HOSEA 10:1-8

HOSEA 10:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Die mense van Israel het baie geword. Hulle was soos wingerdstokke wat baie druiwe dra. Maar toe hulle baie word, het hulle baie altare gebou. Toe dit goed gaan met die land, het hulle mooi klip-pale gemaak. Hulle is vals, daarom is dit reg dat die Here hulle straf. Hy sal hulle altare stukkend breek en hulle klip-pale verwoes. Hulle sê nou: “Ons wil nie luister na die koning nie, want ons is nie bang vir die Here nie, en 'n koning kan ons nie help nie.” Hulle belowe baie dinge, en hulle sê die Here is die getuie, maar hulle lieg wanneer hulle dit sê. Hulle laat mense sterf wat reg gedoen het. Dit is soos wanneer die mense die giftige plante eet wat groei by die waterslote langs die koringlande. Die mense wat in die land Samaria woon, is bekommerd oor die beeld van die bul-kalf in die sondestad Bet-El. Die volk en die priesters huil en treur oor die beeld, want die vyande het alles weggevat wat by die beeld was. Hulle sal die beeld ook wegvat en hulle sal dit vir die koning van Assirië present gee. Die vyande sal die mense van Efraim spot, dan sal hulle skaam wees oor alles wat hulle wou doen. Die vyande sal die stad Samaria verwoes. Die stad en sy koning sal verdwyn. Dit sal wees soos 'n stokkie wat wegdryf op die water. Die vyande sal die offer-plekke in Bet-El verwoes, daar waar die mense van Israel sonde gedoen het. Dorings en bossies sal op hulle altare groei. Hulle sal vir die berge en die heuwels sê: “Val op ons, maak ons toe!”

HOSEA 10:1-8 Die Boodskap (DB)

“Israel was soos ’n wingerd. Daar het swaar druiwetrosse aan hom gehang. Hoe voorspoediger dit egter met hom gegaan het, hoe meer offerplekke het hy vir die afgode gebou. Hoe groter die oeste was wat hy bymekaargemaak het, hoe mooier was die regop klippe wat hy vir die afgode in die grond geplant het. Israel sal gestraf word omdat hy ook afgode gedien het. Die Here sal al daardie offerplekke wat hulle gebou het, met die grond gelykmaak. Hy sal daardie klippe omgooi wat hulle ingeplant het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het nie meer ’n koning nie. Ons het mos nie respek vir die Here gehad nie. Maar wat maak dit in elk geval saak? ’n Koning sou nou niks vir ons kon doen nie.’ Hulle praat baie maklik. Hulle maak beloftes wat niks beteken nie. Hulle sluit ooreenkomste wat hulle niks help nie. Die uitsprake wat hulle regters in die hof maak, het geen betekenis nie. Dit is soos gifplante in die veld waarmee jy niks kan doen nie. “Die mense wat in Samaria bly, gaan sleg voel oor die kalf by Bet-Awen wat van goud gemaak is. Die volk en die mans wat vir hom offers gebring het, sal oor hom huil. Hulle sal hardop huil omdat hy nie meer belangrik is nie. As hulle Assirië toe gaan, sal hulle die kalf saamvat om dit vir die koning van Assirië present te gee. Efraim sal in die skande kom. Israel gaan skaam wees dat hy ooit op die beeld vertrou het. Samaria sal afgebreek word. Sy koning sal weggevat word. Hy sal soos ’n stuk hout wees wat op die water wegdryf. Die koppies by Awen waarop Israel sy offers vir die afgode gebring het, sal kaal en verlate daar lê. Daar sal dorings en bossies groei bo-oor die altare wat hulle gebou het. Hulle sal die berge soebat: ‘Val tog asseblief op ons!’ Hulle sal vir die heuwels vra: ‘Maak ons heeltemal toe. Steek ons weg.’”