Ester 2:1-9

Ester 2:1-9 AFR20

Ná hierdie gebeure, toe koning Ahasveros se woede bedaar het, het hy aan Vasti gedink, aan wat sy gedoen het en hoe oor haar besluit is. Die jong manne wat die koning bedien, het gesê: “Laat hulle vir die koning mooi jong meisies soek wat maagde is, en beeldskoon. Laat die koning daarom beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, om al die jong meisies wat maagde is en beeldskoon, byeen te bring in die harem, in die vestingstad Susan, onder toesig van Hegai, die koning se eunug, wat die vroue oppas, en gee vir hulle 'n skoonheidskuur. Laat die jongmeisie wat die koning geval, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het die voorstel goedgevind en hy het so gemaak. Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het. Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif.