HOSEA 10:1-8

HOSEA 10:1-8 NLV

Israel is voorspoedig, soos ’n welige wingerd oortrek met vrugte. Maar hoe groter die voorspoed, hoe meer altare bou hulle vir vreemde gode. Hoe oorvloediger die land se opbrengs, hoe mooier maak hulle die klippilare. Hulle harte is vals. Hulle is skuldig. Daarom sal die HERE hulle altare afbreek en hulle klippilare stukkend slaan. Dan sal hulle sê: “Ons het geen koning nie, want ons het nie die HERE gedien nie. Maar wat sou ’n koning in elk geval vir ons kon doen?” Hulle laat die leë woorde rol, maak valse beloftes en sluit ooreenkomste wat hulle nie nakom nie. Hulle regspleging is soos giftige onkruid wat weelderig in die vore langs die landerye groei. Die inwoners van Samaria is bekommerd oor hulle kalwerbeeld in Bet-Awen. Die mense treur oor hom, en sy priesters wat hulle verheug het in sy grootsheid sal weeklaag omdat sy aansien weggeneem is. Dit sal saam met hulle na Assirië toe geneem word as ’n geskenk vir die groot koning daar. Israel sal verneder word en skaamkry omdat hulle op afgode vertrou het. Samaria sal verwoes word en sy koning sal soos ’n tak deur die water weggevoer word. Die hoogtes van boosheid waar Israel gesondig het, sal verwoes word. Dorings en onkruid sal hulle altare toegroei. Dan sal hulle vir die berge vra: “Begrawe ons!” en vir die heuwels: “Val op ons!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid