HEBREËRS 10:1-18

HEBREËRS 10:1-18 NLV

Die offerstelsel onder die wet van Moses is maar net ’n skadubeeld van die goeie dinge wat sou kom, nie ’n lewensgetroue weergawe daarvan nie. Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig nie. As die offers dit wel gedoen het, sou dié wat kom aanbid het, nadat hulle een maal gereinig is, geen skuldgevoelens meer oorgehou het nie en sou hulle mos opgehou het om offers te bring. Maar nou gebeur net die teenoorgestelde. Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes, want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik die sondes wegneem. Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar: “Diere- of graanoffers is nie wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U vir My voorberei het. U was nie tevrede met brandoffers of sonde-offers nie. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil uit te voer – so staan dit van My in die Skrif geskryf.’” Eers sê Hy: “Diere- of graanoffers of brandoffers of sonde-offers wou U nie hê nie en stel U nie tevrede nie” – alhoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang. Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is. Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar ons Hoofpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat God sy vyande volledig aan Hom onderwerp het. Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar: “Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle harte en Ek sal dit in hulle verstand graveer.” Dan voeg Hy daarby: “Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.” Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HEBREËRS 10:1-18

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid