EFESIËRS 1:11-23

EFESIËRS 1:11-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. Om hierdie rede, omdat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en julle liefde vir al die •heiliges, hou ek nie op om God oor julle te dank wanneer ek in my gebede aan julle dink nie. Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus •Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van sy erfenis vir die heiliges behels, wat die onvergelykbare grootheid van sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.

EFESIËRS 1:11-23 Die Boodskap (DB)

God het almal wat aan Jesus behoort, gekies om Syne te wees. Dat dit so moet wees, het Hy lankal besluit en Hy laat altyd alles gebeur soos Hy dit wil hê. Ons was mos die eerste mense wat alles aanvaar het wat Jesus beloof het en wat seker weet dat ons dit gaan kry. God wil hê dat juis ons vir almal moet wys en vertel hoe groot en belangrik Hy regtig is. Julle is ook deel van die groep mense wat Christus s’n is. Dit is so van die dag af dat julle die waarheid gehoor en besef het dat julle elke woord daarvan kan glo. Ek praat van die goeie boodskap oor Jesus wat julle red. Daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy beloof het. Die Gees is soos ’n merk wat God julle laat dra om te wys dat elkeen wat Jesus s’n is, ook Syne is. Meer nog, die Gees is ook ons bewys dat God begin het om vir ons alles te gee wat Hy ons beloof het. Die Gees is maar die begin van dit wat God eendag alles vir ons gaan gee. Hy gaan elkeen wat Syne is heeltemal vrymaak. Laat ons vir almal vertel hoe groot God is. Ek het gehoor dat julle verhoudings gesond is: julle staan in ’n sterk verhouding met Jesus deur julle geloof en julle tree liefdevol onder mekaar as God se mense op. Mooi so. Nou sê ek vir God dankie vir mense soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker: ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie. Ek vra God, ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree. Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur alles wat Hy vir julle sal duidelik maak. Ek bid verder dat God julle geestelike oë sal oopmaak sodat julle sal kan besef wat julle van Hom kan verwag noudat Hy julle na Hom toe geroep het. God gaan vir julle, as sy spesiale kinders, gee wat Syne is. Hy gaan julle skatryk maak. Verder bid ek ook dat julle sal agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is. Ons het gesien hoe geweldig daardie krag regtig is toe God Jesus uit die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene. Nou regeer Jesus natuurlik oor al wat mag of regeerder of koning is. Niemand, ek herhaal, niemand en niks sal ooit belangriker of sterker as Jesus kan wees nie; nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. God self het vir Jesus die magtige posisie gegee om oor alles en almal te heers, ook oor die kerk. Jesus is die leier van die kerk en die kerk moet daarom gehoorsaam doen wat hulle leier van hulle verwag. Laat ek ’n voorbeeld gebruik: Jesus is soos die kop en die kerk soos die res van die liggaam. Saam is hulle een. Die kop beheer die liggaam en laat sy invloed deur die hele liggaam vloei. Die kop sorg vir alles wat elke deeltjie van die liggaam nodig mag hê. En die liggaam, die kerk, laat die kop, Jesus, volledig wees wat Hy is.

EFESIËRS 1:11-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie erfdeel geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het. Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word. Ons was die eerstes wat ons hoop op Christus geplaas het. Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het. Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees. Daarvoor moet ons God se grootheid prys! Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek nie ophou om God vir julle te dank nie. Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort – aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ’n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ’n erfdeel verkry het. Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Nou is Christus hoog verhewe bo elke owerheid en gesag en krag en heerskappy, ja, elke noemenswaardige instansie, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom. God het alle dinge onder sy beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in elke opsig met sy teenwoordigheid vul.

EFESIËRS 1:11-23 Bybel vir almal (ABA)

God het lank gelede besluit dat ons aan Hom moet behoort, daarom het Hy vir Christus gestuur. En wanneer God besluit dat iets moet gebeur, dan gebeur dit. God het dit gedoen, want Hy wou hê dat ons Hom, die Koning, moet prys, ons wat eerste begin glo het en seker is dat Christus ons sal red. Julle in Efese behoort ook aan Christus, julle het die regte boodskap gehoor, die goeie boodskap dat God julle wil red. Julle behoort aan Christus, julle glo in Hom, en daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy belowe het. Die Heilige Gees wys dat julle aan God behoort. Ja, ons het die Heilige Gees, en daarom weet ons God sal vir ons alles gee wat Hy vir ons belowe het. Hy sal ons heeltemal vrymaak, ons wat aan Hom behoort. Daarom moet ons vir God, ons Koning, prys! Ek het gehoor dat julle in die Here Jesus glo en dat julle lief is vir almal wat aan God behoort. Daarom, wanneer ek bid, sê ek altyd vir God dankie vir julle, en dink ek aan julle. Dan vra ek vir die God van ons Here Jesus Christus, vir die Vader wat Koning is, Hy moet vir julle wysheid gee en Hy moet vir julle wys hoe julle Hom kan ken. Ek bid dat God julle sal help om regtig te weet wat julle sal kry omdat Hy julle gekies het om aan Hom te behoort. Julle sal al die dinge kry wat Hy, die Koning, sal gee vir die mense wat aan Hom behoort. Ek bid ook dat julle sal weet dat God se krag baie sterk is, en dat Hy sy krag in ons lewens gebruik, in ons wat glo. Dit is dieselfde sterk krag wat God gebruik het toe Hy vir Christus weer laat lewe het en Hom laat sit het op die belangrikste plek by Hom in die hemel. Christus is belangriker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, belangriker as enige iets waaraan 'n mens kan dink, nou of in die tyd wat kom. God het Christus laat wen teen al sy vyande. Hy het vir Christus die Hoof gemaak van alles. God het dit gedoen sodat dit goed sal gaan met die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus. Hý alleen laat die kerk waarlik lewe, Hy laat alles lewe.

EFESIËRS 1:11-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

in Hom in wie ons ook 'n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid. Daarom — vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges — hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie, dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

EFESIËRS 1:11-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys. Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

EFESIËRS 1:11-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In wie ons ook 'n erfdeel verkry het, deurdat ons voorbeskik is volgens die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil; dat ons tot lof van sy heerlikheid moet wees, wat eerste op Christus vertrou het. Op wie julle ook vertrou het, nadat julle die woord van die waarheid gehoor het, die evangelie van julle verlossing; in wie julle ook, nadat julle geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, Dit is die eer van ons erfdeel tot die verlossing van die gekoopte besitting, tot lof van sy heerlikheid. Daarom het ek ook, nadat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus, en liefde vir al die heiliges, Hou nie op om vir jou te dank en jou in my gebede te noem nie; Sodat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee. Die oë van jou verstand word verlig; sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping is en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is, En wat is die uitnemende grootheid van sy krag vir ons wat glo, volgens die werking van sy magtige krag, wat Hy in Christus bewerk het toe Hy Hom uit die dode opgewek en Hom aan sy regterhand in die hemele gestel het, Ver bo alle owerheid en mag en mag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die wat kom. En Hy het alle dinge onder sy voete gelê en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid