GENESIS 6:9-21

GENESIS 6:9-21 Bybel vir almal (ABA)

Hier is die verhaal van Noag. Noag was 'n goeie en regverdige man. Hy het nie gelewe soos die ander mense van daardie tyd nie. Noag het God gedien en naby Hom gelewe. Noag het drie seuns gehad. Hulle name was Sem, Gam en Jafet. God het gesien al die ander mense op die aarde is sleg en wreed. God het na die aarde gekyk en gesien die mense is almal baie sleg. Daarom het God vir Noag gesê: “Ek het besluit om al die mense op die aarde dood te maak, want hulle is wreed, hulle het die hele aarde sleg gemaak. Jy moet 'n ark maak van hout. Jy moet kamers in die ark maak en jy moet teer binne en buite aan die hout verf. Die teer sal die hout dig toemaak sodat die water nie kan inkom nie. “Dit is hoe groot jy die ark moet maak: Die ark moet 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog wees. Jy moet 'n deksel bo-op die ark maak en dit moet een el hoog wees. Jy moet ook 'n deur aan die kant van die ark insit en daar moet drie verdiepings wees: onder, middel en bo. “Ek sal nou 'n groot watervloed oor die aarde bring, Ek sal al die mense en diere op die aarde doodmaak. Alles wat op die aarde lewe, sal doodgaan. “Maar met jóú maak Ek 'n verbond. “Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. Jy moet ook 'n mannetjie en 'n wyfie van elke soort dier saam met jou in die ark neem, sodat hulle saam met jou kan aanhou lewe. Jy moet twee van elke soort dier saam met jou neem. Hulle sal na jou toe kom en hulle moet saam met jou aanhou lewe. Jy moet ook genoeg kos vir julle en vir die diere bymekaarmaak en saamneem om te eet.”

GENESIS 6:9-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was 'n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. En Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en — dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe. En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk. Só moet jy dit maak: driehonderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. 'n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van 'n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met 'n onderste, tweede en derde verdieping maak. Want kyk, Ék bring 'n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar 'n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe. Maar met jou sal Ek my verbond oprig; jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en die vroue van jou seuns saam met jou. En van al wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elke soort in die ark laat ingaan om dit saam met jou in die lewe te hou: mannetjie en wyfie moet hulle wees. Van die voëls volgens hulle soorte en van die vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort, moet na jou kom om in die lewe te bly. En jy, neem vir jou van al die voedsel wat geëet word, en versamel dit by jou, dat dit vir jou en hulle as voedsel kan dien.

GENESIS 6:9-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hier volg die verhaal van Noag. Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot. Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. “Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy hoogte dertien en 'n half meter. Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak. “Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom, maar met jou wil Ek 'n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly. Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly. Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees.”

GENESIS 6:9-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hier volg die familiegeskiedenis van Noag. Noag was 'n •regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef. Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was deur en deur sleg voor God; die aarde was vol geweld. God het gekyk na die aarde, en kyk, dit was deur en deur sleg; want alle mense het 'n verderflike pad geloop op die aarde. God het vir Noag gesê: “Die einde van alle mense het, volgens my besluit, aangebreek; want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Kyk, Ek gaan hulle verdelg saam met die aarde. Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet die ark maak met verskillende ruimtes en dit van binne en van buite met pik bestryk. Dit is hoe jy dit moet maak: die lengte van die ark driehonderd •el, sy breedte vyftig el en sy hoogte dertig el. 'n Dak moet jy vir die ark maak – een el vanaf die boonste rand moet jy dit afrond. Die opening van die ark moet jy aan die sykant insit. 'n Onderste, middelste en derde verdieping moet jy maak. En Ek, kyk, Ek gaan vloedwaters oor die aarde bring om alle vlees waarin die asem van lewe is onder die hemel te verdelg. Alles wat op die aarde is, sal omkom. Maar met jou sluit Ek my verbond. Jy sal in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. Van alles wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk na die ark bring om hulle saam met jou aan die lewe te hou. Manlik en vroulik moet hulle wees. Van elke soort voël, van elke soort dier, van elke soort kruipende dier op die grond, sal twee van elk na jou toe kom om aan die lewe te bly. En jy, neem van elke soort kos wat geëet word, en bring dit bymekaar by jou. Dit moet vir jou en vir hulle as kos dien.”

