Hosea 10:1-12

Hosea 10:1-12 ABA

Die mense van Israel het baie geword. Hulle was soos wingerdstokke wat baie druiwe dra. Maar toe hulle baie word, het hulle baie altare gebou. Toe dit goed gaan met die land, het hulle mooi klip-pale gemaak. Hulle is vals, daarom is dit reg dat die Here hulle straf. Hy sal hulle altare stukkend breek en hulle klip-pale verwoes. Hulle sê nou: “Ons wil nie luister na die koning nie, want ons is nie bang vir die Here nie, en 'n koning kan ons nie help nie.” Hulle belowe baie dinge, en hulle sê die Here is die getuie, maar hulle lieg wanneer hulle dit sê. Hulle laat mense sterf wat reg gedoen het. Dit is soos wanneer die mense die giftige plante eet wat groei by die waterslote langs die koringlande. Die mense wat in die land Samaria woon, is bekommerd oor die beeld van die bul-kalf in die sondestad Bet-El. Die volk en die priesters huil en treur oor die beeld, want die vyande het alles weggevat wat by die beeld was. Hulle sal die beeld ook wegvat en hulle sal dit vir die koning van Assirië present gee. Die vyande sal die mense van Efraim spot, dan sal hulle skaam wees oor alles wat hulle wou doen. Die vyande sal die stad Samaria verwoes. Die stad en sy koning sal verdwyn. Dit sal wees soos 'n stokkie wat wegdryf op die water. Die vyande sal die offer-plekke in Bet-El verwoes, daar waar die mense van Israel sonde gedoen het. Dorings en bossies sal op hulle altare groei. Hulle sal vir die berge en die heuwels sê: “Val op ons, maak ons toe!” Die Here het gesê: “Die mense van Israel het sonde gedoen, hulle het gedoen soos die mense van Gibea, en hulle het aangehou om sonde te doen. Daar was oorlog teen die slegte mense van Gibea, en wanneer Ek so besluit, dan sal Ek die mense van Israel ook straf. Ek sal ander volke bymekaar laat kom teen hulle om hulle te straf, want hulle het weer en weer sonde gedoen. “Die mense van Efraim was soos 'n mak jong koei wat daarvan hou om koring op die dorsvloer te trap. Toe Ek daar verbykom en Ek sien sy het 'n sterk nek, wou Ek haar inspan voor die ploeg. Juda en die nageslag van Jakob moes saam die ploeg trek en die grond gelyk maak. “Ek het vir hulle gesê: ‘Julle moet doen wat Ek wil hê, dit is die saad wat julle moet saai. Dan sal Ek lief wees vir julle, dit sal die koring wees wat julle afsny. Julle moet nou begin om op my koringland te werk. Dit is nou die tyd om te vra wat die Here wil hê. Dan sal Hy kom en Hy sal dit laat reën, sodat dit goed sal gaan met julle.’