EKSODUS 16:1-11

EKSODUS 16:1-11 NLV

Die Israeliete is weg van Elim af en het by die Sinwoestyn tussen Elim en Sinaiberg aangekom. Dit was ’n maand nadat hulle uit Egipte weg is. Daar in die woestyn het almal teen Moses en Aäron begin uitvaar: “Die HERE kon ons eerder in Egipte laat doodgaan het. Daar was ten minste genoeg om te eet. Nou het julle ons hier na die woestyn toe gebring sodat almal hier van honger kan doodgaan.” Die HERE het toe vir Moses gesê: “Ek gaan vir julle kos uit die hemel laat reën. Die volk kan elke dag uitgaan en genoeg kos vir die dag bymekaarmaak. Ek gaan hulle toets om te kyk of hulle na My wil luister of nie. Op die sesde dag moet hulle twee keer soveel as gewoonlik bymekaarmaak.” Moses en Aäron het vir die Israeliete gesê: “Teen vanaand sal julle weet dat dit die HERE self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Môre-oggend sal julle sien hoe groot die HERE is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla. Dis eintlik teen Hóm wat julle so uitvaar en nie teen ons nie.” Moses het ook gesê: “Omdat die HERE gehoor het hoe julle oor Hom kla, sal Hy teen die aand vir julle vleis gee om te eet en soggens brood om van versadig te word. Dit was eintlik teen die HERE wat julle gepraat het, nie teen ons nie.” Moses sê toe vir Aäron: “Gaan sê vir die Israeliete: ‘Kom voor die HERE bymekaar, want Hy het gehoor wat julle teen Hom sê.’” Terwyl Aäron besig was om met hulle te praat, het hulle na die woestyn toe gedraai. Hulle kon in die wolkkolom wat voor hulle uitgegaan het, sien hoe groot God is. Die HERE het toe vir Moses gesê

Video for EKSODUS 16:1-11