GENESIS 6:9-21

GENESIS 6:9-21 NLV

Wat volg, is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n opregte man, die enigste onberispelike persoon in daardie tyd. Hy het God se wil deurgaans uitgeleef en ’n noue verhouding met Hom gehad. Noag het drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet. Teen hierdie tyd was die aarde volgens die oordeel van God korrup en vol geweld. God het al hierdie korrupsie in die wêreld gesien. Oral waar Hy gekyk het, was daar geweld en bederf. Daarop sê God vir Noag: “Ek het besluit om alle lewende wesens te vernietig, want dis as gevolg van hulle dat die aarde vol geweld is. Ek gaan hulle almal verseker tot niet maak. Jy moet ’n groot ark van goferhout maak met verskillende vertrekke binne-in. Verseël dit binne en buite met teer. Dit moet 135 meter lank, 22,5 meter breed en 13,5 meter hoog wees. Voorsien dit van ’n dak waarvan die nok 45 sentimeter hoog is. Dit moet drie verdiepings hê en ’n deur aan die kant. “Let op! Ek gaan vloedwaters oor die aarde laat kom wat elke lewende wese onder die son sal uitwis. Alles op aarde sal doodgaan. Maar met jou sluit Ek ’n verbond. Jy, jou vrou, jou seuns en hulle vroue moet ingaan in die ark. Van elke soort dier moet jy ’n paar – ’n mannetjie en ’n wyfie – in die ark besorg sodat hulle saam met jou die vloed kan oorleef. Twee van elke soort voël en dier, klein en groot, sal na jou toe kom. Jy moet hulle in die ark aan die lewe hou. Maak seker dat jy genoeg kos inlaai vir jou gesin en vir al die diere.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor GENESIS 6:9-21

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid