Hosea 2:1-12

Hosea 2:1-12 ABA

Die Here het gesê: “Julle ma is Israel. Julle moet vir julle ma sê sy het verkeerd gedoen, want sy is nie meer my vrou nie, en Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en om egbreuk te pleeg. As sy nie ophou om dit te doen nie, dan sal Ek al haar klere uittrek, dan sal sy so kaal wees soos toe sy gebore is. Ek sal haar maak soos 'n woestyn waar nie water is nie. Sy sal sterf, want sy sal nie water hê om te drink nie. Ek sal ook nie vir haar kinders goed wees nie, want hulle is ontrou kinders. Hulle ma was ontrou, sy het slegte dinge gedoen, sy het gesê: ‘Ek is lief vir my gode, ek sal hulle dien. Hulle gee vir my brood en water, wol en vlas, olyf-olie en wyn.’ Daarom sal Ek nou doringtakke in haar pad gooi, en Ek, die Here, sal 'n klipmuur om haar bou. Ek sal haar pad toemaak, sy sal nie kan rondloop nie. Sy sal probeer om by haar afgode te kom, maar sy sal dit nie regkry nie. Sy sal hulle soek, maar sy sal hulle nie kry nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my God, want toe ek Hom gedien het, was dit beter as nou.’ “Ja, sy wou nie glo dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olyf-olie gee nie, en ook baie silwer en goud. Sy het 'n beeld gemaak van die silwer en goud, 'n beeld van die afgod Baäl. “Daarom sal Ek nou my koring en my wyn terugvat, daar sal nie koring wees om af te sny of druiwe om wyn te maak nie. Ek sal ook my wol en my vlas wegvat wat Ek vir haar gegee het om haar kaal lyf toe te maak. Nou sal Ek haar klere uittrek, en haar afgode sal sien sy is kaal, maar hulle sal haar nie kan red nie. Sy sal nie meer bly kan wees oor iets nie. Daar sal nie meer Hutte-feeste, Nuwemaan-feeste, Sabbatdae of ander feeste wees nie. Ek sal haar wingerde en haar vyebome verwoes. Hulle sal soos die bosse word, die wilde diere sal hulle vreet. Sy het gesê: ‘Dit is presente wat my afgode vir my gegee het.’ “Ek sal haar straf, want sy het baie maal offers gebring vir die Baäls. Die mense van Israel is soos slegte vroue wat hulleself mooi maak met ringe en juwele en wat rondloop en ander mans soek. Maar vir My het hulle vergeet.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Hosea 2:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid