Genesis 28:1-9

Genesis 28:1-9 AFR20

Isak het Jakob geroep en hom geseën. Hy het hom opdrag gegee en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie. Maak gereed, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou ma se pa, en bring vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou ma se broer. Mag God, die Almagtige, jou seën, jou vrugbaar en talryk maak, sodat jy 'n skare van volke word. Mag Hy vir jou die seën van Abraham gee, vir jou en jou nageslag saam met jou, sodat jy die land waar jy as •vreemdeling woon, in besit kan neem – die land wat God vir Abraham gegee het.” So het Isak vir Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, Jakob en Esau se moeder. Esau het besef dat Isak vir Jakob geseën en hom na Paddan-Aram gestuur het om vir hom daarvandaan 'n vrou te bring, en dat Isak, toe hy hom geseën het, hom beveel het, “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie,” en dat Jakob na sy vader en moeder geluister en na Paddan-Aram gegaan het. So het Esau besef dat die Kanaänitiese vroue sleg was in Isak, sy vader, se oë. Esau het toe na Ismael gegaan en by die vroue wat hy reeds gehad het, ook Magalat, die dogter van Ismael, seun van Abraham, en suster van Nebajot, vir hom as vrou geneem.

Video vir Genesis 28:1-9