HABAKUK 1:5-17

HABAKUK 1:5-17 NLV

Die HERE het geantwoord: “Kyk na die nasies en staan verbaas! Let op en staan verstom! Ek doen iets in jou leeftyd, iets wat jy nie sou glo as iemand anders jou dit vertel nie. Ek laat toe dat die Galdeërs die nuwe wêreldmag word. Hulle is wreed en gewelddadig, ’n nasie wat die wêreld deurkruis om ander se woonplekke af te neem. Hulle is bekend vir hulle verskriklike wreedheid. Hulle doen net wat hulle wil en niemand kan hulle keer nie. Hulle perde is vinniger as luiperds. Hulle is vurige mense, erger as wolwe teen skemeraand. Soos arende duik hulle neer op hulle prooi. “Hulle beur vorentoe, gereed vir geweld. Hulle leërs kom aangestorm soos ’n wind uit die woestyn. Hulle versamel krygsgevangenes soos sand. Hulle maak ’n bespotting van konings en lag regeerders uit. Al die vestings minag hulle. Teen die mure stapel hulle grondwalle op en neem die vestings in. Hulle swiep verby soos die wind, en verdwyn. Maar hulle is skuldig, hulle verafgod hulle eie krag.” O HERE my God, my Heilige, U is daar van altyd af. Sekerlik is dit tog nie u plan om ons uit te wis nie! O HERE, ons Rots, U het die Babiloniërs aangestel om ons te straf. U is te regverdig om onreg te duld. Maar is dit vir U moontlik om met gevoeligheid te sien hoe hulle ons verswelg? Is dit reg dat U stilbly terwyl goddeloses dié verslind wat meer regverdig is as hulle? Is ons maar soos visse wat gevang en doodgemaak word? Is ons soos kruipende insekte, sonder iemand om hulle te lei? Moet ons aan hoeke gevang en met nette uitgetrek word? Hulle versamel ons met sleepnette en juig daaroor. Hulle bring offers vir hulle nette en brand wierook ter ere van hulle. Hulle sê: “Die nette laat ons in weelde leef en voorsien ons van volop kos!” Gaan U toelaat dat hulle altyd hiermee wegkom? Gaan hulle vir altyd suksesvol wees met hulle gevoellose oorwinnings?

Gratis leesplanne en oordenkings oor HABAKUK 1:5-17

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid