ESTER 2:1-9
ESTER 2:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Later, toe die woede van koning Ahasveros bedaar het, het hy nog altyd aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is. Toe sê die amptenare wat in die koning se persoonlike diens was: “Die koning moet vir hom mooi meisies laat soek. Hy moet amptenare aanstel in al die provinsies van sy koninkryk sodat hulle al die mooi meisies bymekaar kan laat kom in die vestingstad Susan in die vrouekwartiere onder die sorg van Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig hou. Hulle moet skoonheidsbehandeling ontvang, en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet in die plek van Vasti koningin word.” Die koning het dit 'n goeie voorstel gevind en so gemaak. In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis. Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif.
ESTER 2:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Later was die koning nie meer kwaad nie, maar hy het gedink aan Vasti en wat sy gedoen het en wat hy oor haar besluit het. Die jongmanne wat vir die koning gewerk het, het gesê die koning moet sê hulle moet vir hom mooi jongmeisies soek. Hy moet in al die provinsies waaroor hy regeer, mense kies en aanstel om al die mooi jongmeisies te soek, en hulle moet die meisies na die stad Susan bring. Die meisies moet bymekaarkom in die kamers vir die vroue, en Hegai, die amptenaar van die koning, sal die vroue daar oppas. Dan moet hulle al die meisies mooi maak, en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet koningin word ná Vasti. Die koning het gedink dit is 'n goeie plan, en hy het dit gedoen. In die stad Susan was daar 'n man wat uit die land Juda gekom het. Sy naam was Mordegai. Hy was van die Benjamin-stam en hy was die seun van Jaïr seun van Simi seun van Kis. Toe koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin gevang en weggevat het na Babel, het hy vir Mordegai en sy familie ook saamgevat. Mordegai het 'n niggie gehad, sy was 'n weeskind. Mordegai het vir haar gesorg en haar grootgemaak. Haar naam was Hadassa, en hulle het haar ook Ester genoem. Sy was baie mooi. Mordegai het haar aangeneem toe haar ouers dood is en sy het Mordegai se dogter geword. Toe die amptenare hoor wat die koning besluit het, het hulle baie jongmeisies bymekaargemaak. Hulle het die meisies na die stad Susan geneem. Daar het Hegai vir die meisies gesorg. Ester was een van hierdie meisies. Hegai was die opsigter wat gekyk het dat alles reg is in die kamers waar die koning se vroue gewoon het. Hegai het gesien dat Ester baie mooi is, en hy het gehou van haar. Hy het dadelik gesorg dat sy die regte kos kry en dat hulle vir haar baie mooi maak. Hy het sewe meisies uit die paleis gekies om haar te help, en hy het vir haar en die meisies die beste kamers gegee om in te woon.
ESTER 2:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE ná die dinge die woede van koning Ahasvéros bedaar het, het hy aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is. Toe sê die jongmanne van die koning wat hom dien: Laat hulle vir die koning jongmeisies soek wat mooi van aansien is; en laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat hulle al die jongmeisies wat mooi van aansien is, bymekaar laat kom in die vesting Susan, in die vrouehuis, onder toesig van Hegai, die hofdienaar van die koning, die bewaker van die vroue; en laat hulle skoonheidsmiddele aan hulle gee. En die jongmeisie wat die koning geval, moet in die plek van Vasti koningin word. Hierdie woord dan was goed in die oë van die koning, en hy het so gedoen. Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet, wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes gaan saam met Jegónja, die koning van Juda, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai haar as sy dogter aangeneem. En toe die bevel van die koning en sy wet bekend gemaak is, en baie meisies in die vesting Susan onder toesig van Hegai byeengebring is, het hulle Ester ook saamgeneem na die paleis van die koning, onder toesig van Hegai, die bewaker van die vroue. En die meisie het hom geval en guns by hom gevind; daarom het hy gou gemaak om haar die nodige skoonheidsmiddele en die regte ete te gee en haar die sewe uitgesoekte meisies uit die paleis van die koning te verskaf; en hy het haar met haar meisies verplaas na die beste gedeelte van die vrouehuis.
ESTER 2:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Later, toe die woede van koning Ahasveros bedaar het, het hy nog altyd aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is. Toe sê die amptenare wat in die koning se persoonlike diens was: “Die koning moet vir hom mooi meisies laat soek. Hy moet amptenare aanstel in al die provinsies van sy koninkryk sodat hulle al die mooi meisies bymekaar kan laat kom in die vestingstad Susan in die vrouekwartiere onder die sorg van Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig hou. Hulle moet skoonheidsbehandeling ontvang, en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet in die plek van Vasti koningin word.” Die koning het dit 'n goeie voorstel gevind en so gemaak. In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis. Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif.
ESTER 2:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná hierdie gebeure, toe koning Ahasveros se woede bedaar het, het hy aan Vasti gedink, aan wat sy gedoen het en hoe oor haar besluit is. Die jong manne wat die koning bedien, het gesê: “Laat hulle vir die koning mooi jong meisies soek wat maagde is, en beeldskoon. Laat die koning daarom beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, om al die jong meisies wat maagde is en beeldskoon, byeen te bring in die harem, in die vestingstad Susan, onder toesig van Hegai, die koning se eunug, wat die vroue oppas, en gee vir hulle 'n skoonheidskuur. Laat die jongmeisie wat die koning geval, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het die voorstel goedgevind en hy het so gemaak. Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het. Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif.
ESTER 2:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ná hierdie dinge, toe die toorn van koning Ahasveros bedaar het, het hy aan Vasti gedink en wat sy gedoen het en wat teen haar verorden is. Toe sê die dienaars van die koning wat hom dien: Laat daar mooi jong maagde vir die koning gesoek word. En laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat hulle al die mooi jongmeisies kan versamel in die paleis Susan, in die huis van die vroue, onder toesig van Hege, die koning se kamerling, die bewaker van die vroue; en laat hulle reinigende dinge aan hulle gegee word. En laat die meisie wat die koning behaag, koningin word in die plek van Vasti. En die saak het die koning behaag; en hy het dit gedoen. En in die paleis Susan was daar 'n sekere Jood met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet; wat uit Jerusalem weggevoer is met die ballingskap wat saam met Jekonja, die koning van Juda, weggevoer is, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy het Hadassa, dit is Ester, sy oom se dogter, grootgemaak; want sy het geen vader of moeder gehad nie, en die diensmeisie was mooi en mooi; wat Mordegai, toe haar vader en moeder dood was, vir sy eie dogter geneem het. En toe die bevel en sy bevel van die koning gehoor is, en toe baie meisies byeengekom het in die paleis Susan, onder bewaring van Hegai, is Ester ook na die koning se huis gebring, onder bewaring van Hegai, bewaarder van die vroue. En die meisie het hom behaag, en sy het goedheid oor hom verkry; en hy het haar spoedig haar goed vir reiniging gegee, met alles wat aan haar behoort het, en sewe meisies wat aan haar gegee moes word, uit die huis van die koning; en hy het haar en haar diensmeisies verkies bo die beste plek van die huis van die vroue.
ESTER 2:1-9 Die Boodskap (DB)
Later, toe Ahasveros se woede bedaar het, het hy weer aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het, asook oor wat hy oor haar besluit het. ’n Paar van die koning se persoonlike amptenare maak toe ’n voorstel: “Hoekom laat soek die koning nie vir hom ’n klomp mooi jongmeisies in sy koninkryk nie? Stel in elke provinsie amptenare aan en laat hulle al die mooi jongmeisies na die vrouekwartiere in Susan bring. Laat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer is van die vroue in die paleis, vir hulle sorg. Hier moet hulle skoonheidsbehandeling ondergaan, en dan moet die meisie van wie u die meeste hou, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het van die voorstel gehou en hulle raad gevolg. Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis. Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak. Die koning se opdrag is uitgevoer. Hulle het ’n groot klomp meisies na Susan toe gebring en hulle onder die paleisbeampte Hegai se sorg geplaas. Ester was ook onder hierdie groep meisies wat na die paleis toe gebring is. Hegai het van Ester gehou en het haar spesiaal behandel. Hy het dadelik met haar skoonheidsbehandeling begin en haar ook ’n spesiale dieet laat volg. Hy het haar na die beste deel van die vrouekwartiere toe geskuif en sewe van die paleis se beste kamerpersoneel uitgesoek om haar te versorg.
ESTER 2:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe koning Ahasveros se woede hierna tot bedaring kom, het hy Vasti begin mis. Hy het onthou wat sy alles gedoen het. Hy het nagedink oor wat hy oor haar besluit het. Die amptenare wat in sy persoonlike diens was, sê toe vir hom: “Laat ons na mooi meisies vir die koning soek. Hy moet agente aanstel om in al die provinsies van sy koninkryk mooi meisies te werf vir die koning se harem in die vestingstad Susan. Hegai, die hoof-haremopsigter, moet dan toesien dat hulle skoonheidsbehandeling ontvang. Die meisie wat vir die koning die mooiste is, moet in Vasti se plek koningin gemaak word.” Die koning het van hierdie idee gehou. Hy het toe so gemaak. In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis. Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het. Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi. Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas. Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif.