Deuteronomium 28:15-45

Deuteronomium 28:15-45 AFR20

“As jy egter nie na die stem van die HERE jou God luister deur al sy gebooie en vaste voorskrifte wat ek vandag vir julle voorskryf, nougeset na te kom nie, sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou tref: “Vervloek sal jy wees in die dorp en vervloek sal jy wees in die veld. “Jou mandjie en jou knieskottel sal vervloek wees. “Die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond, die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee, sal vervloek wees. “Vervloek sal jy wees wanneer jy terugkeer en vervloek sal jy wees wanneer jy uittrek.” “ Die HERE sal vervloeking, ontsteltenis en bedreigings oor jou stuur, oor alles waaraan jy jou hand waag, wat jy ook al doen, totdat jy uitgedelg is, en vinnig verdwyn, omdat jy Hom deur jou bose dade verlaat het. Die HERE sal pessiekte aan jou laat kleef, totdat Hy jou uitgeroei het, weg van die grond waarheen jy op pad is om dit in besit te neem. Die HERE sal jou tref met uittering, ontsteking, koors, hittekoors, met droogte, skroeisiekte en witroes; dit sal jou teister totdat jy tot niet is. Die hemelruim bo jou kop sal brons wees en die aarde onder jou yster. Die HERE sal die reën van jou land stof maak; ja, fynsand sal uit die hemelruim op jou neerreën totdat jy uitgedelg is. “ Die HERE sal daarvoor sorg dat jy voor jou vyande verslaan word. Met een pad sal jy teen hulle uittrek, en met sewe paaie voor hulle uit vlug. Jy sal 'n skrikwekkende voorbeeld wees vir al die koninkryke van die aarde. Jou lyke sal aas wees vir al die voëls van die hemel en die diere van die land, en niemand sal hulle verwilder nie. “Die HERE sal jou tref met Egiptiese swere, swelsels, uitslag en skurfsiekte waarvan jy nie sal kan genees nie. Die HERE sal jou tref met kranksinnigheid, blindheid en sinsverwarring, en jy sal helder oordag rondtas soos 'n blinde in die donker. Jy sal nie voorspoedig wees met wat jy onderneem nie, maar altyd net verdruk wees en beroof word, en daar sal geen helper wees nie. “Aan 'n vrou sal jy verloof raak, en 'n ander man sal haar onteer. 'n Huis sal jy bou, en nie daarin woon nie. 'n Wingerd sal jy plant, en die eerste vrugte daarvan nie geniet nie. Jou bees word voor jou oë geslag, en jy eet nie daarvan nie. Jou donkie word reg voor jou gesteel, en jy kry hom nie terug nie. Jou kleinvee word aan jou vyande gegee, en niemand sal jou help nie. Jou seuns en jou dogters word aan 'n ander volk gegee, terwyl jy dit moet aanskou. Elke dag verlang jy na hulle, maar jy is magteloos. Die vrug van jou grond, ja, al jou moeitevolle arbeid – 'n volk wat jy nie ken nie, sal dit verslind. Jy sal die hele tyd net verdruk en mishandel word. Jy sal van jou kop af raak oor die toneel wat voor jou oë afspeel. Die HERE sal jou tref met dodelike swere aan jou knieë en bene waarvan jy nie sal kan genees nie – van jou voetsool tot jou kroontjie. “Die HERE sal jou en jou koning wat jy oor jou aanstel, laat wegvoer na 'n nasie wat jy en jou voorouers nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien, hout en klip. Jy sal 'n skrikbeeld, 'n spreuk en 'n spotnaam word by al die volke waarheen die HERE jou verdryf. “ Jy sal baie saad na die landerye neem, maar min oes; want treksprinkane sal dit kaal vreet. Wingerde sal jy plant en bewerk, maar jy sal nie wyn drink of druiwe oes nie; want wurms sal dit opvreet. Jy sal olyfbome hê in jou hele grondgebied, maar olie sal jy nie aan jou smeer nie; want jou olywe sal afval. “Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want hulle sal in ballingskap gaan. “Al jou bome en die vrugte van jou grond – vlieënde insekte sal dit inneem. “Die •vreemdeling wat by jou is, sal bo jou uitstyg, al hoër en hoër; en jy sal daal, al laer en laer. Hy sal aan jou leen, maar jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop word en jy die stert. “Al hierdie vloeke sal oor jou kom, jou volg en jou inhaal, totdat jy uitgedelg is, omdat jy nie na die stem van die HERE jou God geluister het deur sy gebooie en vaste voorskrifte wat Hy vir jou voorgeskryf het, na te kom nie.