Ester 2

2
Soeke na 'n nuwe koningin
1 Ná hierdie gebeure, toe koning Ahasveros se woede bedaar het, het hy aan Vasti gedink, aan wat sy gedoen het en hoe oor haar besluit is. 2 Die jong manne wat die koning bedien, het gesê: “Laat hulle vir die koning mooi jong meisies soek wat maagde is, en beeldskoon. 3Laat die koning daarom beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, om al die jong meisies wat maagde is en beeldskoon, byeen te bring in die harem, in die vestingstad Susan, onder toesig van Hegai, die koning se eunug, wat die vroue oppas, en gee vir hulle 'n skoonheidskuur. 4Laat die jongmeisie wat die koning geval, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het die voorstel goedgevind en hy het so gemaak.
5 Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. 6 Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. 7 Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem.
8Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het. 9 Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif. 10 Ester het nie haar volksverband of haar afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te doen nie. 11Elke dag het Mordegai buite die voorhof van die harem rondgestap om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur. 12 Voordat 'n jong meisie se beurt aangebreek het om na koning Ahasveros te gaan, moes sy volgens die gebruik van die harem vir twaalf maande 'n skoonheidskuur ondergaan: ses maande lank word hulle met mirre-olie gesalf, en daarna vir ses maande met balsemolie en skoonheidsmiddels vir vroue gesalf, 13en dan gaan sy in na die koning. Wat sy ook al vra, sal vir haar uit die harem gegee word om saam te neem na die koninklike paleis. 14 Sy het in die aand gegaan en in die oggend teruggekeer na die tweede harem wat onder toesig was van Saäsgas, die eunug van die koning en die oppasser van die vroue. Sy kon nie weer na die koning gaan nie, behalwe as hy van haar gehou het en as sy op die naam geroep is.
15 Toe die voorbereidingstyd voltooi is van Ester, die dogter van Abigajil, Mordegai se vader se broer, wat haar as sy dogter aangeneem het, om na die koning in te gaan, het sy niks van die hand gewys van die dinge wat die eunug, Hegai, die oppasser van die vroue, vir haar aanbeveel het nie. Ester het die bewondering geniet van almal wat haar gesien het. 16Ester is geneem na Artaxerxes, die koning, in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering.
17 Die koning het Ester liefgehad, meer as al die vroue. Sy het voor hom guns en welwillendheid geniet, meer as al die maagde. Hy het toe die hooftooisel op haar kop gesit, en haar koningin gemaak in Vasti se plek. 18 Die koning het 'n groot feesmaal gehou vir al sy •hoë amptenare en dienaars – 'n feesmaal ter ere van Ester. Hy het geskenke uitgedeel soos daar van 'n koning verwag word.
Redding van die koning se lewe
19 Toe daar vir 'n tweede keer maagde bymekaargebring is, het Mordegai in die poort van die koning se paleis gesit. 20Ester het nie haar afkoms en haar volksverband bekend gemaak nie, soos Mordegai haar beveel het. Sy het Mordegai se bevel gehoorsaam soos toe sy nog in sy sorg was. 21 In daardie tyd, terwyl Mordegai in die paleispoort gesit het, het Bigtan en Teres, twee van die koning se paleisamptenare, die deurwagters, hulle bloedig vererg en was toe daarop uit om koning Ahasveros te vermoor. 22Toe Mordegai daarvan te hore kom, het hy dit aan koningin Ester gerapporteer, en Ester het namens Mordegai die koning ingelig. 23 Toe die saak ondersoek en as waar bevind is, is die twee paleisamptenare aan 'n houtpaal gehang. Dit alles is in die boekrol met die kronieke opgeskryf in die teenwoordigheid van die koning.

Tans Gekies:

Ester 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid