EKSODUS 12:1-13
EKSODUS 12:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het in Egipte vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand, dit moet van nou af die eerste maand van die jaar wees. Sê vir al die Israeliete: ‘Op die tiende dag van hierdie maand moet die hoof van elke huisgesin 'n skaap of 'n bok neem, een skaap of bok vir 'n huisgesin. As die huisgesin klein is en hulle kan nie 'n hele skaap of bok op-eet nie, dan moet die man en sy naaste buurman saam 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet tel hoeveel mense in die huisgesin is, en daar moet genoeg vleis wees sodat almal kan eet. Die skaap of bok moet gesond wees. Daar moet niks verkeerd wees met hom nie, en dit moet 'n ram wees wat een jaar oud is. Julle mag 'n skaap of 'n bok neem. Julle moet hom oppas tot die 14de dag van die maand en dan moet julle hom slag wanneer dit aand word. Al die Israeliete moet dit doen. Julle moet die bloed van hierdie dier neem en julle moet dit aan die deur se raam smeer. Julle moet dit doen in elke huis waar julle die lam eet. Julle moet die vleis daardie aand braai en eet, en julle moet ongesuurde brood en bitter kruie eet. Julle moenie die vleis rou eet of in water kook nie. Julle moet dit oor die vuur braai, die kop saam met die pootjies en die binnegoed. Julle moenie die vleis tot die volgende dag hou nie. As daar van die vleis oorbly tot die volgende dag, dan moet julle dit verbrand. “ ‘Julle moet gereedmaak sodat julle dadelik kan gaan. Elkeen moet sy klere aantrek en hy moet dit vasmaak met 'n belt. Julle moet julle skoene aantrek en julle kieries in die hand hou. Dan moet julle baie vinnig eet. Dit is die Here se Paasfees. “ ‘Ek sal vannag deur Egipte gaan en Ek sal die oudste seun van elke huisgesin in Egipte doodmaak, ook die eerste manlike kleintjies van al die diere, en Ek sal al die gode van Egipte straf. Ek is die Here! Die bloed aan die deure se rame sal 'n teken wees dat julle in daardie huise is. As Ek die bloed sien, dan sal Ek by julle huise verbygaan, en Ek sal julle nie straf wanneer Ek die Egiptenaars straf nie.
EKSODUS 12:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen 'n lam neem volgens die families, 'n lam vir 'n huisgesin. Maar as 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. Julle moet 'n lam hê sonder gebrek, 'n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand. En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. 'n Pasga van die HERE is dit. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE. Maar die bloed sal vir julle 'n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.
EKSODUS 12:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand 'n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, kan 'n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. Dit moet 'n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, 'n skaap of 'n bok. Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here. “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.
EKSODUS 12:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir Moses en Aäron in Egipteland gesê: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Praat met die hele volksvergadering van Israel en sê, ‘Op die tiende van hierdie maand moet elkeen van hulle 'n lam neem vir sy familie, 'n lam vir 'n huisgesin. As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit deel in verhouding tot die getal persone. Julle moet die lam in porsies verdeel in ooreenstemming met wat elke huisgesin gaan eet. 'n Jaaroud ramlam sonder gebrek moet julle kies; uit die skape of die bokke kan julle dit neem. Julle moet die lammers veilig hou tot die veertiende dag van hierdie maand. Die hele byeenkoms van die volksvergadering van Israel moet dan laatmiddag hulle lammers slag. “ ‘ Hulle moet van die bloed neem en dit smeer aan die sykante en bokant van die deurkosyne by die huise waarin hulle dit eet. Hulle moet die vleis dieselfde nag eet; oor die vuur gebraai, saam met ongesuurde brood en bitter kruie, moet hulle dit eet.’ “ Julle moet nie daarvan eet as dit rou is of in water gaargemaak is nie; maar net as dit oor die vuur gebraai is met sy kop, pote en ingewande. Julle mag niks daarvan tot die volgende oggend laat oorbly nie. Wat daarvan oorbly tot die oggend, moet verbrand word. Dit is hoe julle dit moet eet: met heupe omgord, julle sandale aan julle voete en julle wandelstokke in julle hande. Julle moet dit haastig eet. Dit is die Pasga van die HERE. “Ek sal daardie nag deur Egipteland gaan en alle eersgeborenes in Egipteland tref, mens en dier. Oor al die gode van Egipte sal Ek oordele voltrek. Ek is die HERE. Die bloed sal vir julle as 'n teken dien aan die huise waarin julle is. Wanneer Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. Daar sal by julle geen plaag deur die vernietiger wees wanneer Ek Egipteland tref nie.
EKSODUS 12:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste maand van die jaar wees. Spreek met die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle vir hulle elkeen 'n lam neem volgens die huis van hulle vaders, 'n lam vir 'n huis. En as die huisgesin te min is vir die lam, laat hom en sy buurman langs sy huis dit neem volgens die getal van die siele; elkeen volgens sy ete moet jou tel vir die lam. Julle lam moet sonder gebrek wees, 'n jaaroud mannetjie; julle moet dit van die skape of van die bokke uithaal. En julle moet dit in stand hou tot op die veertiende dag van dieselfde maand, en die hele vergadering van die vergadering van Israel moet dit in die aand doodmaak. En hulle moet van die bloed neem en dit slaan aan die twee syposte en aan die boonste deurposte van die huise waarin hulle dit moet eet. En hulle sal die vleis in daardie nag eet, met vuur gebraai en ongesuurde brode; en met bitter kruie moet hulle dit eet. Moenie rou daarvan eet nie en glad nie met water deurweek nie, maar met vuur gebraai; sy kop met sy bene, en met die strekking daarvan. En julle mag niks daarvan laat oorbly tot die môre toe nie; en wat daarvan oorbly tot die môre toe, moet julle met vuur verbrand. En so moet julle dit eet; met jou lendene omgord, jou skoene aan jou voete en jou staf in jou hand; en julle moet dit haastig eet; dit is die pasga van die HERE. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, mense sowel as diere; en teen al die gode van Egipte sal Ek oordeel: Ek is die HERE. En die bloed sal vir julle 'n teken wees op die huise waar julle is; en as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan, en die plaag sal nie oor julle wees om julle te vernietig wanneer Ek Egipteland tref nie.
EKSODUS 12:1-13 Die Boodskap (DB)
Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand is van nou af die belangrikste maand in die hele jaar. Dit moet die eerste maand wees van elke jaar. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin. Dit moet die reël wees in Israel wat nooit weer verander word nie. Elke gesin moet sorg dat hulle teen die tiende van hierdie maand alreeds ’n lam in die hande gekry het. As daar te min mense in een gesin is om ’n lam te kan opeet, moet hulle en hulle bure saam maak. Hulle moet kyk hoeveel mense hulle dan is en of hulle saam genoeg is om een lam op te eet. Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees wat uit die skape of die bokke kom. Daar mag niks fout wees met die dier nie. Hulle moet die lam aan die lewe hou tot op die veertiende dag van die maand. “Teen die aand van die veertiende dag moet almal in Israel hulle lamme slag. Hulle moet dan van die bloed van die lam vat en dit aan die kante en boaan die deurkosyn van die huis smeer waar hulle die lam gaan eet. Hulle moet die vleis oor die vuur braai. Al die vleis moet nog in daardie selfde nag opgeëet word. Hulle moet dit saam met brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Daarby moet hulle sous gebruik wat van bitter kruie gemaak is. Hulle mag nie die vleis rou eet nie. Hulle moet dit ook nie kook nie. Die lam moet net so heel en in een stuk op die vuur gebraai word met kop, pootjies, binnegoed en al. Daar mag niks van die vleis oorbly nie. As daar die volgende oggend nog enigiets oor is, moet dit in die vuur verbrand word.” “Julle moet al hierdie goed eet soos mense wat baie haastig is om weg te kom. Die gordels om julle heupe moet vasgetrek wees. Julle moet sandale aan julle voete hê. Julle kieries moet in julle hande wees sodat julle reg kan wees om te begin stap. En julle moet vinnig eet. Dit word die paasfees genoem. Julle moet dit elke jaar hou om die Here se Naam groot te maak. Ek sal in daardie nag deur Egipte trek. Deur die hele Egipte sal Ek in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit sal met die mense sowel as die diere gebeur. Ek sal met die gode van Egipte afreken, want Ek is die Here. Die bloed wat julle aan die kosyne van julle huise gesmeer het, sal vir My ’n teken wees om julle uit te ken. Wanneer Ek dit sien, sal Ek by daardie huis verbygaan. Ek sal julle spaar van die ramp waarmee Ek die hele Egipte gaan tref.”
EKSODUS 12:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl hulle nog in Egipte was, het die HERE vir Moses en Aäron gesê: “Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin. Julle moet vir al die Israeliete die opdrag gee dat elke gesin op die tiende van hierdie maand vir hulle ’n lam in die hande moet kry. As daar te min mense in ’n gesin is om ’n lam alleen op te eet, moet hulle dit deel met ’n ander gesin in die omgewing. Dit moet in verhouding verdeel word volgens die getal en behoefte van elke gesin. Dit moet ’n rammetjie wees uit die skape of die bokke wat ’n jaar oud is en waarmee daar niks verkeerd is nie. Sorg vir die rammetjie tot op die veertiende van die maand. Elke gesin in Israel moet teen skemertyd sy rammetjie slag. Hulle moet van die rammetjie se bloed vat en daarvan smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis se voordeur waarin hulle dit gaan eet. Die vleis word oor die vuur gebraai. Dit moet nog daardie selfde aand saam met brood wat sonder suurdeeg gemaak is en met kruie geëet word. Die vleis mag nie meer rou wees nie. Dit mag ook nie gekook word nie. Die hele lam moet gebraai word met kop, pote en alles. Daar mag ook niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Wat daarvan oorbly, moet voor die volgende oggend verbrand word. “Wanneer julle dit eet, moet julle aangetrek wees om op reis te gaan. Julle moet skoene aanhê en julle kieries moet al in julle hande wees. Eet die kos vinnig. Dit is die HERE se Paasfees. Ek sal daardie nag deur Egipte trek en in die land al die oudste seuns en die diere wat eerste gebore is, doodmaak. Ek sal die gode van Egipte straf. Ek is die HERE! Die bloed wat julle aan julle kosyne gesmeer het, sal vir My ’n teken wees dat julle daar bly. As Ek dit sien, sal Ek daardie huis oorslaan. Die ramp wat Ek oor Egipte laat kom, sal julle nie tref nie.