Habakuk 1:5-17

Habakuk 1:5-17 AFR20

“ Kyk na die nasies en let op; wees verslae, verstom; want daar gaan iets in julle dae gebeur; julle sal dit nie glo as dit vertel word nie! Ja, kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek – die verbitterde en voortvarende nasie – wat oor die breedte van die aarde gaan om woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie. Skrikwekkend, vreesaanjaend is hierdie nasie; van homself gaan sy reg en oppermag uit. Vinniger as luiperds is sy perde, ratser as wolwe in die skemer. Sy ruiters kom aangejaag, sy ruiters wat van ver af kom. Hulle vlieg soos arende wat afduik om te vreet. Elkeen is uit op geweld; hulle hele voorhoede is 'n oostewind; dit maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Hierdie nasie dryf met konings die spot, en regeerders is vir hom 'n grap. Vir elke versterkte stad lag hy; hy hoop grond teen die stadsmuur op, en neem dit in. Dan gaan die wind verder en steek grense oor; en hy word skuldig, die een wie se krag sy god is.” Bestaan U dan nie van altyd af nie, HERE, my God, my Heilige? Ons gaan tog nie sterf nie? HERE, het U hom bestem as oordeel? O Rots, het U hom beskik as teregwysing? U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou, wat nie kan toekyk waar daar leed is nie – waarom kyk U toe as mense verraderlik optree; waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle? U maak mense soos visse van die see, soos krioelende seediere wat nie 'n heerser het nie. Met sy hoek trek hy hulle almal uit; hy sleep hulle uit in sy skepnet en versamel hulle in sy fuik. Daarom is hy bly en juig; daarom offer hy vir sy skepnet en brand hy reukwerk vir sy fuik; want danksy sy nette is sy deel van die buit vet en is sy maaltyd ryk. Sal hy sy skepnet so bly uitskud en aanhou om nasies genadeloos uit te moor?

Gratis leesplanne en oordenkings oor Habakuk 1:5-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid