Eksodus 33:12-23

Eksodus 33:12-23 AFR20

Moses het vir die HERE gesê: “Kyk, U sê vir my, ‘Laat hierdie volk optrek,’ maar self maak U nie aan my bekend wie U saam met my sal stuur nie. U is die Een wat gesê het, ‘Ek ken jou by die naam, en jy het ook guns gevind in my oë.’ Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë; besef tog dat hierdie nasie u volk is. ” Die HERE het gesê: “Moet my teenwoordigheid saamgaan, en moet Ek vir jou rus gee? ” Hy het vir die HERE gesê: “As u teenwoordigheid nie saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat optrek nie. Waaraan sou mense dan weet dat ek guns gevind het in u oë, ek en u volk? Is dit nie wanneer U met ons saamgaan, dat ons onderskei sal word, ek en u volk, van elke ander volk op die aardbodem nie? ” Die HERE sê toe vir Moses: “Ook aan hierdie versoek wat jy uitgespreek het, sal Ek voldoen, omdat jy guns gevind het in my oë, en Ek jou by die naam ken. ” Moses sê toe: “Toon asseblief u heerlikheid aan my.” Maar Hy het geantwoord: “Ek sal al my goedheid reg voor jou laat verbygaan, en Ek self sal die Naam ‘die HERE’ uitroep. Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” Hy het verder gesê: “Jy kan nie my gesig sien nie, want 'n mens kan My nie sien en bly leef nie.” Toe sê die HERE: “Hier is 'n plek by My waar jy kan gereedstaan op die rots. Wanneer my heerlikheid dan verbygaan, sal Ek jou in die rotsskeur sit en Ek sal jou met die palm van my hand toehou, totdat Ek verby is. Dan sal Ek my handpalm wegneem, en jy sal My van agter sien. Maar my gesig mag nie gesien word nie. ”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 33:12-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid