GENESIS 47:1-11

GENESIS 47:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Josef het na die farao toe gegaan en vir hom gesê: “My pa en my broers het van Kanaän gekom en hulle is nou in Gosen. Hulle het hulle diere en alles wat hulle het, saamgebring.” Josef het vyf van sy broers saamgeneem na die farao toe. Die farao het vir hulle gevra: “Watter soort werk doen julle?” Hulle het geantwoord: “Ons is veeboere, ons en ons voorvaders voor ons.” Hulle het ook vir die farao gesê: “Mag ons vreemdelinge word in jou land? Want in Kanaän is daar nie meer gras vir ons skape en bokke nie. Daar is baie min kos. Mag ons asseblief in Gosen woon?” Die farao het vir Josef gesê: “Jou pa en jou broers het na jou toe gekom. Hulle mag enige plek in Egipte woon. Kies die beste deel van die land vir jou pa en jou broers. Hulle mag in Gosen woon. As hulle goeie skaapwagters is, dan moet jy vir hulle sê om my skape ook op te pas.” Josef het sy pa gebring om die farao te ontmoet. Jakob het die farao gegroet en gesê hy hoop dit sal goed gaan met die farao. Die farao vra toe vir Jakob: “Hoe oud is jy?” Jakob het vir die farao gesê: “Ek is 130 jaar oud. Die Here het gesê dit is hoeveel jaar ek hier op die aarde mag woon. My voorvaders het ouer geword, maar ek het baie swaar gekry.” Jakob het toe vir die farao gegroet en hy het weggegaan. Josef het vir sy pa en sy broers die beste deel van Egipte gegee om in te woon, soos die farao gesê het. Dit was by die stad Rameses en dit het hulle eie grond geword.

GENESIS 47:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROP het Josef gekom en aan Farao vertel en gesê: My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kanaän, en daar is hulle nou in die land Gosen. En hy het uit die getal van sy broers vyf man saamgeneem en hulle aan Farao voorgestel. Toe sê Farao aan sy broers: Wat is julle nering? En hulle antwoord Farao: U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons vaders. Verder sê hulle vir Farao: Ons het gekom om as vreemdelinge in die land te vertoef, want daar is geen weiding vir die kleinvee van u dienaars nie, omdat die hongersnood in die land Kanaän swaar is. Laat u dienaars dan nou tog in die land Gosen woon. Daarop het Farao met Josef gespreek en gesê: Jou vader en jou broers het na jou gekom. Egipteland lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land woon; hulle kan in die land Gosen woon. En as jy weet dat daar onder hulle bekwame manne is, stel hulle dan aan as vee-opsigters oor my eiendom. Toe bring Josef sy vader Jakob in en stel hom aan Farao voor. En Jakob het Farao gegroet met 'n seënwens. Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare? En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd-en-dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie. Toe het Jakob Farao gegroet met 'n seënwens en van Farao af weggegaan. En Josef het vir Jakob en sy broers woonplekke aangewys en aan hulle besitting in Egipteland gegee, in die beste deel van die land, in die landstreek Raämses, soos Farao beveel het.

GENESIS 47:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josef het gegaan, die farao ingelig en gesê: “My vader en my broers met hulle kleinvee en grootvee en alles wat aan hulle behoort, het uit die land Kanaän hier aangekom. Hulle is nou daar in die Gosenstreek.” Uit sy broers se geledere het hy vyf manne geneem en hulle voor die farao gebring. Die farao het vir sy broers gevra: “Wat is julle daaglikse werk?” Hulle het die farao geantwoord: “U dienaars is herders van kleinvee, ons sowel as ons voorvaders.” Hulle sê toe vir die farao: “Ons het gekom om net as •vreemdelinge in die land te woon, want daar is nie weiding vir die kleinvee wat aan u dienaars behoort nie; ja, die hongersnood is erg in die land Kanaän. Laat u dienaars asseblief dan nou in die Gosenstreek bly.” Die farao het vir Josef gesê: “Jou vader en jou broers het na jou toe gekom. Egipteland lê oop voor jou. Laat woon jou vader en jou broers in die beste deel van die land. Hulle mag in die Gosenstreek bly. As daar na jou wete bekwame manne onder hulle is, moet jy hulle aanstel as kuddebestuurders oor my vee.” Josef het daarna sy vader Jakob ingebring en hom voor die farao laat staan. Jakob het die farao met 'n seënwens gegroet. Toe vra die farao vir Jakob, “Hoeveel lewensjare het u agter die rug?” Jakob het die farao geantwoord: “My vreemdelingskap was honderd-en-dertig jaar lank. Min en vol teenspoed was my lewensjare – nie naastenby die lewensjare van my voorvaders in die tyd van hulle vreemdelingskap nie.” Jakob het die farao geseën en uit die farao se teenwoordigheid vertrek. Josef het sy vader en sy broers woonplek gegee. Hy het aan hulle erfgrond gegee in Egipteland, in die beste deel van die land, in die gebied Ramses, soos die farao beveel het.

GENESIS 47:1-11 Die Boodskap (DB)

Josef het toe alles vir die farao gaan vertel en gesê: “My pa en my broers het toe uiteindelik veilig uit Kanaän hier aangekom. Hulle het al hulle vee en besittings saamgebring. Hulle woon op die oomblik in die omgewing van Gosen.” Josef het vooraf vyf van sy broers gevra om saam met hom na die koning toe te gaan. Die koning het vir hulle gevra: “Wat is julle beroep?” Hulle het gesê: “Ons boer met kleinvee, U Majesteit. Net soos ons voorouers al jare lank doen. Ons het Egipte toe gekom om hier ’n weiplek vir ons vee te soek. Die hongersnood in Kanaän is so erg dat daar geen kos vir mens of dier meer is nie. Eintlik is ons vreemdelinge hier, maar ons wil U Majesteit tog vra of ons nie in Gosen kan aanbly nie.” Die farao het hom na Josef toe gedraai en gesê: “Uiteindelik is jou pa en jou broers hier! Egipte lê vir hulle oop. Laat jou pa en jou broers in die beste dele van die land gaan bly. As hulle egter van Gosen hou, kan hulle daar aanbly. En as daar van jou broers is wat goeie veeboere is, kan hulle my veekuddes oppas.” Toe het Josef Jakob laat binnekom en hom aan die koning voorgestel. Jakob het voor hom gebuig en die koning gegroet. “Hoe oud is jy, Jakob?” het die koning gevra. “Ek is al 130 jaar oud, U Majesteit,” het Jakob geantwoord. “Dit is eintlik nie oud nie. In vergelyking met my voorvaders is my jare maar min. My lewe was egter hard en vol swaarkry.” Na ’n ruk het Jakob die koning gegroet en vertrek. Josef het sy pa en broers gehelp om in Egipte gevestig te raak. Hy het hulle in Ramses, die beste deel van Gosen, laat woon en toegesien dat hulle grondregte besit. En hy het gemaak soos die koning gesê het.