Hosea 10:1-8

Hosea 10:1-8 AFR20

Israel was 'n welige wingerdstok; so ook sy vrugte wat hy gedra het. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe meer altare het hy opgerig. Hoe beter dit met sy land gegaan het, hoe mooier het hulle die gedenkstene gemaak. Hulle harte is vals – nou sal hulle boet. Die HERE self gaan hulle altare afbreek, hulle gedenkstene verwoes. Ja, nou sê hulle: “Ons het nie 'n koning nie, omdat ons nie vir die HERE ontsag gehad het nie. En die koning – wat sou hy vir ons kon doen?” Hulle praat maar net. Hulle sweer vals wanneer hulle 'n ooreenkoms sluit. Maar reg sal geskied so seker as wat giftige plante opslaan in die slote in die veld. Oor die kalf van Bet-Awen is die inwoners van Samaria besorg. Ja, sy volk treur oor hom, sy afgodspriesters kerm oor hom, oor sy aansien, omdat dit van hom weggeneem is. Hy self sal ook na Assirië geneem word as geskenk vir koning Jareb. Skaamte sal Efraim oorval, en Israel sal beskaamd staan oor sy planne. Samaria sal vernietig word, haar koning sal soos 'n houtsplinter op die water wees. Die offerhoogtes van Awen, die sonde van Israel, sal uitgedelg word. Dorings en dissels sal op hulle altare groei. Dan sal hulle vir die berge sê, “Bedek ons!” en vir die heuwels, “Val op ons!”