Nadat Ragel aan Josef geboorte gegee het, het Jakob vir Laban gesê: “Laat my gaan, sodat ek na my plek en my land kan gaan. Gee vir my my vroue en my kinders, vir wie ek vir jou gewerk het, sodat ek kan gaan, want jy weet self watter werk ek vir jou gedoen het.” Laban het hom geantwoord: “As jy my asseblief net goedgesind sal wees! Ek het uit voortekens te wete gekom dat die HERE my geseën het om jou ontwil. ” Verder sê hy: “Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit vir jou gee.” Hy het hom geantwoord: “Jy weet self hoe ek vir jou gewerk het, en wat met jou veestapel by my gebeur het. Ja, min het jy gehad voor my koms, maar dit het geweldig toegeneem, en die HERE het jou geseën waar my voet getrap het. Maar nou, wanneer kan ek ook iets vir mý huis doen?” Laban het gevra: “Wat moet ek vir jou gee?” Jakob het geantwoord: “Jy hoef my nie enigiets te gee nie. As jy die volgende vir my doen, sal ek weer jou kleinvee laat wei en oppas: Ek sal vandag al jou kleinvee deurgaan en elke bont en gevlekte dier uitkeer – elke donkerkleurige dier onder die jong skape, en die gevlektes en bontes onder die bokke. Dit sal my loon wees. My eerlikheid sal in die toekoms vir my getuig wanneer jy kom om my loon na te gaan. Alles wat nie bont en gevlek is onder die bokke, of donkerkleurig is onder die jong skape nie, sal gesteelde goedere by my wees.”
Laban het gesê: “Goed, as dit maar net gebeur soos jy sê!” Hy het egter dieselfde dag die gestreepte en gevlekte bokramme en al die bont en gevlekte bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en al die donkerkleuriges onder die jong skape, uitgekeer en hulle in die sorg van sy seuns gelaat. Hy het 'n afstand van drie dagreise tussen hom en Jakob gehandhaaf. Jakob het die res van Laban se kleinvee laat wei.
Jakob het groen latte van populiere, amandelbome en platane geneem. Hy het stroke bas daarvan afgeskil om die wit van die latte te ontbloot. Toe sit hy die takke wat hy geskil het, in die waterbakke reg voor die kleinvee, in die drinkbakke waarheen die kleinvee kom om te drink. Hulle het bronstig geraak wanneer hulle kom om te drink. So het die kleinvee by die latte bronstig geraak, en die kleinvee het gestreepte, bont en gevlekte lammers gekry. Jakob het dié jong skape afgesonder. Hy het die kleinvee laat kyk in die rigting van die gestreeptes en al die donkerkleuriges onder Laban se kleinvee. So het Jakob vir homself afsonderlike kuddes opgebou en hulle nie saam met Laban se kleinvee aangehou nie.
Telkens wanneer ook al die sterkste ooie bronstig was, het Jakob die latte in die waterbakke neergesit, voor die oë van die kleinvee, sodat hulle by die latte bronstig kon wees. Wanneer die kleinvee egter swak was, het hy dit nie neergesit nie. Die swakkes was vir Laban en die sterkes vir Jakob. Die man se besittings het geweldig uitgebrei. Hy het baie kleinvee, slavinne, slawe, kamele en donkies gehad.