Hebreërs 10:1-18

Hebreërs 10:1-18 AFR20

Die wet bevat immers net 'n afskaduwing van die toekomstige goeie dinge, nie 'n presiese weergawe daarvan nie. Daarom kan dit nooit deur dieselfde offers, wat onophoudelik jaar ná jaar gebring word, diegene wat kom aanbid, tot volmaaktheid bring nie. Sou hulle nie andersins opgehou het om offers te bring, omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie? Maar deur dié offers word hulle nou jaarliks aan hulle sondes herinner; want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem. Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld: “Offerande en offergawe wou U nie hê nie, maar 'n liggaam het U vir My voorberei; ja, •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie tevrede gestel nie. Toe het Ek gesê, ‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God! Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ” Eers sê Hy hierbo, “Offerandes en offergawes”, en “brandoffers en reinigingsoffers wou U nie hê, en het U nie tevrede gestel nie” – dit is wat volgens die wet geoffer word. Dan sê Hy: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen!” Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus •Christus, eens en vir altyd. Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Hebreërs 10:1-18

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid