Eksodus 12:1-13

Eksodus 12:1-13 AFR20

Die HERE het vir Moses en Aäron in Egipteland gesê: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Praat met die hele volksvergadering van Israel en sê, ‘Op die tiende van hierdie maand moet elkeen van hulle 'n lam neem vir sy familie, 'n lam vir 'n huisgesin. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit deel in verhouding tot die getal persone. Julle moet die lam in porsies verdeel in ooreenstemming met wat elke huisgesin gaan eet. 'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet julle kies; uit die skape of die bokke kan julle dit neem. Julle moet die lammers veilig hou tot die veertiende dag van hierdie maand. Die hele byeenkoms van die volksvergadering van Israel moet dan laatmiddag hulle lammers slag. “ ‘ Hulle moet van die bloed neem en dit smeer aan die sykante en bokant van die deurkosyne by die huise waarin hulle dit eet. Hulle moet die vleis dieselfde nag eet; oor die vuur gebraai, saam met ongesuurde brood en bitter kruie, moet hulle dit eet.’ “ Julle moet nie daarvan eet as dit rou is of in water gaargemaak is nie; maar net as dit oor die vuur gebraai is met sy kop, pote en ingewande. Julle mag niks daarvan tot die volgende oggend laat oorbly nie. Wat daarvan oorbly tot die oggend, moet verbrand word. Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die HERE. “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die HERE. Die bloed sal vir julle as 'n teken dien aan die huise waarin julle is. Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Daar sal by julle geen plaag deur die vernietiger wees wanneer Ek Egipteland tref nie.

Video vir Eksodus 12:1-13

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 12:1-13