GENESIS 28:1-9

GENESIS 28:1-9 NLV

Isak roep toe vir Jakob. Hy seën hom en sê: “Jy moenie met enige van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. Gaan eerder na Paddan-Aram toe, na die huis van jou oupa Betuel, en trou met een van jou oom Laban se dogters. Mag God die Almagtige jou seën en vir jou baie kinders gee. Mag Hy jou ’n groot nasie maak. Jy en jou nageslag sal die beloftes aan Abraham ontvang. Hierdie land waar ons nou as vreemdelinge woon, sal die eiendom van jou nageslag word, want God het dit reeds aan Abraham gegee.” Isak het toe vir Jakob weggestuur. Hy het na Paddan-Aram toe vertrek, na sy ma se broer Laban, die seun van Betuel die Arameër. Esau het geweet dat sy pa vir Jakob geseën en Paddan-Aram toe gestuur het om daar ’n vrou te kry. Toe hy Jakob geseën het, het hy hom gewaarsku: “Jy moenie met ’n Kanaänitiese meisie trou nie.” Hy het ook gehoor dat Jakob gehoorsaam was aan sy ouers en na Paddan-Aram toe vertrek het. Dit was vir Esau duidelik dat sy pa nie van die plaaslike Kanaänitiese vroue gehou het nie. Daarom gaan hy na sy oom Ismael toe en trou met Magalat, dogter van Abraham se seun Ismael, en suster van Nebajot. Dit was benewens die vroue wat hy reeds gehad het.

Video vir GENESIS 28:1-9