie. Ek gaan haar rinkinkery stopsit. Ek maak ’n einde aan haar partytjies wat sy vir die afgode hou. Die feeste op die nuwemaan en op die sabbat sal op ’n einde kom. “Sy het gespog dat die mans wat by haar gekuier het, haar betaal het deur vir haar druiwe- en vyebome te plant. Ek gaan dit wortel en tak uitroei. Ek gaan dit bosse maak waar die wilde diere sal kom vreet. Ek gaan haar straf oor die tyd toe sy vir die Baäls offers gebring het. Ek gaan haar laat betaal vir die tyd toe sy haar mooi gemaak het en juwele aangesit het om agter die mans aan te loop en My net so laat staan het,” sê die Here.

HOSEA 2:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gesê: “Julle ma is Israel. Julle moet vir julle ma sê sy het verkeerd gedoen, want sy is nie meer my vrou nie, en Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en om egbreuk te pleeg. As sy nie ophou om dit te doen nie, dan sal Ek al haar klere uittrek, dan sal sy so kaal wees soos toe sy gebore is. Ek sal haar maak soos 'n woestyn waar nie water is nie. Sy sal sterf, want sy sal nie water hê om te drink nie. Ek sal ook nie vir haar kinders goed wees nie, want hulle is ontrou kinders. Hulle ma was ontrou, sy het slegte dinge gedoen, sy het gesê: ‘Ek is lief vir my gode, ek sal hulle dien. Hulle gee vir my brood en water, wol en vlas, olyf-olie en wyn.’ Daarom sal Ek nou doringtakke in haar pad gooi, en Ek, die Here, sal 'n klipmuur om haar bou. Ek sal haar pad toemaak, sy sal nie kan rondloop nie. Sy sal probeer om by haar afgode te kom, maar sy sal dit nie regkry nie. Sy sal hulle soek, maar sy sal hulle nie kry nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my God, want toe ek Hom gedien het, was dit beter as nou.’ “Ja, sy wou nie glo dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olyf-olie gee nie, en ook baie silwer en goud. Sy het 'n beeld gemaak van die silwer en goud, 'n beeld van die afgod Baäl. “Daarom sal Ek nou my koring en my wyn terugvat, daar sal nie koring wees om af te sny of druiwe om wyn te maak nie. Ek sal ook my wol en my vlas wegvat wat Ek vir haar gegee het om haar kaal lyf toe te maak. Nou sal Ek haar klere uittrek, en haar afgode sal sien sy is kaal, maar hulle sal haar nie kan red nie. Sy sal nie meer bly kan wees oor iets nie. Daar sal nie meer Hutte-feeste, Nuwemaan-feeste, Sabbatdae of ander feeste wees nie. Ek sal haar wingerde en haar vyebome verwoes. Hulle sal soos die bosse word, die wilde diere sal hulle vreet. Sy het gesê: ‘Dit is presente wat my afgode vir my gegee het.’ “Ek sal haar straf, want sy het baie maal offers gebring vir die Baäls. Die mense van Israel is soos slegte vroue wat hulleself mooi maak met ringe en juwele en wat rondloop en ander mans soek. Maar vir My het hulle vergeet.”

HOSEA 2:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TWIS met julle moeder, twis; want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg. Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos 'n woestyn, ja, haar stel soos 'n dor land en haar van dors laat sterwe. En Ek sal My oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore. Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee. Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en om haar 'n muur bou, sodat sy haar paaie nie sal vind nie. En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou. Ja, sy het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het. Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd, en wegneem my wol en my vlas wat dien om haar naaktheid te bedek. Ek sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie. En Ek maak 'n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye. En Ek sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en Ek sal dit tot 'n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet. So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die HERE.

HOSEA 2:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Kla julle ma aan, kla haar aan, want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie. Laat sy die tekens van hoerery van haar gesig verwyder, en die tekens van egbreuk tussen haar borste – anders sal Ek haar kaal uittrek, en haar laat soos op haar geboortedag. Ek sal haar soos 'n woestyn maak, haar as 'n dor land laat lê en haar van dors laat sterf. Oor haar kinders sal Ek my nie ontferm nie, want hulle is hoerkinders. Ja, hulle ma het gehoereer; sy wat met hulle swanger was, het haar skandelik gedra. Sy het immers gesê, ‘Ek wil agter my minnaars aanloop, hulle wat my brood en water, my wol en vlas, my olie en drank vir my gee.’ “ Daarom, kyk, Ek gaan haar pad met doringtakke afsper, 'n muur om haar bou, sodat sy haar paaie nie vind nie, sodat sy agter haar minnaars aangaan, maar hulle nie bereik nie, hulle soek, maar hulle nie vind nie. Dan sal sy sê, ‘Ek wil teruggaan na my eerste man, want toe was dit vir my beter as nou.’ Maar sy het nie erken dat dit Ek is wat vir haar koring, •nuwe wyn en olie gegee het nie; silwer het ek vir haar in oorvloed gegee, ook goud. Hulle het dit vir Baäl gebruik. Daarom, Ek gaan weer my koring terugvat in die oestyd, my nuwe wyn in die feestyd. Ek gaan my wol en vlas, wat bedoel is om haar naaktheid te bedek, wegruk. “ Daarom gaan Ek haar skaamdele ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand wegruk nie. Ek gaan 'n einde maak aan al haar feesvreugde: haar pelgrimsfeeste, haar nuwemaansfeeste en haar Sabbatte, ja, elkeen van haar feesgeleenthede. Ek gaan haar wingerde en haar vyeboorde verwoes, waarvan sy gesê het, ‘Dit is 'n geskenk aan my wat my minnaars my gegee het.’ Ek sal dit 'n ruigte maak, en die wilde diere sal dit opvreet. Ek gaan van haar rekenskap eis oor die feesdae vir die Baäls waarop sy vir hulle geoffer het, toe sy haar versier het met ringe en juwele, en agter haar minnaars aangeloop het. Maar My het sy vergeet,” is die uitspraak van die HERE.

HOSEA 2:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Sê vir julle broers: Ammi! en vir jou susters, Ruhama. Pleit met jou moeder, pleit, want sy is nie my vrou nie, en ek is nie haar man nie; laat sy dan haar hoererye en haar owerspel tussen haar borste uit verwyder; sodat ek haar nie kaal uittrek en haar stel soos op die dag dat sy gebore is nie, en haar soos 'n woestyn maak en haar soos 'n droë land maak en haar van dors doodmaak. En Ek sal my nie oor haar kinders ontferm nie; want hulle is kinders van hoererye. Want hulle moeder het gehoereer; sy wat hulle verwek het, het skandelik gehandel; want sy het gesê: Ek sal agter my minnaars aan loop, wat vir my my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee. Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en 'n muur maak, dat sy haar paaie nie sal vind nie. En sy sal haar minnaars agtervolg, maar hulle sal hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie; dan sal sy sê: Ek sal gaan en na my eerste man terugkeer; want toe was dit beter met my as nou. Want sy het nie geweet dat Ek vir haar koring en wyn en olie gegee het en haar silwer en goud vermeerder het wat hulle vir Baäl berei het nie. Daarom sal Ek teruggaan en my koring wegneem op sy tyd en my wyn op sy tyd, en my wol en my vlas wat gegee is om haar naaktheid te bedek, terugkry. En nou sal Ek haar skandelikheid ontdek voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie. Ek sal ook al haar vreugde laat ophou, haar feesdae, haar nuwemane en haar sabbatte en al haar feestye. En Ek sal haar wingerde en haar vyebome vernietig waarvan sy gesê het: Dit is my belonings wat my minnaars aan my gegee het; en Ek sal dit 'n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit eet.

HOSEA 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Maar nou, kla julle ma aan. Sy is nie meer my vrou nie en Ek is nie meer haar man nie. Sê vir haar om ontslae te raak van haar grimering en suggestiewe klere en op te hou om soos ’n prostituut op te tree. Anders sal Ek haar kaal uittrek soos op die dag van haar geboorte. Ek sal haar maak soos ’n woestyn, soos ’n dor land sodat sy sterf van die dors. Ek sal ook nie haar kinders liefhê soos my eie nie, want hulle is nie my kinders nie. Hulle is deur ander mans verwek. Want hulle ma is ’n skaamtelose prostituut en het op ’n skandelike manier swanger geword. Sy het gesê: ‘Ek sal agter my minnaars aan gaan, hulle wat vir my kos en drank, klere van wol en vlas, en olie gee.’ “Daarom sal Ek haar pad met doringtakke ontoeganklik maak, dit met ’n klipmuur toebou sodat sy nie haar paaie kry nie. Wanneer sy agter haar minnaars aan loop, sal sy hulle nie kan inhaal nie. Sy sal na hulle soek, maar hulle nie kry nie. Dan sal sy dink: ‘Ek moet maar na my man toe teruggaan, want by hom het dit beter met my gegaan as nou.’ Sy besef nie dat dit Ek is wat haar alles gegee het wat sy het nie: koring, wyn en olie – selfs die goud en silwer wat sy vir die afgod Baäl geoffer het! “Daarom sal Ek my koring en my wyn wat Ek elke oestyd vir haar gegee het, terugneem. Ek sal my wol en my vlas wegneem, dit wat Ek vir haar gegee het om daarmee haar naaktheid toe te maak. Ek sal haar in die openbaar kaal uittrek terwyl haar minnaars toekyk. Nie een van hulle sal haar uit my hand kan red nie. Ek sal ’n einde maak aan haar jaarlikse feeste, haar Nuwemaanfeeste en haar Sabbatsfeeste – trouens al haar vasgestelde feeste. Ek sal haar wingerde en vyebome verwoes, dinge waarvan sy sê: ‘Dis betaling wat my minnaars vir my gegee het.’ Ek sal dit tot ’n ruigte maak sodat net wilde diere daarvan sal vreet. Ek sal haar straf vir al die kere dat sy wierook vir die beelde van die Baäls gebrand het, haar behang het met oorringe en juwele, en uitgegaan het om haar minnaars te soek. Maar aan My het sy nie gedink nie,” sê die HERE.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid