ESEGIËL 32:17-32
ESEGIËL 32:17-32 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het met my gepraat. Dit was in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet huil en treur, jy moet sing oor die soldate van Egipte wat sal sterf. Jy moet hulle en die vroue van belangrike volke laat gaan na die land daar onder, saam met die mense wat afgaan in die graf. Jy moet vir Egipte sê: ‘Jy is nie beter as die ander lande nie, jy moet afgaan en by die mense daar onder gaan lê, niemand respekteer daardie mense nie.’ Egipte en al sy soldate sal val tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Ek het hulle vir die swaard gegee. Die vyande sal hulle wegsleep. Die belangrike manne wat oorlog gemaak het, sal uit die doderyk praat, hulle sal oor Egipte en oor almal wat vir Egipte gehelp het, sê: ‘Hulle gaan af, hulle gaan lê by die mense wat dood is. Daardie mense het in oorlog gesterf, niemand respekteer hulle nou nie.’ “Assirië en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf. Die grafte van Assirië is in die verste plekke van die doderyk. Sy mense lê rondom hom in hulle grafte. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het almal in oorlog gesterf. “Elam en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf. Niemand respekteer hulle nou nie. Hulle moes afgaan na die land daar onder. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar nou is hulle nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat in die graf afgaan. Elam moet gaan lê tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Al sy soldate se grafte is rondom hom. Niemand respekteer hulle nou nie. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het in oorlog gesterf en hulle is nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat afgaan in die graf, hulle is tussen die dooie mense. “Mesek-Tubal en al sy soldate is ook daar. Hulle grafte is rondom hom. Niemand respekteer hulle nou nie. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar die vyande het hulle doodgemaak. Mesek-Tubal en al sy soldate lê nie saam met die dapper soldate wat gesterf het en wat apart lê nie. Die dapper soldate lê nie by die mense vir wie niemand respekteer nie. Die dapper soldate het afgegaan na die doderyk, hulle wapens is by hulle. Hulle swaarde lê onder hulle koppe en hulle skilde lê oor hulle bene. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle. “Egipte, jy sal ook stukkend breek, en jy sal moet gaan lê saam met die ander wat in oorlog gesterf het. “Edom en sy konings en die ander mense wat oor hom regeer het, is ook daar. Hulle was sterk, maar hulle het in oorlog gesterf. Hulle lê by die dooie mense, niemand respekteer daardie mense nou nie, hulle is by die mense wat afgaan in die graf. “Al die leiers van die noorde is daar, en al die mense van Sidon wat afgegaan het saam met die mense wat in oorlog gesterf het. Hulle was sterk, hulle het ander mense bang laat word, maar nou is hulle verneder. Niemand respekteer hulle nie, hulle het gaan lê by die mense wat in oorlog gesterf het. Hulle is nou nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat in die graf afgaan. Wanneer die farao hulle sien, dan sal hy nie meer sleg voel oor al sy soldate nie, al sy soldate wat saam met hom in oorlog gesterf het.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Toe die farao gelewe het, het Ek almal bang laat word vir hom, maar hy moes ook gaan lê tussen die mense wat dood is, niemand respekteer hulle nou nie. Die farao en al sy soldate moes gaan lê by die mense wat in oorlog gesterf het.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
ESEGIËL 32:17-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En in die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, weeklaag oor die menigte van Egipte, en laat hulle neerdaal (hy met die dogters van geweldige nasies) in die onderste plekke van die aarde, by die wat in die kuil neergedaal het. Bo wie is jy skoon? Daal af, en laat jou neerlê by die onbesnedenes. Onder die wat deur die swaard verslaan is, sal hulle val; die swaard is aangegee; trek hom weg saam met sy hele menigte. Die magtigste helde sal hom, met sy helpers, toespreek uit die doderyk uit: Hulle het neergedaal, hulle lê daar — die onbesnedenes, verslaan deur die swaard. Daar is Assur en sy hele menigte; hulle grafte is rondom hom; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard; wie se grafte gemaak is in die uithoeke van die kuil, en sy menigte is rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat skrik versprei het in die land van die lewendes. Daar is Elam en sy hele menigte rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat onbesnede neergedaal het in die onderste plekke van die aarde, wat skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes en nou hulle skande dra by die wat in die kuil neergedaal het. Onder die wat verslaan is, het hulle vir hom 'n bed gemaak saam met sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat skrik voor hulle versprei is in die land van die lewendes; en nou dra hulle hul skande by die wat in die kuil neergedaal het. Onder die wat verslaan is, is hy neergelê. Daar is Meseg-Tubal en sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat hulle skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes. Maar hulle lê nie by die helde wat geval het uit die onbesnedenes, wat na die doderyk neergedaal het saam met hulle oorlogswapens en wie se swaarde onder hulle hoofde gesit is nie; wie se ongeregtighede nogtans op hulle gebeente is, omdat die skrik vir die helde in die land van die lewendes was. Jy sal ook verbreek word onder die onbesnedenes, en jy sal lê by die wat deur die swaard verslaan is. Daar is Edom, sy konings en al sy vorste, wat ondanks hulle dapperheid neergelê is by die wat verslaan is deur die swaard; hulle lê by die onbesnedenes en by die wat in die kuil neergedaal het. Daar is die vorste van die Noorde, hulle almal, en al die Sidoniërs wat neergedaal het saam met die wat verslaan is, en beskaamd staan ondanks die skrik deur hulle verwek vanweë hulle dapperheid; en nou lê hulle onbesnede by die wat verslaan is deur die swaard, en dra hulle skande by die wat in die kuil neergedaal het. Farao sal hulle sien en hom troos oor sy hele menigte; deur die swaard verslaan is Farao en sy hele leër, spreek die Here HERE. Want Ek het skrik vir hom versprei in die land van die lewendes; daarom sal hy neergelê word onder die onbesnedenes, by die wat verslaan is deur die swaard — Farao en sy hele menigte, spreek die Here HERE.
ESEGIËL 32:17-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die vyftiende van die maand, in die twaalfde jaar, het die woord van die Here tot my gekom: “Mens, sing vir die hordes van Egipte die lied wat vir dooies gesing word. “Stuur hulle en ook die ander magtige nasies af in die graf in na dié toe wat reeds dood is. Moet dit met julle beter gaan as met ander? Gaan af, gaan lê by die eerloses! Hulle val tussen dié wat gesneuwel het. Die swaard het sy werk gedoen: Egipte en al sy hordes word weggesleep. Uit die graf sê die magtige krygsmanne oor Egipte en sy helpers: ‘Hulle is af graf toe, hulle lê by die eerloses, by dié wat gesneuwel het!’ Assirië en sy hele leërmag is daar. Rondom hom lê die grafte van sy mense, almal dood, afgemaai deur die swaard. Sy grafte lê diep in die doderyk; rondom hom lê sy leërmag begrawe, almal dood, afgemaai deur die swaard, dié mense wat verskrikking gesaai het in die land van die lewendes. “Elam en al sy hordes is daar; hulle lê rondom hom begrawe, almal dood, afgemaai deur die swaard. Dié mense wat eerloos af is na die doderyk toe, is die mense wat verskrikking gesaai het in die land van die lewendes. Nou dra hulle hulle vernedering saam met dié wat reeds dood is. Elam het sy plek gekry tussen die dooies, met die grafte van al sy hordes rondom hom, almal eerloos afgemaai deur die swaard. Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes, maar nou dra hulle hulle vernedering saam met dié wat reeds dood is; hulle het tussen die dooies beland. “Mesek-Tubal en al sy hordes is daar; hulle grafte lê rondom syne; almal is eerloos deurboor met die swaard. Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes, maar hulle lê nie by die krygsmanne wat eervol gesneuwel het nie, dié wat af is doderyk toe met hulle wapens, wie se swaarde onder hulle koppe gesit is en wie se skilde oor hulle bene lê. Mesek-Tubal en sy hordes het verskrikking gesaai in die land van die lewendes. “Jy kom saam met die eerloses tot 'n einde, Egipte, jy moet by dié wat deur die swaard afgemaai is, gaan lê. “Edom, sy konings, al sy regeerders is daar; ten spyte van hulle mag het hulle beland by dié wat afgemaai is deur die swaard; hulle lê by die eerloses, by dié wat reeds dood is. “Die vorste van die noorde is daar, hulle almal en al die Sidoniërs. Dié mense wat met hulle mag verskrikking gesaai het, het die neerlaag gely en lê eerloos by dié wat afgemaai is deur die swaard; hulle dra hulle vernedering saam met dié wat reeds dood is. “Wanneer die farao hulle sien, sal dit vir hom 'n troos wees as hy dink aan al sy hordes wat gesneuwel het, die farao met sy hele leër,” sê die Here my God. “Ek het hom toegelaat om verskrikking te saai in die land van die lewendes, maar nou moet hy tussen die eerloses gaan lê, by dié wat gesneuwel het, hy, die farao, en al sy hordes,” sê die Here my God.
ESEGIËL 32:17-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom: “ Mensekind, weeklaag oor die hordes van Egipte en laat hulle afdaal – ook Egipte en die dogters van magtige nasies – af na die aarde se diepste dele, saam met dié wat in die put afdaal. Sê vir hulle, ‘Wie oortref jy in skoonheid? Gaan af, word neergelê by onbesnedenes!’ “Tussen dié wat deur die swaard gesneuwel het, sal hulle val. 'n Swaard is gegee – sleep Egipte en al sy hordes weg! Die magtigste krygshelde sal midde-in die •doderyk oor hom sê, oor hom saam met sy helpers, ‘Hulle het afgedaal; die onbesnedenes lê daar, deurboor met die swaard.’ “Daar is Assirië en sy hele strydmag – rondom hom is hulle grafte, almal gesneuweldes wat geval het deur die swaard – Assirië, wie se grafte geplaas is op die uithoeke van die put. Sy strydmag is rondom sy graf – almal gesneuweldes, geval deur die swaard, hulle wat 'n skrikbewind gevoer het in die land van die lewendes. “Daar is Elam, met al sy hordes rondom sy graf – almal gesneuweldes wat geval het deur die swaard, wat as onbesnedenes afgegaan het na die aarde se diepste dele, wat 'n skrikbewind gevoer het in die land van die lewendes. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal. Tussen gesneuweldes het hulle 'n lêplek vir Elam ingerig by al sy hordes. Hulle is rondom sy graf, almal onbesnedenes, deurboor met die swaard; want hulle het hulle skrikbewind gevoer in die land van die lewendes. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal; tussen gesneuweldes is hulle neergelê. “Daar is Meseg-Tubal en al sy hordes rondom sy graf – almal onbesnedenes, is hulle deurboor met die swaard; want hulle het 'n skrikbewind gevoer in die land van die lewendes. Hulle lê nie by die krygshelde, die gevallenes uit die onbesnedenes nie, hulle wat afgedaal het in die doderyk met hulle oorlogswapens, hulle wie se swaarde onder hulle koppe geplaas is. Hulle sondeskuld sit aan hulle gebeente, want hulle was die verskrikking van krygshelde in die land van die lewendes. “En jy, farao, tussen onbesnedenes sal jy gebreek word, en lê by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Daar is Edom, sy konings en al sy leiers hulle wat ondanks hulle magtige dade neergelê is by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Ook hulle lê by die onbesnedenes, saam met dié wat in die put afdaal. Daar is die stamhoofde uit die noorde, hulle almal, en al die Sidoniërs, wat afgedaal het saam met die gesneuweldes; ondanks hulle skrikbewind van kragtige dade, staan hulle beskaamd. As onbesnedenes lê hulle by dié wat gesneuwel het deur die swaard. Hulle dra hulle vernedering saam met dié wat in die put afdaal. “Die farao sal hulle sien en dan berusting vind oor al sy hordes wat gesneuwel het deur die swaard – die farao en sy hele leër.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE. “Ja, Ek het sy verskrikking toegelaat in die land van die lewendes, maar hy word neergelê tussen onbesnedenes, by dié wat gesneuwel het deur die swaard – die farao en al sy hordes.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.
ESEGIËL 32:17-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand, dat die woord van die HERE tot my gekom het en gesê: Mensekind, huil oor die menigte van Egipte, en werp hulle neer, sy en die dogters van die bekende nasies, na die onderste dele van die aarde, saam met die wat in die kuil neerdaal. By wie gaan jy verby in skoonheid? gaan af en laat jou lê by die onbesnedenes. Hulle sal val tussen die wat deur die swaard verslaan is; sy is aan die swaard oorgegee; trek haar en al haar menigte. Die sterkes onder die magtiges sal met hom spreek uit die doderyk met die wat hom help: hulle het neergedaal, hulle lê onbesneden, verslaan deur die swaard. Assur is daar en sy hele menigte; sy grafte is rondom hom; almal gedood, deur die swaard geval; wie se grafte in die kante van die kuil gesit is, en sy menigte is rondom haar graf; almal gedood, deur die swaard geval, wat skrik veroorsaak het in die land van die lewendes. Daar is Elam en sy hele menigte rondom haar graf, almal gedood, deur die swaard geval, wat onbesnedenes in die onderste dele van die aarde neergedaal het, wat hulle verskrikking veroorsaak het in die land van die lewendes; tog het hulle hul skande gedra by die wat in die kuil neerdaal. Hulle het vir haar 'n bed in die midde van die gesneuweldes opgestel met al sy menigte; sy grafte is rondom hom: almal onbesnedenes, verslaan deur die swaard; al was hulle skrik in die land van die lewendes, tog het hulle gedra hulle skande by die wat in die kuil neerdaal; Hy word gesit onder die wat verslaan is. Daar is Meseg, Tubal en sy hele menigte; rondom hom is sy grafte: almal onbesnede, verslaan deur die swaard, al het hulle hul skrik veroorsaak in die land van die lewendes. En hulle sal nie gemeenskap hê met die magtiges wat geval het van die onbesnedenes wat met hulle oorlogswapens na die doderyk neergedaal het nie; en hulle het hulle swaarde onder hulle hoofde gelê, maar hulle ongeregtighede sal op hulle gebeente wees, al was hulle die verskrikking van die magtiges in die land van die lewendes. Ja, jy sal verbreek word tussen die onbesnedenes, en jy sal gemeenskap hê met die wat deur die swaard verslaan is. Daar is Edom, sy konings en al sy vorste, wat met hulle mag neergelê is deur die wat deur die swaard verslaan is; hulle sal lê by die onbesnedenes en by die wat in die kuil neerdaal. Daar is die vorste van die Noorde, hulle almal, en al die Sidoniërs wat saam met die gesneuweldes neergedaal het; met hul verskrikking is hulle beskaamd oor hul mag; en hulle lê onbesnedenes by die wat deur die swaard verslaan is, en dra hul skande met die wat in die kuil neerdaal. Farao sal hulle sien en vertroos word oor sy hele menigte, naamlik Farao en sy hele leër wat deur die swaard verslaan is, spreek die HERE HERE. Want Ek het my verskrikking veroorsaak in die land van die lewendes, en hy sal onder die onbesnedenes neergelê word saam met die wat deur die swaard verslaan is, naamlik Farao en sy hele menigte, spreek die HERE HERE.
ESEGIËL 32:17-32 Die Boodskap (DB)
Op die sewentiende Maart van daardie jaar het die Here verder met my oor Egipte gepraat. “Mens, huil oor die mense van Egipte. Maar huil ook oor die mense van die ander nasies, want Ek laat hulle almal doodgaan. Hulle sal binnekort in die graf wees saam met al die ander mense wat alreeds dood is. Sê vir hulle: Egipte, is jy dalk beter as die ander nasies? Nee! Daarom gooi Ek jou op die grond. Jy lê in die graf saam met die ander nasies wat Ek ook gestraf het. Egipte gaan dood in die oorlog wat Ek stuur. Egipte het in die hof beland oor sy slegte dade, en Ek oordeel hom. Die sterk leiers van die nasies wat Ek reeds doodgemaak het en wat nou in die graf lê, sê: ‘Welkom, Egipte! Julle het nou julle verdiende loon gekry. Julle lê nou tussen ons almal wat deur die Here vernietig is. Ons is almal in die oorlog doodgemaak.’ “Assirië lê daar. Rondom hom is die grafte van al sy mense. Hulle is in die oorlog doodgemaak. Hulle grafte is diep in die grond gegrawe. Al hulle soldate lê ook daar. Vroeër het hulle baie mense doodgemaak. Almal was vir hulle bang. Kyk waar lê hulle nou! In die graf. Hulle vyande het hulle doodgemaak. “Elam lê daar. Al die mense van Elam lê ook in die graf. Ek het hulle soontoe weggejaag toe Ek hulle gestraf het. Almal was doodbang vir hulle. Maar waar is hulle nou? Hulle lê doodstil in die graf. Hulle kan niks doen nie. Ek het hulle tot in die dood toe verneder. Hulle lê nou magteloos daar saam met die ander wat in die oorloë dood is. Die grafte van al hulle mense is rondom hulle. Vroeër was die hele wêreld bang as jy net hulle naam noem. Maar nou lê hulle in die graf. Daar het niks van hulle oorgebly nie. “Mesek-Tubal is ook daar, in die graf. Al hulle soldate se grafte is om hulle. Vroeër het mense gebewe as hulle van hierdie soldate gehoor het. Maar nou het Ek hulle van die aarde afgevee. Hulle is in die oorlog doodgemaak. Hulle het nie eens behoorlike begrafnisse gehad soos helde wat in die oorlog dood is nie. Hulle is nie soos helde met militêre eerbewys begrawe nie. Almal was vir hulle bang. En wat het met hulle gebeur? Hulle is sommer in ’n gat in die grond gegooi. “En nou dink jy, Egipte, dat dit met jou goed sal gaan? Ook jy sal van die aarde afgevee word! Jy sal ook doodgemaak word in die oorlog wat Ek stuur. Jy sal saam met die ander in die graf lê. “Edom is reeds daar in die doderyk, met sy konings en prinse. Hulle was so sterk. En nou lê hulle tussen die soldate van ander lande wat mense doodgemaak het. Hulle is nou tussen die mense wat van die aarde weggevee is oor hulle slegte dade. So ook al die prinse van die noorde en die mense van Sidon: hulle lê almal in die graf. Vroeër was mense vir hulle bang, maar nou het daar niks van hulle oorgebly nie. Hulle lê tussen die mense wat Ek vernietig het. “Daardie dag as die koning van Egipte in die graf beland, sal hy uitvind dat dit nie net sy soldate is wat almal doodgemaak is nie.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Hy het duisende mense laat doodmaak. Sy soldate het baie nasies aangeval. Ek het toegelaat dat hy dit doen. Ek het hom gebruik. Ek het mense banggemaak. Maar nou kom die dag dat hy voor My gaan staan. En Ek oordeel hom oor sy slegte dade. Ek sal hom ook van die aarde af wegvee. Hy sal in die oorlog doodgemaak word. Dit is Ek, die God van Esegiël, wat hier praat.”
ESEGIËL 32:17-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 17 Maart, in die twaalfde jaar, het ek nog ’n boodskap van die HERE gekry: “Mensekind, treur oor die mense van Egipte, want saam met sterk nasies stuur Ek hulle na die onderwêreld, om in die graf te lê. Sê vir hulle: ‘Egipte, is jy beter as die ander nasies? Gaan af en gaan lê tussen die onbesnedenes!’ Hulle sal omkom saam met ander wat deur die swaard gesneuwel het, want die swaard is reeds uitgetrek. Laat Egipte en al sy menigtes weggesleep word. Vanuit die graf spot die magtige leiers vir Egipte en sy bondgenote: ‘Hulle het neergedaal na die graf en lê nou by die onbesnedenes, by die slagoffers van die swaard!’ “Assirië lê daar, omring met grafte van al sy mense, almal slagoffers van die swaard. Hulle grafte is diep in die doderyk, omring deur hulle bondgenote. Lank tevore het hulle oral angs in mense gewek, maar nou het hulle vyande hulle doodgemaak. “Elam en al sy menigtes is daar met sy mense rondom sy graf, almal deur die swaard getref. Hulle wat onder die lewendes paniek gesaai het, het onbesnede na die doderyk gegaan. Hulle dra die vernedering saam met dié wat in die graf is. Hy lê tussen dié wat dood is, tussen die grafte van sy krygers. Almal is onbesnede, omgebring deur die swaard. Hulle het verskrikking gesaai in die land van die lewendes, maar lê nou verneder in die graf saam met dié wat omgekom het. “Mesek en Tubal is daar, omring deur die grafte van hulle menigtes, almal onbesnede slagoffers van die swaard, want hulle het paniek gesaai onder lewendes in die land. Hulle is nie met eer begrawe soos helde met hulle wapens nie – met skilde wat hulle liggame bedek en swaarde onder hulle koppe nie. In die land van die lewendes het hulle oral paniek gesaai. “Ook jy, Egipte, sal verslaan lê tussen die onbesnedenes, almal slagoffers van die swaard. “Edom is daar, met konings en prinse. Eens was hulle magtig, maar nou het hulle ook gesneuwel en lê in die graf saam met onbesnedenes. Al die leiers van die noorde, ook die Sidoniërs is daar. Hulle wat met hulle mag verskrikking gesaai het, lê nou by onbesnedenes saam met dié wat gesneuwel het. Hulle deel die vernedering met dié wat reeds dood is. “Wanneer die farao daar aankom, sal hy verlig wees om te sien dis nie net sy leër wat vernietig is nie, sê die oppermagtige HERE. Want Ek het paniek gebring oor almal wat leef. Die farao en al sy hordes sal nou by onbesnedenes moet lê, by hulle wat gesneuwel het. Ek, die oppermagtige HERE, sê so.”