Genesis 6:9-21

Genesis 6:9-21 AFR20

Hier volg die familiegeskiedenis van Noag. Noag was 'n •regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef. Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was deur en deur sleg voor God; die aarde was vol geweld. God het gekyk na die aarde, en kyk, dit was deur en deur sleg; want alle mense het 'n verderflike pad geloop op die aarde. God het vir Noag gesê: “Die einde van alle mense het, volgens my besluit, aangebreek; want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Kyk, Ek gaan hulle verdelg saam met die aarde. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet die ark maak met verskillende ruimtes en dit van binne en van buite met pik bestryk. Dit is hoe jy dit moet maak: die lengte van die ark driehonderd •el, sy breedte vyftig el en sy hoogte dertig el. 'n Dak moet jy vir die ark maak – een el vanaf die boonste rand moet jy dit afrond. Die opening van die ark moet jy aan die sykant insit. 'n Onderste, middelste en derde verdieping moet jy maak. En Ek, kyk, Ek gaan vloedwaters oor die aarde bring om alle vlees waarin die asem van lewe is onder die hemel te verdelg. Alles wat op die aarde is, sal omkom. Maar met jou sluit Ek my verbond. Jy sal in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. Van alles wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk na die ark bring om hulle saam met jou aan die lewe te hou. Manlik en vroulik moet hulle wees. Van elke soort voël, van elke soort dier, van elke soort kruipende dier op die grond, sal twee van elk na jou toe kom om aan die lewe te bly. En jy, neem van elke soort kos wat geëet word, en bring dit bymekaar by jou. Dit moet vir jou en vir hulle as kos dien.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 6:9-21

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid