HEBREËRS 10:1-18

HEBREËRS 10:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Want die Wette van Moses is soos 'n skaduwee van die goeie dinge wat sal kom. Die wette is minder belangrik. Die wette het nie gewys dat hulle die goeie dinge self is nie. Die priesters bring elke jaar dieselfde offers, hulle hou nie op om dit te doen nie, maar hierdie offers kan nooit die mense heeltemal reinig wat na God toe kom om Hom te dien nie. As mense vir God offers bring en die offers reinig die mense net een maal, vir altyd, dan sal hulle weet dat daar nie meer sondes in hulle lewe is nie. En dan sal hulle ophou om offers vir God te bring. Maar nou laat die offers ons onthou dat ons sondes gedoen het, die offers wat die priesters elke jaar bring, want die bloed van bulle en bokke kan glad nie sondes wegneem nie. Daarom, toe Christus in die wêreld gekom het, het Hy gesê: U wou nie 'n offer en 'n present hê nie, U het my liggaam gemaak en U wil my liggaam hê. U het nie gevra dat ons brand-offers en sonde-offers moet bring nie. Toe het Ek gesê: “Kyk, Ek het gekom om te doen wat U wil hê, o God. Dit is oor My geskryf in die boek waarin u wette is.” Christus het eers gesê: U het nie offers en presente en brand-offers en sonde-offers gevra nie, en U wou nie al hierdie offers hê nie. Dit is die wette wat sê dat ons die offers moet bring. Daarna het Christus gesê: “Kyk, Ek het gekom om te doen wat U wil hê.” So stop Christus die eerste soort offer en Hy bring die tweede soort offer in daardie offers se plek. Daarom weet ons dat Jesus Christus gedoen het wat God wil hê. Jesus Christus het Homself net een maal, vir altyd, ge-offer. Daarom is ons aan God gewy. En elke priester doen elke dag sy werk en hy bring elke maal dieselfde offers. Daardie offers kan nooit die sondes wegneem nie. Maar nadat Jesus Christus net één offer vir die sondes gebring het, het Hy vir altyd gaan sit op die belangrikste plek langs God, en in die tyd wat oorbly, wag Christus daar totdat God die vyande van Christus voor Hom sal laat buig en Christus sy voete op hulle sal sit. Want omdat Hy één offer gebring het vir almal, het Hy die mense wat aan God gewy is, heeltemal gereinig. Die Heilige Gees sê ook vir ons dat dit waar is: Die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees, sê die Here: Ek sal my wette op hulle harte skryf en Ek sal dit binne-in hulle gee. Nadat die Heilige Gees hierdie dinge gesê het, het Hy ook gesê: Want Ek sal nie meer dink aan hulle sondes en aan die dinge wat hulle verkeerd gedoen het nie. Wanneer God mense se sondes vergewe, dan moet priesters nie meer sonde-offers bring nie, dit is dan nie nodig nie.

HEBREËRS 10:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT die wet, wat 'n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie. Maar in dié offers is daar jaar na jaar 'n herinnering aan die sondes; want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om u wil te doen, o God. Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie — wat volgens die wet geoffer word — het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is 'n voetbank van sy voete. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

HEBREËRS 10:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vrymaak nie. As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: “Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe.” Eers sê Hy: “Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,” hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil te doen.” Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd. Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak. Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy: “Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

HEBREËRS 10:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die wet bevat immers net 'n afskaduwing van die toekomstige goeie dinge, nie 'n presiese weergawe daarvan nie. Daarom kan dit nooit deur dieselfde offers, wat onophoudelik jaar ná jaar gebring word, diegene wat kom aanbid, tot volmaaktheid bring nie. Sou hulle nie andersins opgehou het om offers te bring, omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie? Maar deur dié offers word hulle nou jaarliks aan hulle sondes herinner; want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik sondes wegneem. Daarom sê Hy met sy koms na die wêreld: “Offerande en offergawe wou U nie hê nie, maar 'n liggaam het U vir My voorberei; ja, •brandoffers en •reinigingsoffers het U nie tevrede gestel nie. Toe het Ek gesê, ‘Kyk, hier is Ek om u wil te doen, o God! Dit is in die boekrol oor My geskryf.’ ” Eers sê Hy hierbo, “Offerandes en offergawes”, en “brandoffers en reinigingsoffers wou U nie hê, en het U nie tevrede gestel nie” – dit is wat volgens die wet geoffer word. Dan sê Hy: “Kyk, hier is Ek om u wil te doen!” Hy beëindig die eerste, sodat Hy die tweede tot stand kan bring. Volgens sy wil is ons heilig gemaak deur die offer van die liggaam van Jesus •Christus, eens en vir altyd. Elke priester staan wel dag vir dag en diens doen, en bring oor en oor dieselfde offers, wat nooit in staat is om sondes weg te neem nie; maar toe Christus vir altyd een offer ter wille van sondes gebring het, het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Sedertdien wag Hy totdat sy vyande 'n voetbank vir sy voete gemaak word. Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons; want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word 'n offer vir sondes nie meer gebring nie.

HEBREËRS 10:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want die wet wat 'n skaduwee het van toekomstige goeie dinge, en nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit met daardie offers wat hulle jaar na jaar gedurig gebring het, die wat daartoe kom, volmaak maak nie. Want sou hulle dan nie opgehou het om geoffer te word nie? omdat die aanbidders wat eenmaal gereinig is, geen gewete meer van sondes moes gehad het nie. Maar in daardie offers is daar elke jaar weer 'n herinnering aan sondes. Want dit is nie moontlik dat die bloed van bulle en bokke sondes wegneem nie. Daarom, wanneer Hy in die wêreld kom, sê Hy: Slagoffer en gawe wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. In brandoffers en sondeoffers het jy geen behae gehad nie. Ek het toe gesê: Kyk, Ek kom (in die boekrol is dit van My geskrywe) om u wil te doen, o God. Hierbo toe hy gesê het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondeoffer wou jy nie hê nie, en jy het geen behae daarin gehad nie; wat deur die wet aangebied word; Toe sê hy: Kyk, ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg, om die tweede te bevestig. Deur watter wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus eens vir altyd. En elke priester staan daagliks en bedien en bring dikwels dieselfde offers, wat nooit die sondes kan wegneem nie. Maar hierdie man, nadat hy een offer vir die sondes vir ewig gebring het, het gaan sit aan die regterhand van God; Verwag van nou af totdat sy vyande sy voetbank gemaak word. Want deur een offer het Hy die wat geheilig is, vir ewig volmaak. Waarvan ook die Heilige Gees vir ons 'n getuie is, want daarna het Hy tevore gesê: Dit is die verbond wat Ek ná dié dae met hulle sal sluit, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee en dit in hulle verstand skrywe; En aan hulle sondes en ongeregtighede sal Ek nie meer dink nie. En waar vergifnis hiervan is, is daar geen offer vir sonde meer nie.

HEBREËRS 10:1-18 Die Boodskap (DB)

Die ou wet het ons maar net ’n vae idee gegee van al die wonderlike dinge wat God nog vir ons sou doen. Dit was soos ’n skaduwee wat ’n mens waarsku dat die regte persoon op pad is. Dag na dag, jaar na jaar, het mense dieselfde offers gebring, maar dit kon nie hulle saak met God heeltemal regmaak nie. Dink net daaraan, as die offers regtig gehelp het, sou hulle mos daarmee opgehou het. Dan sou hulle saak met God mos reg gewees het en sou hulle sondes hulle nie langer gepla het nie. Maar al die offers herinner hulle nou juis aan al die foute wat hulle gedurig maak. Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie. Daarom lees ons in die Skrif dat toe Christus na die wêreld toe gekom het, Hy vir God gesê het: “Allerhande geskenke en offers is nie wat U regtig wil hê nie. Wat U wil hê, is die menslike liggaam wat U vir My gegee het. Diere wat verbrand word ter wille van al die verkeerde dinge wat mense gedoen het, stel U nie in belang nie. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen, net soos daar in die Skrif oor My geskryf is.’” Eers het Christus gepraat oor al die verskillende offers en die diere wat geslag word en dat God dit eintlik nie wil hê nie. (Die wet het wel gesê dat dit gedoen moes word.) Toe het Hy gesê: “Kyk, Ek kom om alles te doen wat U wil hê Ek moet doen.” Hy het die ou offers eenkant toe geskuif om sy eie offer te bring. So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword. Die priesters sloof hulle elke dag met dieselfde ou offers af. Hulle doen dit dagin en daguit. Die offers kan tog nooit maak dat God nie meer die verkeerde dinge raaksien wat mense doen nie. Maar met Christus is dit baie anders. Hy het net een enkele offer gebring en dit was genoeg vir altyd. Daarna het Hy op die ereplek by God in die hemel gaan sit. Daar sit Hy en wag dat God al sy vyande magteloos voor Hom op die grond gaan gooi. Deur daardie een offer van Hom het Hy alles honderd persent by God reggemaak vir elkeen wat God spesiaal Syne gemaak het. Die Heilige Gees sê vir ons dat dit so is. Eers sê die Gees: “Dit is die ooreenkoms wat ek na daardie tyd met hulle sal maak, sê die Here. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak.” En Hy voeg verder nog dit by: “Aan al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, sal Ek My nie meer steur nie.” As God Hom dan nou nie meer aan hierdie verkeerde dinge steur nie, is dit ook mos nie meer nodig om allerhande offers daarvoor te bring nie.

HEBREËRS 10:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die offerstelsel onder die wet van Moses is maar net ’n skadubeeld van die goeie dinge wat sou kom, nie ’n lewensgetroue weergawe daarvan nie. Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig nie. As die offers dit wel gedoen het, sou dié wat kom aanbid het, nadat hulle een maal gereinig is, geen skuldgevoelens meer oorgehou het nie en sou hulle mos opgehou het om offers te bring. Maar nou gebeur net die teenoorgestelde. Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes, want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik die sondes wegneem. Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar: “Diere- of graanoffers is nie wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U vir My voorberei het. U was nie tevrede met brandoffers of sonde-offers nie. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil uit te voer – so staan dit van My in die Skrif geskryf.’” Eers sê Hy: “Diere- of graanoffers of brandoffers of sonde-offers wou U nie hê nie en stel U nie tevrede nie” – alhoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang. Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is. Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar ons Hoofpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat God sy vyande volledig aan Hom onderwerp het. Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar: “Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle harte en Ek sal dit in hulle verstand graveer.” Dan voeg Hy daarby: “Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.” Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid