GENESIS 28:1-9
GENESIS 28:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Isak het vir Jakob geroep en hy het hom geseën en gegroet. Hy het vir hom gesê: “Jy mag nie trou met 'n meisie van Kanaän nie. Jy moet na die land Paddan-Aram gaan, na jou oupa Betuel se familie toe, jy moet met een van die dogters van jou oom Laban trou. God die Almagtige sal jou seën. Hy sal jou vrugbaar maak en Hy sal vir jou 'n groot nageslag gee. Jy sal die voorvader van 'n baie groot volk word. God sal jou seën soos Hy vir Abraham geseën het. Hy sal jou en ook jou nageslag seën. Hy sal vir jou die land gee waar jy nou 'n vreemdeling is. Dit is die land wat Hy vir Abraham gegee het. Dit sal jou land wees.” So het Isak vir Jakob weggestuur. Jakob het na Paddan-Aram gegaan, na die Arameër Laban toe. Laban was die seun van Betuel en die broer van Rebekka. Rebekka was Jakob en Esau se ma. Esau het gesien dat Isak vir Jakob geseën het en hom weggestuur het na die land Paddan-Aram. Isak het vir Jakob gesê dat hy moet gaan trou met een van daardie meisies. Isak het hom geseën en gesê hy mag nie trou met een van die meisies van die land Kanaän nie. Esau het gesien dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram gegaan het. Hy het besef dat sy pa Isak nie van die meisies van Kanaän hou nie. Toe gaan Esau na Ismael toe. Ismael was Abraham se seun. Esau het ander vroue gehad, maar hy trou toe ook met Magalat, Ismael se dogter. Sy was Nebajot se suster.
GENESIS 28:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy 'n menigte van volke kan word. En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het. So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom 'n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie; en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan; en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak, het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem.
GENESIS 28:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe roep Isak vir Jakob en neem van hom afskeid en sê vir hom: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie. Gaan na Paddan-Aram toe, na die huis van jou ma se pa Betuel toe, en trou daar met 'n dogter van jou oom Laban. God die Almagtige sal jou seën: Hy sal jou vrugbaar maak en jou 'n groot nageslag gee. Jy sal 'n baie groot volk word. Hy sal jou die seën laat toekom wat Hy aan Abraham gegee het: jy en jou nageslag sal die land waarin jy woon, as besitting ontvang, die land wat God aan Abraham gegee het.” So het Isak toe vir Jakob weggestuur, en hy is na Paddan-Aram toe, tot by die Arameër Betuel se seun Laban, broer van Rebekka die ma van Jakob en Esau. Esau het te wete gekom dat Isak afskeid geneem het van Jakob en dat Isak hom na Paddan-Aram toe gestuur het om daar te gaan trou, want toe Isak vir Jakob gegroet het, het hy vir hom gesê: “Jy mag nie met 'n Kanaänitiese meisie trou nie.” Toe Esau verneem dat Jakob na sy pa en ma geluister het en na Paddan-Aram toe is, het Esau geweet dat sy pa Isak nie van die Kanaänitiese meisies gehou het nie. Daarom het Esau na Ismael toe gegaan, en by die vrouens wat hy gehad het, nog 'n vrou gevat: Magalat dogter van Ismael, Abraham se seun. Sy was die suster van Nebajot.
GENESIS 28:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Isak het Jakob geroep en hom geseën. Hy het hom opdrag gegee en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie. Maak gereed, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou ma se pa, en bring vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou ma se broer. Mag God, die Almagtige, jou seën, jou vrugbaar en talryk maak, sodat jy 'n skare van volke word. Mag Hy vir jou die seën van Abraham gee, vir jou en jou nageslag saam met jou, sodat jy die land waar jy as •vreemdeling woon, in besit kan neem – die land wat God vir Abraham gegee het.” So het Isak vir Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, Jakob en Esau se moeder. Esau het besef dat Isak vir Jakob geseën en hom na Paddan-Aram gestuur het om vir hom daarvandaan 'n vrou te bring, en dat Isak, toe hy hom geseën het, hom beveel het, “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie,” en dat Jakob na sy vader en moeder geluister en na Paddan-Aram gegaan het. So het Esau besef dat die Kanaänitiese vroue sleg was in Isak, sy vader, se oë. Esau het toe na Ismael gegaan en by die vroue wat hy reeds gehad het, ook Magalat, die dogter van Ismael, seun van Abraham, en suster van Nebajot, vir hom as vrou geneem.
GENESIS 28:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Isak het Jakob geroep en hom geseën en hom bevel gegee en vir hom gesê: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie. Staan op, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou moeder se vader; en neem vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. En God, die Almagtige, seën jou en maak jou vrugbaar en vermeerder jou, sodat jy 'n menigte van mense kan wees; Gee jou die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou; dat jy die land kan beërwe waarin jy 'n vreemdeling is wat God aan Abraham gegee het. En Isak het Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-ram gegaan na Laban, die seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën het en hom na Paddan-Aram laat gaan het om vir hom daarvandaan 'n vrou te neem; en terwyl hy hom seën, het hy hom bevel gegee en gesê: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie; En dat Jakob sy vader en sy moeder gehoorsaam het en na Paddan-Aram gegaan het; en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sy vader Isak nie behaag het nie; het Esau na Ismael gegaan en vir sy vrouens geneem vir Mahalat, die dogter van Ismael, Abraham se seun, die suster van Nebajot, om vir hom as vrou te wees.
GENESIS 28:1-9 Die Boodskap (DB)
Isak het Jakob toe geroep en vir hom gesê: “Moet tog nie met een van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. Gaan liewers na jou oupa Betuel toe. Hy woon in Paddan-Aram. Loop trou eerder met een van jou oom Laban, jou ma se broer, se dogters. En mag die almagtige God jou help. Mag Hy by jou wees en mag jy baie kinders hê. En mag jou nageslag so groot wees dat julle sommer ’n groot volk sal word. Mag die Here so naby aan jou en jou nageslag wees soos Hy vroeër naby aan Abraham was. En mag die Here vir jou die land gee waarop jy nou as vreemdeling loop; die land wat die Here destyds al aan Abraham beloof het.” Isak het sy seun gegroet en Jakob is daar weg. Hy het reguit koers gekies Paddan-Aram toe. Hy was op pad na sy oom Laban toe. Laban was die seun van Betuel, die Arameër en die broer van Rebekka, Jakob en Esau se ma. Esau was van alles bewus. Hy het gesien toe Isak vir Jakob gegroet het. Hy het gehoor hoe sy pa vir Jakob geseën het en vir hom gesê het om tog nie met ’n Kanaänitiese vrou te trou nie. Dit het hom opgeval hoe gehoorsaam Jakob aan sy ouers was, want hy het sy goed gevat en Paddan-Aram toe gegaan. Esau het hieroor nagedink en besef dat sy Kanaänitiese vroue vir sy pa ’n bitter ding is. Hy het besluit om na sy oom Ismael toe te gaan. Ismael was ’n ander seun van Abraham by ’n Egiptiese vrou, Hagar. Esau het reeds vroue gehad, maar het toe ook nog met Ismael se dogter Magalat getrou. Sy was die suster van Nebajot.
GENESIS 28:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Isak roep toe vir Jakob. Hy seën hom en sê: “Jy moenie met enige van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. Gaan eerder na Paddan-Aram toe, na die huis van jou oupa Betuel, en trou met een van jou oom Laban se dogters. Mag God die Almagtige jou seën en vir jou baie kinders gee. Mag Hy jou ’n groot nasie maak. Jy en jou nageslag sal die beloftes aan Abraham ontvang. Hierdie land waar ons nou as vreemdelinge woon, sal die eiendom van jou nageslag word, want God het dit reeds aan Abraham gegee.” Isak het toe vir Jakob weggestuur. Hy het na Paddan-Aram toe vertrek, na sy ma se broer Laban, die seun van Betuel die Arameër. Esau het geweet dat sy pa vir Jakob geseën en Paddan-Aram toe gestuur het om daar ’n vrou te kry. Toe hy Jakob geseën het, het hy hom gewaarsku: “Jy moenie met ’n Kanaänitiese meisie trou nie.” Hy het ook gehoor dat Jakob gehoorsaam was aan sy ouers en na Paddan-Aram toe vertrek het. Dit was vir Esau duidelik dat sy pa nie van die plaaslike Kanaänitiese vroue gehou het nie. Daarom gaan hy na sy oom Ismael toe en trou met Magalat, dogter van Abraham se seun Ismael, en suster van Nebajot. Dit was benewens die vroue wat hy reeds gehad het.