GENESIS 6:9-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dit is die geslagte van Noag: Noag was 'n regverdige man en volmaak in sy geslagte, en Noag het met God gewandel. Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet. Die aarde was ook verdorwe voor God, en die aarde was vol geweld. God het na die aarde gekyk, en kyk, dit was verdorwe; want alle vlees het sy weg op die aarde verderf. God het vir Noag gesê: Die einde van alle vlees het voor my aangesig gekom; want die aarde is deur hulle vol geweld; en kyk, Ek sal hulle saam met die aarde vernietig. Maak vir jou 'n ark van goferhout; kamers moet jy in die ark maak en dit van binne en van buite met pik smeer. Dit is die manier waarop jy dit moet maak: Die lengte van die ark moet driehonderd el wees, sy breedte vyftig el en die hoogte daarvan dertig el. 'n Venster moet jy vir die ark maak, en op 'n el moet jy dit bo voltooi; en die ingang van die ark moet jy aan die sykant sit; met 'n onderste, tweede en derde verdiepings moet jy dit maak. En kyk, Ek bring ook 'n watervloed oor die aarde om alle vlees waarin die asem van die lewe is, van onder die hemel af te vernietig; en alles wat op die aarde is, sal sterwe. Maar met jou sal Ek my verbond oprig; en jy moet in die ark gaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. En van al die lewende wesens van alle vlees, twee van elke soort moet jy in die ark bring om dit saam met jou in die lewe te hou; hulle sal man en vrou wees. Van voëls volgens hulle soorte en van vee volgens hulle soorte, van al die kruipende diere van die aarde volgens hulle soorte, twee van elke soort sal na jou toe kom om hulle in die lewe te hou. En neem vir jou van al die spys wat geëet word, en jy moet dit vir jou bymekaarmaak; en dit sal vir jou en vir hulle as voedsel dien.

GENESIS 6:9-21 Die Boodskap (DB)

Van Noag kan ’n mens net mooi dinge sê. Hy was ’n goeie man. Hy het die regte dinge gedoen en naby aan die Here geleef. Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. In die oë van God was die aarde vol boosheid. Oral was daar korrupsie en wetteloosheid. God het geweet wat op die aarde aangaan. Hy het gesien hoe mens en dier dag vir dag net slegter word. God het Noag eenkant toe geroep en vir hom gesê: “Ek het besluit om alles en almal op hierdie aarde te verwoes. Kyk net hoe besoedel hulle die aarde met hulle geweld en wetteloosheid. Ek is op die punt om die hele aarde te vernietig. “Bou nou vir jou ’n boot van goferhout. Maak aan die binnekant sommer ’n klomp kamers. Sorg dat jy alles waterdig maak. Smeer dit binne en buite goed met pik. So moet jy dit bou: die lengte van die ark moet 135 meter wees, sy breedte 22,5 meter en sy hoogte 13,5 meter. Maak ook vir die ark ’n dak met ’n spitsnok van 45 sentimeter. Sit ’n deur aan die kant van die ark in. En verdeel die ark in ’n onderste, ’n middelste en ’n boonste verdieping. “Ek gaan ’n groot vloed oor die aarde loslaat. Die water gaan alles vernietig. Alle mense en diere, ja, alles wat lewe, sal doodgaan. Niemand sal hierdie ramp oorleef nie. Maar met jou sal Ek ’n ooreenkoms maak. As die water kom, moet jy en jou familie in die ark ingaan, maar julle moet ’n klomp diere saamneem. Van alles wat leef, moet jy twee-twee saam met jou die ark invat. Sorg dat dit ’n mannetjie en ’n wyfie is. Van alle soorte voëls, van alle soorte vee en van alles wat op die aarde kruip, moet jy twee vat. Hulle moet saam met jou in die ark bly. “Jy moet ook vir genoeg kos sorg. Jy moet genoeg saamvat en in die ark wegpak sodat julle en die diere altyd kos sal hê om te eet.”

GENESIS 6:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wat volg, is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n opregte man, die enigste onberispelike persoon in daardie tyd. Hy het God se wil deurgaans uitgeleef en ’n noue verhouding met Hom gehad. Noag het drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet. Teen hierdie tyd was die aarde volgens die oordeel van God korrup en vol geweld. God het al hierdie korrupsie in die wêreld gesien. Oral waar Hy gekyk het, was daar geweld en bederf. Daarop sê God vir Noag: “Ek het besluit om alle lewende wesens te vernietig, want dis as gevolg van hulle dat die aarde vol geweld is. Ek gaan hulle almal verseker tot niet maak. Jy moet ’n groot ark van goferhout maak met verskillende vertrekke binne-in. Verseël dit binne en buite met teer. Dit moet 135 meter lank, 22,5 meter breed en 13,5 meter hoog wees. Voorsien dit van ’n dak waarvan die nok 45 sentimeter hoog is. Dit moet drie verdiepings hê en ’n deur aan die kant. “Let op! Ek gaan vloedwaters oor die aarde laat kom wat elke lewende wese onder die son sal uitwis. Alles op aarde sal doodgaan. Maar met jou sluit Ek ’n verbond. Jy, jou vrou, jou seuns en hulle vroue moet ingaan in die ark. Van elke soort dier moet jy ’n paar – ’n mannetjie en ’n wyfie – in die ark besorg sodat hulle saam met jou die vloed kan oorleef. Twee van elke soort voël en dier, klein en groot, sal na jou toe kom. Jy moet hulle in die ark aan die lewe hou. Maak seker dat jy genoeg kos inlaai vir jou gesin en vir al die diere.”