Israel was 'n welige wingerdstok; so ook sy vrugte wat hy gedra het. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe meer altare het hy opgerig. Hoe beter dit met sy land gegaan het, hoe mooier het hulle die gedenkstene gemaak. Hulle harte is vals – nou sal hulle boet. Die HERE self gaan hulle altare afbreek, hulle gedenkstene verwoes. Ja, nou sê hulle: “Ons het nie 'n koning nie, omdat ons nie vir die HERE ontsag gehad het nie. En die koning – wat sou hy vir ons kon doen?” Hulle praat maar net. Hulle sweer vals wanneer hulle 'n ooreenkoms sluit. Maar reg sal geskied so seker as wat giftige plante opslaan in die slote in die veld. Oor die kalf van Bet-Awen is die inwoners van Samaria besorg. Ja, sy volk treur oor hom, sy afgodspriesters kerm oor hom, oor sy aansien, omdat dit van hom weggeneem is. Hy self sal ook na Assirië geneem word as geskenk vir koning Jareb. Skaamte sal Efraim oorval, en Israel sal beskaamd staan oor sy planne. Samaria sal vernietig word, haar koning sal soos 'n houtsplinter op die water wees. Die offerhoogtes van Awen, die sonde van Israel, sal uitgedelg word. Dorings en dissels sal op hulle altare groei. Dan sal hulle vir die berge sê, “Bedek ons!” en vir die heuwels, “Val op ons!” “ Sedert die dae van Gibea het jy gesondig, Israel. Hulle het daarmee volgehou. Sal die oorlog teen die kwaadwilliges hulle dan nie in Gibea tref nie? Omdat Ek so besluit het, gaan Ek hulle 'n les leer: Nasies sal teen hulle saamtrek omdat hulle verbind bly aan hulle twee sondes. “ Efraim was 'n geleerde vers wat daarvan gehou het om koring uit te trap. Maar Ek het oor haar mooi nek gestreel en besluit: Ek gaan Efraim inspan; Juda moet ploeg; Jakob moet vir homself die grond eg. Ek het gesê, ‘Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën.’
Lees Hosea 10
Deel
Vergelyk alle weergawes: Hosea 10:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's