Israel is voorspoedig, soos ’n welige wingerd oortrek met vrugte. Maar hoe groter die voorspoed, hoe meer altare bou hulle vir vreemde gode. Hoe oorvloediger die land se opbrengs, hoe mooier maak hulle die klippilare. Hulle harte is vals. Hulle is skuldig. Daarom sal die HERE hulle altare afbreek en hulle klippilare stukkend slaan. Dan sal hulle sê: “Ons het geen koning nie, want ons het nie die HERE gedien nie. Maar wat sou ’n koning in elk geval vir ons kon doen?” Hulle laat die leë woorde rol, maak valse beloftes en sluit ooreenkomste wat hulle nie nakom nie. Hulle regspleging is soos giftige onkruid wat weelderig in die vore langs die landerye groei. Die inwoners van Samaria is bekommerd oor hulle kalwerbeeld in Bet-Awen. Die mense treur oor hom, en sy priesters wat hulle verheug het in sy grootsheid sal weeklaag omdat sy aansien weggeneem is. Dit sal saam met hulle na Assirië toe geneem word as ’n geskenk vir die groot koning daar. Israel sal verneder word en skaamkry omdat hulle op afgode vertrou het. Samaria sal verwoes word en sy koning sal soos ’n tak deur die water weggevoer word. Die hoogtes van boosheid waar Israel gesondig het, sal verwoes word. Dorings en onkruid sal hulle altare toegroei. Dan sal hulle vir die berge vra: “Begrawe ons!” en vir die heuwels: “Val op ons!” Die HERE sê: “Israel, sedert die dae van Gibea het julle net sonde op sonde gepleeg. Daar het julle bly staan. Weens julle boosheid sal oorlog julle sekerlik in Gibea inhaal. Ek sal kom om hulle te oordeel. Nasies sal teen hulle optrek om hulle oor hulle menigte sondes te straf. “Israel is soos ’n geleerde vers wat daarvan hou om koring uit te trap. Maar nou sit Ek ’n swaar juk op haar mooi nek. Ek sal Israel inspan; Juda moet die harde grond omploeg terwyl Jakob sal moet eg. Ek het gesê: ‘Saai die goeie saad van geregtigheid en julle sal ’n opbrengs van my liefde oes. Ploeg die nuwe grond van julle harte, want dis nou die tyd om die HERE te soek sodat Hy kan kom en geregtigheid oor julle uitstort.’
Lees HOSEA 10
Deel
Vergelyk alle weergawes: HOSEA 10:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's