Eksodus 16:1-11

Eksodus 16:1-11 AFR20

Die Israeliete het van Elim af weggetrek en die hele volksvergadering van die Israeliete het in die Sinwoestyn aangekom, wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het. Die hele volksvergadering van die Israeliete het teen Moses en Aäron gemor in die woestyn. Die Israeliete het vir hulle gesê: “As ons maar deur die hand van die HERE in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf.” Die HERE het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie. Op die sesde dag moet hulle voorberei wat hulle inbring; dit moet dan twee maal soveel wees as wat hulle daagliks bymekaarmaak.” Moses en Aäron het vir al die Israeliete gesê: “Vanaand sal julle weet dat dit die HERE is wat julle uit Egipteland uitgelei het, en môreoggend sal julle die heerlikheid van die HERE beleef, omdat Hy julle gemor teen die HERE gehoor het. Wie is ons, dat julle teen ons mor? ” “Ja,” het Moses bygevoeg, “wanneer die HERE vir julle vleis in die aand gee om te eet en brood in die oggend om julle versadig te eet, omdat die HERE julle gemor gehoor het wat julle teen Hom gerig het. Wie is ons? Dit is nie teen ons wat julle gemor het nie, maar teen die HERE.” Moses sê toe vir Aäron: “Sê vir die hele volksvergadering van die Israeliete, ‘Kom nader voor die HERE, want Hy het julle gemor gehoor.’ ” Net nadat Aäron met die hele volksvergadering van die Israeliete gepraat het, het hulle in die rigting van die woestyn gedraai, en kyk, die heerlikheid van die HERE het in 'n wolk verskyn! Die HERE sê toe vir Moses

Video for Eksodus 16:1-11