DEUTERONOMIUM 28:15-45

DEUTERONOMIUM 28:15-45 AFR83

“As jy nie luister na die Here jou God nie en jy gehoorsaam nie al sy gebooie en voorskrifte wat ek jou vandag gee, en jy lewe nie daarvolgens nie, sal al hierdie strawwe oor jou kom en jou tref: “Daar sal 'n vloek op jou rus in die stad, daar sal 'n vloek op jou rus in die oop veld. “Daar sal 'n vloek rus op jou oesmandjie en op jou knieskottel. “Daar sal 'n vloek rus op jou nageslag en op die opbrengs van jou lande, op jou kalweroes en jou lammeroes. “Daar sal 'n vloek op jou rus waar jy ook gaan. “Die Here sal die vloek oor jou stuur, verwarring en terugslae in alles wat jy aanpak en doen, totdat Hy jou uitgeroei het en jou skielike ondergang bewerk het oor al die verkeerde dinge wat jy gedoen het deurdat jy Hom verlaat het. “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem. “Die Here sal jou tref met tering, inflammasie en koorssiekte, met hitte, met oorlog en met brandkoring en roes. Dit sal by jou bly totdat jy uitgewis is. “Die hemel bo jou sal brons word en die aarde onder jou yster. “Die Here sal stof en roet in jou land laat reën. Dit sal uit die hemel uit op jou afkom en jou uitdelg. “Die Here sal jou laat vlug vir jou vyande. Uit een rigting sal jy teen hulle opruk, maar in talle rigtings sal jy voor hulle uit vlug. Jy sal bewe vir al die koninkryke van die aarde. “Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie. Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met bloedvinte, uitslag en jeuksiektes, waarvan jy nie genees sal kan word nie. Die Here sal jou tref met kranksinnigheid en blindheid en waansin. Jy sal op die helder middag rondtas soos 'n blinde rondtas in sy donkerte. Jy sal nie voorspoed ondervind nie. Jy sal aanhoudend verdruk en beroof word en daar sal niemand wees om jou te help nie. Jy sal aan 'n vrou verloof raak, maar 'n ander man sal haar verkrag; jy sal 'n huis bou, maar nie daarin woon nie; jy sal 'n wingerd plant, maar nie sy vrugte eet nie. Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar jy sal nie daarvan eet nie. Jou donkie sal voor jou oë geroof word en nie weer aan jou terugbesorg word nie. Jou kleinvee sal aan jou vyande gegee word, en daar sal niemand wees wat jou help nie. Jou seuns en dogters sal aan 'n vreemde volk gegee word terwyl jy toekyk, en jou oë sal ingee soos jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal niks daaraan kan doen nie. 'n Volk wat jy nie ken nie, sal die opbrengs eet van jou lande en alles waarvoor jy jou afsloof. Daar sal deurentyd net verdrukking en swaarkry vir jou wees, en jy sal kranksinnig word van wat jy sien. Die Here sal jou tref met kwaadaardige swere aan jou knieë en jou dye. Van kop tot tone sal jy nie genees kan word nie. “Die Here sal jou en die koning wat jy vir jou sal aanstel, na 'n nasie toe laat gaan wat jy en jou voorvaders nie geken het nie, en daar sal jy ander gode dien: hout en klip. Daar sal jy wees tot 'n spot en 'n skimp onder al die volke na wie toe die Here jou sal bring, iets waarvoor hulle sal skrik. Jy sal baie saad saai, maar min oes, want sprinkane sal die oes opvreet. Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie wyn daarvan drink of druiwe daarvan oes nie, want wurms sal dit opvreet. Oral in jou grondgebied sal jy olyfbome hê, maar jy sal jou liggaam nie met hulle olie versorg nie, want die olywe sal afval. Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal hulle nie behou nie, want hulle sal as ballinge weggevoer word. Goggas sal jou bome en die opbrengs van jou lande oorneem. Die vreemdeling wat by jou woon, sal meer en meer kry, en jy sal agteruitboer en minder en minder hê. Hy sal aan jou leen, jy sal nie aan hom leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert. Al hierdie strawwe sal oor jou kom. Hulle sal jou tref en by jou bly totdat jy uitgeroei is, omdat jy nie na die opdrag van die Here jou God geluister het nie en nie sy gebooie en voorskrifte wat Hy jou gegee het, gehoorsaam het nie.