In die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom: “ Mensekind, weeklaag oor die hordes van Egipte en laat hulle afdaal – ook Egipte en die dogters van magtige nasies – af na die aarde se diepste dele, saam met dié wat in die put afdaal. Sê vir hulle,
‘Wie oortref jy in skoonheid?
Gaan af, word neergelê by onbesnedenes!’
“Tussen dié wat deur die swaard
gesneuwel het, sal hulle val.
'n Swaard is gegee –
sleep Egipte en al sy hordes weg!
Die magtigste krygshelde
sal midde-in die •doderyk
oor hom sê,
oor hom saam met sy helpers,
‘Hulle het afgedaal;
die onbesnedenes lê daar,
deurboor met die swaard.’
“Daar is Assirië en sy hele strydmag –
rondom hom is hulle grafte,
almal gesneuweldes wat geval het
deur die swaard –
Assirië, wie se grafte geplaas is
op die uithoeke van die put.
Sy strydmag is rondom sy graf –
almal gesneuweldes,
geval deur die swaard,
hulle wat 'n skrikbewind gevoer het
in die land van die lewendes.
“Daar is Elam, met al sy hordes
rondom sy graf –
almal gesneuweldes wat geval het
deur die swaard,
wat as onbesnedenes afgegaan het
na die aarde se diepste dele,
wat 'n skrikbewind gevoer het
in die land van die lewendes.
Hulle dra hulle vernedering
saam met dié wat in die put afdaal.
Tussen gesneuweldes het hulle
'n lêplek vir Elam ingerig
by al sy hordes.
Hulle is rondom sy graf,
almal onbesnedenes,
deurboor met die swaard;
want hulle het hulle skrikbewind gevoer
in die land van die lewendes.
Hulle dra hulle vernedering
saam met dié wat in die put afdaal;
tussen gesneuweldes is hulle neergelê.
“Daar is Meseg-Tubal en al sy hordes
rondom sy graf –
almal onbesnedenes,
is hulle deurboor met die swaard;
want hulle het 'n skrikbewind gevoer
in die land van die lewendes.
Hulle lê nie by die krygshelde,
die gevallenes
uit die onbesnedenes nie,
hulle wat afgedaal het in die doderyk
met hulle oorlogswapens,
hulle wie se swaarde
onder hulle koppe geplaas is.
Hulle sondeskuld sit aan hulle gebeente,
want hulle was die verskrikking
van krygshelde
in die land van die lewendes.
“En jy, farao, tussen onbesnedenes
sal jy gebreek word,
en lê by dié wat gesneuwel het
deur die swaard.
Daar is Edom, sy konings
en al sy leiers
hulle wat ondanks hulle magtige dade
neergelê is by dié
wat gesneuwel het deur die swaard.
Ook hulle lê by die onbesnedenes,
saam met dié wat in die put afdaal.
Daar is die stamhoofde
uit die noorde, hulle almal,
en al die Sidoniërs,
wat afgedaal het
saam met die gesneuweldes;
ondanks hulle skrikbewind
van kragtige dade,
staan hulle beskaamd.
As onbesnedenes lê hulle
by dié wat gesneuwel het
deur die swaard.
Hulle dra hulle vernedering
saam met dié wat in die put afdaal.
“Die farao sal hulle sien
en dan berusting vind oor al sy hordes
wat gesneuwel het deur die swaard –
die farao en sy hele leër.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die HERE.
“Ja, Ek het sy verskrikking toegelaat
in die land van die lewendes,
maar hy word neergelê
tussen onbesnedenes,
by dié wat gesneuwel het
deur die swaard –
die farao en al sy hordes.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die HERE.