Efesiërs 1:11-23

Efesiërs 1:11-23 AFR20

In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die •heiliges, hou ek nie op om God oor julle te dank wanneer ek in my gebede aan julle dink nie. Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus •Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid