Handelinge 2:5-39

Handelinge 2:5-39 AFR20

Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.” Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: “ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom. Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, verlos word.’ “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was 'n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. Dawid sê immers oor Hom: “ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien, want Hy is aan my regterkant, sodat ek nie wankel nie. Daarom juig my hart en jubel my tong; ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef, want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie. U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul.’ “Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’ “God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid