GENESIS 47:1-11

GENESIS 47:1-11 NLV

Josef het na die farao toe gegaan en aan hom gerapporteer: “My pa en my broers is hier van Kanaän af. Hulle het met al hulle kleinvee en grootvee en ander besittings gekom en is nou in die Gosenstreek.” Josef het vyf van sy broers met hom saamgeneem en hulle aan die farao voorgestel. Die farao vra vir hulle: “Wat is julle beroep?” Hulle antwoord hom: “Ons is veeboere soos ons voorouers. Ons het gekom om as vreemdelinge hier in Egipte te woon, want daar is in Kanaän geen weiding meer vir ons vee nie. Die hongersnood is daar baie swaar. Ons vra u toestemming om in die Gosenstreek te woon.” Die farao sê vir Josef: “Aangesien jou familie hulle nou by jou aangesluit het, kies gerus enige plek waar hulle kan woon. Gee hulle die beste van die land Egipte. Die Gosenstreek sal goed wees. As enigeen van hulle oor besondere vaardighede beskik, laat hulle ook oor my veeboerdery toesig hou.” Josef het ook vir Jakob, sy pa, gebring en hom aan die farao voorgestel. Jakob het die farao geseën. “Hoe oud is jy?” vra die farao. “Ek lewe al 130 jaar as ’n vreemdeling,” antwoord Jakob. “In vergelyking met my voorouers is my jare min, maar egter vol swaarkry.” Net voordat hy vertrek, het Jakob weer die farao met ’n seën gegroet. Josef het toe die beste deel van Egipte, die land van Rameses, aan sy pa en broers gegee om hulle daar te vestig, net soos die farao beveel het.

Video vir GENESIS 47:1-11