Genesis 47:1-11

Genesis 47:1-11 AFR20

Josef het gegaan, die farao ingelig en gesê: “My vader en my broers met hulle kleinvee en grootvee en alles wat aan hulle behoort, het uit die land Kanaän hier aangekom. Hulle is nou daar in die Gosenstreek.” Uit sy broers se geledere het hy vyf manne geneem en hulle voor die farao gebring. Die farao het vir sy broers gevra: “Wat is julle daaglikse werk?” Hulle het die farao geantwoord: “U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons voorvaders.” Hulle sê toe vir die farao: “Ons het gekom om net as •vreemdelinge in die land te woon, want daar is nie weiding vir die kleinvee wat aan u dienaars behoort nie; ja, die hongersnood is erg in die land Kanaän. Laat u dienaars asseblief dan nou in die Gosenstreek bly.” Die farao het vir Josef gesê: “Jou vader en jou broers het na jou toe gekom. Egipteland lê oop voor jou. Laat woon jou vader en jou broers in die beste deel van die land. Hulle mag in die Gosenstreek bly. As daar na jou wete bekwame manne onder hulle is, moet jy hulle aanstel as kuddebestuurders oor my vee.” Josef het daarna sy vader Jakob ingebring en hom voor die farao laat staan. Jakob het die farao met 'n seënwens gegroet. Toe vra die farao vir Jakob, “Hoeveel lewensjare het u agter die rug?” Jakob het die farao geantwoord: “My vreemdelingskap was honderd-en-dertig jaar lank. Min en vol teenspoed was my lewensjare – nie naastenby die lewensjare van my voorvaders in die tyd van hulle vreemdelingskap nie.” Jakob het die farao geseën en uit die farao se teenwoordigheid vertrek. Josef het sy vader en sy broers woonplek gegee. Hy het aan hulle erfgrond gegee in Egipteland, in die beste deel van die land, in die gebied Ramses, soos die farao beveel het.

Video vir Genesis 47:1-11