HABAKUK 1:5-17

HABAKUK 1:5-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Kyk na die nasies en let op; wees verslae, verstom; want daar gaan iets in julle dae gebeur; julle sal dit nie glo as dit vertel word nie! Ja, kyk, Ek gaan die Galdeërs laat optrek – die verbitterde en voortvarende nasie – wat oor die breedte van die aarde gaan om woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie. Skrikwekkend, vreesaanjaend is hierdie nasie; van homself gaan sy reg en oppermag uit. Vinniger as luiperds is sy perde, ratser as wolwe in die skemer. Sy ruiters kom aangejaag, sy ruiters wat van ver af kom. Hulle vlieg soos arende wat afduik om te vreet. Elkeen is uit op geweld; hulle hele voorhoede is 'n oostewind; dit maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Hierdie nasie dryf met konings die spot, en regeerders is vir hom 'n grap. Vir elke versterkte stad lag hy; hy hoop grond teen die stadsmuur op, en neem dit in. Dan gaan die wind verder en steek grense oor; en hy word skuldig, die een wie se krag sy god is.” Bestaan U dan nie van altyd af nie, HERE, my God, my Heilige? Ons gaan tog nie sterf nie? HERE, het U hom bestem as oordeel? O Rots, het U hom beskik as teregwysing? U wie se oë te rein is om boosheid te aanskou, wat nie kan toekyk waar daar leed is nie – waarom kyk U toe as mense verraderlik optree; waarom swyg U wanneer goddeloses dié verswelg wat regverdiger is as hulle? U maak mense soos visse van die see, soos krioelende seediere wat nie 'n heerser het nie. Met sy hoek trek hy hulle almal uit; hy sleep hulle uit in sy skepnet en versamel hulle in sy fuik. Daarom is hy bly en juig; daarom offer hy vir sy skepnet en brand hy reukwerk vir sy fuik; want danksy sy nette is sy deel van die buit vet en is sy maaltyd ryk. Sal hy sy skepnet so bly uitskud en aanhou om nasies genadeloos uit te moor?

HABAKUK 1:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het geantwoord: “Kyk na die nasies en staan verbaas! Let op en staan verstom! Ek doen iets in jou leeftyd, iets wat jy nie sou glo as iemand anders jou dit vertel nie. Ek laat toe dat die Galdeërs die nuwe wêreldmag word. Hulle is wreed en gewelddadig, ’n nasie wat die wêreld deurkruis om ander se woonplekke af te neem. Hulle is bekend vir hulle verskriklike wreedheid. Hulle doen net wat hulle wil en niemand kan hulle keer nie. Hulle perde is vinniger as luiperds. Hulle is vurige mense, erger as wolwe teen skemeraand. Soos arende duik hulle neer op hulle prooi. “Hulle beur vorentoe, gereed vir geweld. Hulle leërs kom aangestorm soos ’n wind uit die woestyn. Hulle versamel krygsgevangenes soos sand. Hulle maak ’n bespotting van konings en lag regeerders uit. Al die vestings minag hulle. Teen die mure stapel hulle grondwalle op en neem die vestings in. Hulle swiep verby soos die wind, en verdwyn. Maar hulle is skuldig, hulle verafgod hulle eie krag.” O HERE my God, my Heilige, U is daar van altyd af. Sekerlik is dit tog nie u plan om ons uit te wis nie! O HERE, ons Rots, U het die Babiloniërs aangestel om ons te straf. U is te regverdig om onreg te duld. Maar is dit vir U moontlik om met gevoeligheid te sien hoe hulle ons verswelg? Is dit reg dat U stilbly terwyl goddeloses dié verslind wat meer regverdig is as hulle? Is ons maar soos visse wat gevang en doodgemaak word? Is ons soos kruipende insekte, sonder iemand om hulle te lei? Moet ons aan hoeke gevang en met nette uitgetrek word? Hulle versamel ons met sleepnette en juig daaroor. Hulle bring offers vir hulle nette en brand wierook ter ere van hulle. Hulle sê: “Die nette laat ons in weelde leef en voorsien ons van volop kos!” Gaan U toelaat dat hulle altyd hiermee wegkom? Gaan hulle vir altyd suksesvol wees met hulle gevoellose oorwinnings?

HABAKUK 1:5-17 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gesê: “Julle moet na die volke kyk. Julle moet na hulle kyk, dan sal julle verbaas wees en nie weet wat om te sê nie. Ek sal nou iets doen, en julle sal dit nie glo wanneer mense dit vir julle vertel nie. Ek sal die Galdeërs roep. Hulle is die wrede, wilde volk wat oor die hele aarde gaan en lande vat wat nie aan hulle behoort nie. Almal is bang vir hulle, hulle doen wat hulle wil. Hulle perde is vinniger as jagluiperds en wilder as honger wolwe. Hulle soldate kom op hulle perde van ver plekke. Hulle kom so vinnig soos aasvoëls wat afduik om te kom vreet. Hulle almal kom oorlog maak, hulle jaag reguit vorentoe. Hulle vang baie mense, so baie soos sandkorrels. Hulle spot met konings en met mense wat regeer. Hulle kom maklik in 'n stad in, want hulle gooi grond teen die sterk mure en klim dan bo-oor die mure. Dan gaan hulle weg, hulle gaan verder soos die wind wat verby waai. Hulle dink hulle kan doen wat hulle wil omdat hulle sterk is.” Habakuk het gesê: “Here, U was nog altyd God. U is my God, U is my heilige God. Ons sal nie sterf nie. Here, U is die Rots wat ons beskerm, maar U het die Galdeërs gekies om ons te straf en U het hulle sterk gemaak. Ek weet U wil nie sien dat mense sonde doen nie. U wil nie kyk hoe mense verkeerd doen nie. U hou niks daarvan dat mense ander mense laat swaarkry nie. Hoekom sien U wat die Galdeërs doen, maar U doen niks? Hulle is slegte mense. Hoekom bly U stil wanneer hulle mense doodmaak wat beter is as hulle? Die mense het nie leiers gehad nie, U het hulle gemaak soos die visse in die see en soos die klein diertjies wat op die aarde kruip. Die Galdeërs vang die mense soos 'n mens visse vang met 'n hoek of in 'n net, en dan is hulle bly en hulle juig. Hulle bring dan offers en hulle brand wierook vir hulle nette, want die nette help hulle om ryk te word en lekker te eet. Here, is dit reg as die Galdeërs aanhou om mense dood te maak? Is dit reg as hulle nie jammer is vir die mense nie?”

HABAKUK 1:5-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie. Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit. En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op 'n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos 'n arend wat op sy prooi neerskiet! Hulle kom almal om geweld te pleeg; die rigting van hulle gesigte is vorentoe, sodat hy gevangenes versamel soos sand. Ook dryf hy die spot met konings, en vorste is vir hom 'n belagging; hy lag om elke vesting; hy hoop grond daarteen op en neem dit in. Dan gly hy verby, 'n wind, en trek verder — maar word skuldig, hy wie se krag sy god is. IS U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. HERE, tot 'n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot 'n tugroede het U hom bestem! U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie — waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie. Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig. Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig. Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning?

HABAKUK 1:5-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie. Ek gaan die Galdeërs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s'n is nie. Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem, hulle ken net een wet, een trots, hulle eie. Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op 'n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet. Hulle hele leërmag kom om verwoesting te saai, hulle kom aangestorm soos die oostewind en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand. Die Galdeërs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit. Hulle lag oor al die vestingstede: hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in. Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god. U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf. U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is? Die Galdeërs vang mense met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig en jubel oor die vangs! Die Galdeërs bring selfs offers vir hulle nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in weelde en het hulle volop kos! Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud, om nasies meedoënloos om die lewe te bring?

HABAKUK 1:5-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Kyk, julle onder die heidene, en aanskou en verwonder julle wonderlik, want Ek sal 'n werk in julle dae doen wat julle nie sal glo nie, al word dit vir julle gesê. Want kyk, Ek verwek die Chaldeërs, daardie bitter en haastige nasie, wat deur die breedte van die land sal trek, om die woonplekke in besit te neem wat nie aan hulle behoort nie. Hulle is vreeslik en verskriklik: hulle oordeel en hulle waardigheid kom uit hulleself. En hulle perde is vinniger as die luiperds en is feller as die aandwolwe; hulle sal vlieg soos 'n arend wat haastig eet. Hulle sal almal kom vir geweld; hulle aangesigte sal suig soos die oostewind, en hulle sal die ballingskap bymekaarmaak soos die sand. En hulle sal met die konings spot, en die vorste sal vir hulle 'n spot wees; hulle sal elke vesting bespot; want hulle sal stof ophoop en dit neem. Dan sal sy gedagtes verander, en hy sal verbygaan en aanstoot neem deur sy god sy mag toe te reken. Is U nie van ewigheid af nie, HERE my God, my Heilige? ons sal nie sterf nie. O HERE, U het hulle aangestel tot oordeel; en, o magtige God, U het hulle bevestig tot teregwysing. Jy het suiwerder oë as om onheil te aanskou, en jy kan die ongeregtigheid nie aanskou nie; waarom kyk jy na die wat troueloos handel, en hou jou tong wanneer die goddelose die man opeet wat regverdiger is as hy? En maak mense soos die visse van die see, soos die kruipende diere wat geen heerser oor hulle het nie? Hulle neem hulle almal op met die hoek, hulle vang hulle in hulle net en versamel hulle in hulle sleep; daarom is hulle bly en juig. Daarom offer hulle vir hulle net en laat rook opgaan vir hulle sleep; want by hulle is hulle deel vet en hulle vleis volop. Sal hulle dan hul net leegmaak en nie gedurigdeur spaar om die nasies dood te maak nie?

HABAKUK 1:5-17 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe vir die mense van Juda gesê: Hou ’n bietjie die ander volke om julle dop. Ek het binnekort ’n groot verrassing vir julle. As iemand julle daarvan sou vertel het, sou julle hom nie geglo het nie. Hier is dit: Ek maak die Babiloniërs die mag wat al die volke in die wêreld sal oorheers. Hulle reputasie is oral bekend, hulle is ’n wrede en woeste spul mense. Hulle stuur hulle soldate die wêreld vol en dan neem hulle lande in. As mense net aan hulle dink, dan raak hulle bang en lam van vrees. Hulle is so arrogant, hulle maak hulle eie wette oor wat reg en verkeerd is. Hulle soldate wat op perde ry, maak ook groot indruk. Hulle perde lyk so vinnig dat ’n mens die idee kry dat hulle vinniger as luiperds is en skrikwekkender as honger wolwe. Hulle ruiters kom van ver af aangejaag en sak dan nes arende soos blits op hulle prooi toe. Hulle leërs het net een doel en dit is om mense links en regs dood te maak. Hulle ken net een rigting en dit is vorentoe. Hulle het al so baie mense gevang dat hulle te veel is om te tel. Die Babiloniërs het respek vir niks en niemand nie. Hulle dryf die spot met konings en verkleineer regeringsleiers. Hulle laat hulle ook nie afsit deur die hoë veiligheidsmure wat om stede gebou is nie. Hulle hoop doodeenvoudig grond daarteen op en klim dan oor die mure en neem die stad in. Daarna swiep hulle soos die wind voort en verdwyn net. Vir hierdie mense is hulle eie mag hulle god. Hulle glo hulle mag kan nie misluk nie. Here, U was van altyd af daar en sal altyd daar wees. My God, U is volmaak, ’n mens kan nie anders nie as om U te aanbid. Here, by U het ons ook nog altyd veilig gevoel, maar nou het U die Babiloniërs aangestel om te wys dat ons skuldig is. U gebruik hulle om ons te straf vir alles wat ons verkeerd gedoen het. U is so volmaak dat dit onmoontlik is om te dink dat U sulke verkeerde dinge sal sien gebeur en dit doodgewoon sal aanvaar. Hoe is dit dan moontlik dat U sien wat hierdie boosdoeners aanvang en stilbly daaroor? Hulle wis mense uit wat beter as hulle leef. Hoe kan U mense so sonder beskerming los soos visse in die see wat enigeen sommer kan vang of soos ’n swerm insekte wat nie ’n leier het nie? Visse word met ’n hoek gevang of in nette bymekaargemaak en weggesleep. Die Babiloniërs werk net so gevoelloos met mense en dan is hulle baie in hulle skik met wat hulle regkry. Hulle maak soos vissers wat hulle nette en hengelgereedskap aanbid asof dit gode is. Hulle bring vir die gereedskap offers en brand wierook omdat dit hulle ryk maak en sorg vir ’n oorvloed kos. Here, gaan U toelaat dat hierdie vyand vir altyd so aanhou om genadeloos met volke te werk en hulle dood te maak?

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid