HOSEA 10:1-12
HOSEA 10:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Israel was 'n welige wingerdstok. Sy vrugte was geil. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe beter is daar vir die altare gesorg. Hoe beter dit met die land gegaan het, hoe mooier is die klippilare gemaak. Hulle is vals wanneer hulle hulle sonde bely. Maar die Here sal hulle altare afbreek, Hy sal hulle klippilare verwoes. Hulle sê: “Ons het nie 'n koning nie, want ons het nie die Here gedien nie. Maar wat sou 'n koning in elk geval vir ons kon doen?” Hulle praat net, hulle maak vals beloftes, hulle sluit verdrae. En intussen is hulle regspraak soos gifplante wat in die vore langs die land groei. Die inwoners van Samaria is bekommerd oor die goue kalf van Bet-Awen. Sy vereerders treur oor hom en sy priesters kerm oor hom. Hulle kerm oor sy rykdom wat van hom weggeneem is. Maar hy gaan self ook nog na Assirië toe gevat word as 'n geskenk vir koning Jareb. Efraim sal teleurgestel word, Israel sal daar bedroë van afkom met sy planne en al. Wanneer Samaria verwoes word, sal sy koning meegesleur word soos 'n stuk dryfhout op die water. Die hoogtes waar Israel gesondig en oortree het, sal woes word. Dorings en bossies sal groei waar die altare gestaan het. Dan sal Israel vir die berge sê: “Val ons toe!” en vir die heuwels: “Val op ons!” Die sonde van Israel kom uit die tyd van Gibea. Hulle het daarmee volhard. Die oorlog teen hierdie opstandige volk sal hulle in Gibea tref. Ek het besluit Ek sal hulle straf. Die nasies sal teen hulle versamel word omdat hulle met hulle twee groot sondes volhard het. Efraim was 'n mak vers wat daarvan gehou het om graan uit te trap. Toe Ek sien dat sy reeds sterk genoeg is, wou Ek haar inspan. Juda sou ploeg en Jakob sou eg. Ek het gesê: “Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle 'n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet.”
HOSEA 10:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Israel was 'n welige wingerdstok; so ook sy vrugte wat hy gedra het. Hoe meer vrugte hy gedra het, hoe meer altare het hy opgerig. Hoe beter dit met sy land gegaan het, hoe mooier het hulle die gedenkstene gemaak. Hulle harte is vals – nou sal hulle boet. Die HERE self gaan hulle altare afbreek, hulle gedenkstene verwoes. Ja, nou sê hulle: “Ons het nie 'n koning nie, omdat ons nie vir die HERE ontsag gehad het nie. En die koning – wat sou hy vir ons kon doen?” Hulle praat maar net. Hulle sweer vals wanneer hulle 'n ooreenkoms sluit. Maar reg sal geskied so seker as wat giftige plante opslaan in die slote in die veld. Oor die kalf van Bet-Awen is die inwoners van Samaria besorg. Ja, sy volk treur oor hom, sy afgodspriesters kerm oor hom, oor sy aansien, omdat dit van hom weggeneem is. Hy self sal ook na Assirië geneem word as geskenk vir koning Jareb. Skaamte sal Efraim oorval, en Israel sal beskaamd staan oor sy planne. Samaria sal vernietig word, haar koning sal soos 'n houtsplinter op die water wees. Die offerhoogtes van Awen, die sonde van Israel, sal uitgedelg word. Dorings en dissels sal op hulle altare groei. Dan sal hulle vir die berge sê, “Bedek ons!” en vir die heuwels, “Val op ons!” “ Sedert die dae van Gibea het jy gesondig, Israel. Hulle het daarmee volgehou. Sal die oorlog teen die kwaadwilliges hulle dan nie in Gibea tref nie? Omdat Ek so besluit het, gaan Ek hulle 'n les leer: Nasies sal teen hulle saamtrek omdat hulle verbind bly aan hulle twee sondes. “ Efraim was 'n geleerde vers wat daarvan gehou het om koring uit te trap. Maar Ek het oor haar mooi nek gestreel en besluit: Ek gaan Efraim inspan; Juda moet ploeg; Jakob moet vir homself die grond eg. Ek het gesê, ‘Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën.’
HOSEA 10:1-12 Die Boodskap (DB)
“Israel was soos ’n wingerd. Daar het swaar druiwetrosse aan hom gehang. Hoe voorspoediger dit egter met hom gegaan het, hoe meer offerplekke het hy vir die afgode gebou. Hoe groter die oeste was wat hy bymekaargemaak het, hoe mooier was die regop klippe wat hy vir die afgode in die grond geplant het. Israel sal gestraf word omdat hy ook afgode gedien het. Die Here sal al daardie offerplekke wat hulle gebou het, met die grond gelykmaak. Hy sal daardie klippe omgooi wat hulle ingeplant het. Dan sal hulle sê: ‘Ons het nie meer ’n koning nie. Ons het mos nie respek vir die Here gehad nie. Maar wat maak dit in elk geval saak? ’n Koning sou nou niks vir ons kon doen nie.’ Hulle praat baie maklik. Hulle maak beloftes wat niks beteken nie. Hulle sluit ooreenkomste wat hulle niks help nie. Die uitsprake wat hulle regters in die hof maak, het geen betekenis nie. Dit is soos gifplante in die veld waarmee jy niks kan doen nie. “Die mense wat in Samaria bly, gaan sleg voel oor die kalf by Bet-Awen wat van goud gemaak is. Die volk en die mans wat vir hom offers gebring het, sal oor hom huil. Hulle sal hardop huil omdat hy nie meer belangrik is nie. As hulle Assirië toe gaan, sal hulle die kalf saamvat om dit vir die koning van Assirië present te gee. Efraim sal in die skande kom. Israel gaan skaam wees dat hy ooit op die beeld vertrou het. Samaria sal afgebreek word. Sy koning sal weggevat word. Hy sal soos ’n stuk hout wees wat op die water wegdryf. Die koppies by Awen waarop Israel sy offers vir die afgode gebring het, sal kaal en verlate daar lê. Daar sal dorings en bossies groei bo-oor die altare wat hulle gebou het. Hulle sal die berge soebat: ‘Val tog asseblief op ons!’ Hulle sal vir die heuwels vra: ‘Maak ons heeltemal toe. Steek ons weg.’” “Van Gibea se tyd af het Israel maar net aangehou om sonde teen die Here te doen. Hulle het net nooit opgehou nie. Is daar dan ’n beter plek as Gibea waar die oorlog teen hierdie oortreders kan begin? Ek het besluit dat Ek hulle sommer self sal aanval. Die nasies sal saamstaan om teen hulle oorlog te maak. Hulle sal hulle kom straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. “Aan die begin was Efraim soos ’n jong bees wat geleer was om oor die graan op die dorsvloer te loop om dit uit te trap. Sy was gewillig om hierdie maklike werk te doen. Ek het toe ’n juk op haar mooi nek gesit om haar te leer om ook die lande om te ploeg. Efraim sou die sooie omploeg. Juda sou agterna kom en die grond plat eg. Ek het vir hulle gesê: ‘Plant in die grond wat reg en billik is, en julle sal liefde daaruit oes. Breek met die ploeg nuwe grond oop. Soek in hierdie tyd na die Here. Hy sal dan kom en Hy sal alles wat goed en reg is, op julle laat kom soos reën wat val.”
HOSEA 10:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Israel is voorspoedig, soos ’n welige wingerd oortrek met vrugte. Maar hoe groter die voorspoed, hoe meer altare bou hulle vir vreemde gode. Hoe oorvloediger die land se opbrengs, hoe mooier maak hulle die klippilare. Hulle harte is vals. Hulle is skuldig. Daarom sal die HERE hulle altare afbreek en hulle klippilare stukkend slaan. Dan sal hulle sê: “Ons het geen koning nie, want ons het nie die HERE gedien nie. Maar wat sou ’n koning in elk geval vir ons kon doen?” Hulle laat die leë woorde rol, maak valse beloftes en sluit ooreenkomste wat hulle nie nakom nie. Hulle regspleging is soos giftige onkruid wat weelderig in die vore langs die landerye groei. Die inwoners van Samaria is bekommerd oor hulle kalwerbeeld in Bet-Awen. Die mense treur oor hom, en sy priesters wat hulle verheug het in sy grootsheid sal weeklaag omdat sy aansien weggeneem is. Dit sal saam met hulle na Assirië toe geneem word as ’n geskenk vir die groot koning daar. Israel sal verneder word en skaamkry omdat hulle op afgode vertrou het. Samaria sal verwoes word en sy koning sal soos ’n tak deur die water weggevoer word. Die hoogtes van boosheid waar Israel gesondig het, sal verwoes word. Dorings en onkruid sal hulle altare toegroei. Dan sal hulle vir die berge vra: “Begrawe ons!” en vir die heuwels: “Val op ons!” Die HERE sê: “Israel, sedert die dae van Gibea het julle net sonde op sonde gepleeg. Daar het julle bly staan. Weens julle boosheid sal oorlog julle sekerlik in Gibea inhaal. Ek sal kom om hulle te oordeel. Nasies sal teen hulle optrek om hulle oor hulle menigte sondes te straf. “Israel is soos ’n geleerde vers wat daarvan hou om koring uit te trap. Maar nou sit Ek ’n swaar juk op haar mooi nek. Ek sal Israel inspan; Juda moet die harde grond omploeg terwyl Jakob sal moet eg. Ek het gesê: ‘Saai die goeie saad van geregtigheid en julle sal ’n opbrengs van my liefde oes. Ploeg die nuwe grond van julle harte, want dis nou die tyd om die HERE te soek sodat Hy kan kom en geregtigheid oor julle uitstort.’
HOSEA 10:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Die mense van Israel het baie geword. Hulle was soos wingerdstokke wat baie druiwe dra. Maar toe hulle baie word, het hulle baie altare gebou. Toe dit goed gaan met die land, het hulle mooi klip-pale gemaak. Hulle is vals, daarom is dit reg dat die Here hulle straf. Hy sal hulle altare stukkend breek en hulle klip-pale verwoes. Hulle sê nou: “Ons wil nie luister na die koning nie, want ons is nie bang vir die Here nie, en 'n koning kan ons nie help nie.” Hulle belowe baie dinge, en hulle sê die Here is die getuie, maar hulle lieg wanneer hulle dit sê. Hulle laat mense sterf wat reg gedoen het. Dit is soos wanneer die mense die giftige plante eet wat groei by die waterslote langs die koringlande. Die mense wat in die land Samaria woon, is bekommerd oor die beeld van die bul-kalf in die sondestad Bet-El. Die volk en die priesters huil en treur oor die beeld, want die vyande het alles weggevat wat by die beeld was. Hulle sal die beeld ook wegvat en hulle sal dit vir die koning van Assirië present gee. Die vyande sal die mense van Efraim spot, dan sal hulle skaam wees oor alles wat hulle wou doen. Die vyande sal die stad Samaria verwoes. Die stad en sy koning sal verdwyn. Dit sal wees soos 'n stokkie wat wegdryf op die water. Die vyande sal die offer-plekke in Bet-El verwoes, daar waar die mense van Israel sonde gedoen het. Dorings en bossies sal op hulle altare groei. Hulle sal vir die berge en die heuwels sê: “Val op ons, maak ons toe!” Die Here het gesê: “Die mense van Israel het sonde gedoen, hulle het gedoen soos die mense van Gibea, en hulle het aangehou om sonde te doen. Daar was oorlog teen die slegte mense van Gibea, en wanneer Ek so besluit, dan sal Ek die mense van Israel ook straf. Ek sal ander volke bymekaar laat kom teen hulle om hulle te straf, want hulle het weer en weer sonde gedoen. “Die mense van Efraim was soos 'n mak jong koei wat daarvan hou om koring op die dorsvloer te trap. Toe Ek daar verbykom en Ek sien sy het 'n sterk nek, wou Ek haar inspan voor die ploeg. Juda en die nageslag van Jakob moes saam die ploeg trek en die grond gelyk maak. “Ek het vir hulle gesê: ‘Julle moet doen wat Ek wil hê, dit is die saad wat julle moet saai. Dan sal Ek lief wees vir julle, dit sal die koring wees wat julle afsny. Julle moet nou begin om op my koringland te werk. Dit is nou die tyd om te vra wat die Here wil hê. Dan sal Hy kom en Hy sal dit laat reën, sodat dit goed sal gaan met julle.’
HOSEA 10:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
ISRAEL was 'n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak. Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes. Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die HERE nie gevrees nie; en die koning — wat sou hy vir ons kan doen? Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit — en soos 'n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye. Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is. Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit. Samaría word vernietig, sy koning is soos 'n spaander op die water. En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons! Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle — moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie? Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede. Maar Efraim is 'n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep. Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.
HOSEA 10:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Israel is 'n leë wingerdstok, hy dra vir homself vrugte; volgens die menigte van sy vrugte het hy die altare vermeerder; volgens die goedheid van sy land het hulle pragtige beelde gemaak. Hulle hart is verdeeld; nou sal hulle gebrekkig bevind word; hulle altare sal hy afbreek, hulle beelde buit. Want nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, omdat ons die HERE nie gevrees het nie; wat moet 'n koning dan aan ons doen? Hulle het woorde gespreek en vals gesweer deur 'n verbond te sluit: so spruit die oordeel uit soos 'n kudde in die vore van die veld. Die inwoners van Samaria sal vrees oor die kalwers van Bet-Aven, want sy volk sal daaroor rou en sy priesters wat daaroor gejuig het, oor die heerlikheid daarvan, omdat dit daarvan weggegaan het. Dit sal ook na Assirië gebring word as 'n geskenk aan koning Jareb; Efraim sal skande ontvang, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raad. Wat Samaria betref, haar koning is afgesny soos die skuim op die water. Ook die hoogtes van Aven, die sonde van Israel, sal vernietig word; die doring en die distel sal op hulle altare opkom; en hulle sal vir die berge sê: Bedek ons; en na die heuwels: Val op ons. O Israel, jy het gesondig van die dae van Gíbea af; daar het hulle gestaan: die geveg in Gíbea teen die kinders van ongeregtigheid het hulle nie ingehaal nie. Dit is in my begeerte dat ek hulle moet tugtig; en die volk sal teen hulle versamel word as hulle hulle in hulle twee vore bind. En Efraim is soos 'n vers wat geleer word en graag koring uittrap; maar Ek het oor haar mooi nek gegaan; Ek sal Efraim laat ry; Juda sal ploeg, en Jakob sal sy kluite breek. Saai vir julle in geregtigheid, maai in barmhartigheid; breek jou braakland op, want dit is tyd om die HERE te soek totdat Hy kom en geregtigheid oor jou laat reën.