GENESIS 30:25-43

GENESIS 30:25-43 NLV

Kort nadat Josef gebore is, sê Jakob vir Laban: “Stel my vry, want ek wil na my geboorteland toe teruggaan. Laat my toe om met my vroue en kinders te vertrek. Pa weet dat ek ten volle vir hulle betaal het deur vir Pa te werk.” “Moenie nou al gaan nie,” sê Laban. “Ek het agtergekom dat die HERE my geseën het omdat jy by my is. Hoeveel moet ek jou betaal vir jou dienste? Sê net, en ek sal dit betaal.” Jakob antwoord: “Pa weet hoe hard ek vir Pa gewerk het en hoe Pa se troppe vee groter geword het. Pa het maar min gehad toe ek hier gekom het, maar sedertdien het Pa se rykdom baie toegeneem. Die HERE het Pa geseën in alles wat ek vir Pa onderneem het. Maar nou, wat van my? Wanneer kan ek vir my eie gesin voorsiening maak?” “Watter vergoeding wil jy hê?” vra Laban weer. Jakob antwoord hom: “Moenie my iets betaal nie. As u my die volgende toelaat, sal ek nog steeds Pa se vee oppas. Gee my vandag al die skape en bokke wat bont of gevlek is saam met die swart gekleurde skape. Dít sal my beloning wees. Dit sal vir Pa maklik wees om te sien of ek eerlik is of nie. As Pa onder my vee enige skape of bokke kry wat nie bont is nie, sal Pa weet dat ek hulle van Pa gesteel het.” “Dis goed,” sê Laban. “Laat dit wees soos jy voorgestel het.” Daardie selfde dag nog het Laban veld toe gegaan en al die bokramme wat bont en gevlek is, al die ooie wat gevlek en bont is, alles met wit kolle en ook die swart skape uitgekeer. Hy het hierdie vee aan sy seuns gegee om op te pas. Hy het hulle wég van Jakob af verskuif, drie dae se trek ver. Jakob self het agtergebly en Laban se vee opgepas. Jakob het toe vars lote van populiere, amandels en plataanbome geneem en stroke van die bas afgetrek sodat daar wit strepe daarop was. Toe sit hy die lote wat hy afgestroop het in die waterbakke waar Laban se vee kom drink het. Wanneer die ooie op hitte was en hulle kom drink, is hulle voor die lote gedek. Wanneer hulle voor die witgestreepte lote gedek is, was al hulle lammers gestreep, bont en gevlek. Jakob het hierdie lammers uit Laban se kuddes uitgekeer. Wanneer die ander op hitte was, het hy hulle gedraai sodat die kuddes die gestreepte en swart ramme in Laban se kudde sien. Op hierdie manier het hy sy eie kudde uit Laban s’n opgebou. Wanneer die sterker ooie op hitte was, het Jakob die gestroopte lote voor hulle neergesit. Hy het dit egter nie met die swakker ooie gedoen nie. Die swakker lammers het dus aan Laban behoort en die sterker lammers aan Jakob. As gevolg hiervan het Jakob se kuddes vinnig vermeerder. Hy het al ryker geword, met baie slawe, kamele en donkies.

Video vir GENESIS 30:25-43