EFESIËRS 1:11-23

EFESIËRS 1:11-23 NLV

Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie erfdeel geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het. Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word. Ons was die eerstes wat ons hoop op Christus geplaas het. Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het. Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees. Daarvoor moet ons God se grootheid prys! Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek nie ophou om God vir julle te dank nie. Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort – aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken. Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ’n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ’n erfdeel verkry het. Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo. Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Nou is Christus hoog verhewe bo elke owerheid en gesag en krag en heerskappy, ja, elke noemenswaardige instansie, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom. God het alle dinge onder sy beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in elke opsig met sy teenwoordigheid vul.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid