HANDELINGE 2:5-39

HANDELINGE 2:5-39 Bybel vir almal (ABA)

Daar was Jode in Jerusalem, hulle het in ander dele van die wêreld grootgeword en het toe in Jerusalem kom woon. Daar was Jode van elke land in die wêreld. Hierdie Jode was lief vir die Here en hulle het Hom gedien soos Hy wil hê. Toe hulle hoor dat hierdie sterk wind kom, het baie van hierdie Jode saamgekom by die huis. Hulle het nie geweet wat gebeur nie, want hulle het gehoor hoe praat die gelowiges in die tale van elkeen van hulle wat uit die ander lande van die wêreld kom. Hulle was baie verbaas en hulle het gesê: “Al hierdie mense wat so praat, kom van Galilea. Elkeen van ons hoor sy eie taal wanneer hulle praat. Hoe gebeur dit? Want ons is Jode uit verskillende volke: Perse, Mediërs, Elamiete, mense wat woon in Mesopotamië, Judea, Kappadosië, Pontus, Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië naby Sirene, en mense wat woon in Rome, ook Jode en heidene wat die Jode se godsdiens aanvaar het, Kretensers en Arabiere. Ons hoor hoe praat hulle in ons eie tale oor die groot dinge wat God gedoen het.” Hierdie Jode was almal verbaas en deurmekaar. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat kan dit beteken?” Maar ander mense het gespot en gesê: “Hulle is dronk.” Toe staan Petrus op saam met die ander elf apostels. Hy het hard en ernstig gepraat en vir die mense gesê: “Joodse vriende, ja, almal wat in Jerusalem woon, julle moet verstaan wat hier gebeur en julle moet goed luister na wat ek vir julle sê. Julle dink hierdie mense is dronk, maar hulle is nie, want dit is nou nege-uur in die oggend. Die dinge wat hier gebeur, is die dinge waaroor die profeet Joël gepraat het: “ God het gesê: “Dit sal só wees in die laaste dae: Ek sal my Gees gee vir al die mense: Julle seuns en julle dogters sal God se boodskap bring. Julle jongmanne sal dinge sien wat die Here vir hulle wys, en julle ou manne sal drome droom. Ja, in die laaste dae sal Ek my Gees gee vir elke man en vrou wat vir My werk, en hulle sal God se boodskap bring. En Ek sal wondertekens gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rook. Die son sal heeltemal donker word, en die maan sal word soos bloed. Dan sal die groot en belangrike dag van die Here kom. En dit sal só wees: Die Here sal almal red wat tot Hom bid, almal wat vra dat Hy hulle moet red. “Israeliete, julle moet goed luister na wat ek sê: Julle weet dat God vir Jesus van Nasaret groot dinge en wonderwerke en tekens laat doen het toe Jesus by julle was. So het God gewys dat Hy self vir Jesus gestuur het. God het lank gelede besluit en geweet dat Hy hierdie Man sal gee vir die mense wat nie die wette van God ken nie, sodat hulle met Hom kan doen wat hulle wil. Hierdie mense het vir Jesus geneem en hulle het Hom vir julle gegee, en toe het julle Hom gekruisig en vermoor. Maar God het toe vir Jesus vrygemaak van die pyne van die dood, Hy het vir Jesus weer laat lewe. Want die dood kon nie vir Jesus vashou nie. Dawid het dinge gesê oor homself, maar hy het dit ook oor Jesus gesê. Dawid het gesê: “ Ek het die Here altyd voor my gesien, want Hy is hier regs langs my sodat ek nie val nie. Daarom was my hart bly en was my tong baie bly. Ja, ek hoop en ek is seker dat my liggaam sal lewe. Want U sal nie vir my na die doderyk laat gaan nie. Ek is aan U gewy, U sal my nie laat sterf nie. U het vir my geleer hoe om te lewe, ek sal altyd bly wees wanneer U by my is. “Vriende, julle almal weet dat ek reg is as ek vir julle sê dat ons voorvader Dawid gesterwe het en begrawe is, en dat sy graf vandag nog by ons is. Maar Dawid was 'n profeet, en hy het geweet dat God vir hom belowe het dat een van sy nageslag eendag op sy troon sal sit. Dawid het gesien wat later sal gebeur en daarom het hy gesê dat Christus weer sal lewe. Dawid het gesê: “ God het Hom nie na die doderyk laat gaan nie, en sy liggaam het nie gesterf nie. “God het vir Hóm, vir Jesus, weer laat lewe, en ons is almal getuies daarvan. God het vir Jesus opgeneem in die hemel en Hy het gesê dat Jesus op die belangrikste plek langs Hom moet sit. Toe het die Vader vir Jesus die Heilige Gees gegee, die Vader het dit belowe. En Jesus het die Heilige Gees vir ons gegee. Dit is wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemel gegaan nie. Dawid sê self: “ Die Here het vir my Here gesê: ‘Jy moet hier langs My sit, op die belangrikste plek, want Ek sal jou vyande verneder, en Ek sal hulle voor jou laat lê sodat jy jou voete op hulle kan sit.’ “Die hele Israel moet nou weet, en dit is seker: Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het gesê dieselfde Jesus moet die Here en die Christus wees.” Toe die mense hierdie woorde hoor, was hulle hartseer en ontsteld. Hulle het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Vriende, wat moet ons doen?” En Petrus het vir hulle gesê: “Julle moet verander en julle moet lewe soos God wil hê. Julle almal moet gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en God sal die Heilige Gees vir julle gee. Want God het dit belowe vir julle en vir julle kinders en ook vir al die mense wat nie Jode is nie. Ja, Hy belowe dit vir al die mense wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

HANDELINGE 2:5-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galiléërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn. MAAR Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, 'n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet — Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring; Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig. Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Omdat hy dan 'n profeet was en geweet het dat God vir hom met 'n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het. TOE hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

HANDELINGE 2:5-39 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Toe die mense die geluid hoor, het 'n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.” Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.” Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. “Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. Van Hom sê Dawid: “Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul. “Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was 'n profeet en hy het geweet dat God met 'n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: “Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie. “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”

HANDELINGE 2:5-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” Almal was verstom en verward, en het mekaar gevra: “Wat beteken dit tog?” Ander weer het spottend gesê: “Hulle is vol soetwyn.” Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: “ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom. Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rookwolke. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, verlos word.’ “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was 'n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. Dawid sê immers oor Hom: “ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien, want Hy is aan my regterkant, sodat ek nie wankel nie. Daarom juig my hart en jubel my tong; ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef, want U sal my siel nie aan Hades oorlaat, en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie. U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur u teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul.’ “Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Omdat hy 'n profeet was, en geweet het dat ‘God met 'n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê: “ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat, nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’ “God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande 'n voetbank vir jou voete gemaak het.’ “Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep. ”

HANDELINGE 2:5-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daar het Jode in Jerusalem gewoon, vroom manne, uit elke nasie onder die hemel. En toe dit in die buiteland geraas het, het die skare bymekaargekom en hulle was beskaamd, omdat elkeen hulle in sy eie taal hoor praat het. En hulle was almal verbaas en verwonderd en het vir mekaar gesê: Kyk, is hulle almal wat spreek nie Galileërs nie? En hoe hoor ons elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthiërs en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotamië en in Judéa en Kappadosië, in Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, in Egipte en in die streke van Libië rondom Cirene, en vreemdelinge van Rome, Jode en proseliete, Kretes en Arabiere, ons hoor hulle die wonderlike werke van God in ons tong spreek. En hulle was almal verbaas en twyfel en sê die een vir die ander: Wat beteken dit? Ander het gespot en gesê: Hierdie manne is vol nuwe wyn. Maar Petrus het saam met die elf opgestaan, sy stem verhef en vir hulle gesê: Manne van Judéa en almal wat in Jerusalem woon, wees dit aan julle bekend en luister na my woorde. Want hulle is nie dronk soos julle dink nie, aangesien dit maar die derde uur van die dag is. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is; En dit sal gebeur in die laaste dae, spreek God, Ek sal van my Gees uitstort op alle vlees; en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmanne sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En op my diensknegte en oor my diensmaagde sal Ek in daardie dae van my Gees uitstort; en hulle sal profeteer: En Ek sal wonders doen bo in die hemel en tekens onder op die aarde; bloed en vuur en rookdamp: Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat daardie groot en merkwaardige dag van die Here kom. En dit sal gebeur dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, gered sal word. Manne van Israel, hoor hierdie woorde; Jesus van Nasaret, 'n man wat deur God onder julle goedgekeur is deur wonders en wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde gedoen het, soos julle self ook weet: Hom, verlos deur die besliste raad en voorkennis van God, het julle geneem en deur goddelose hande gekruisig en gedood; wat God opgewek het deurdat Hy die pyne van die dood losgemaak het, omdat dit nie moontlik was dat Hy daaraan vasgehou sou word nie. Want Dawid spreek van hom: Ek het die Here altyd voor my aangesig gesien, want Hy is aan my regterhand, sodat ek nie sou wankel nie. Daarom was my hart bly, en my tong was bly; ook sal my vlees rus in hoop: Omdat U my siel nie in die hel sal laat nie, en U Heilige nie sal toelaat om verderwing te sien nie. U het my die weë van die lewe bekend gemaak; jy sal my vol vreugde maak met jou aangesig. Manne en broeders, laat ek vryelik met julle spreek van die aartsvader Dawid, dat hy dood sowel as begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. Daarom, omdat hy 'n profeet was en geweet het dat God vir hom met 'n eed gesweer het dat hy van die vrug van sy lendene na die vlees Christus sou oprig om op sy troon te sit; Toe hy dit tevore sien, het hy gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die hel oorgebly het nie, en dat sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Daarom, omdat Hy deur die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie na die hemele opgevaar nie, maar hy sê self: Die HERE het tot my Here gesê: Sit aan my regterhand, Totdat Ek jou vyande jou voetbank maak. Laat die hele huis van Israel dan verseker weet dat God daardie selfde Jesus wat julle gekruisig het, Here sowel as Christus gemaak het. En toe hulle dit hoor, is hulle in hul hart getref en vir Petrus en die res van die apostels gesê: Manne en broeders, wat moet ons doen? Toe sê Petrus vir hulle: Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte is vir julle en aan julle kinders en aan almal wat ver is, selfs almal as wat die Here ons God sal roep.

HANDELINGE 2:5-39 Die Boodskap (DB)

Gedurende die feestyd was daar baie Joodse pelgrims van oor die hele wêreld in Jerusalem. Hulle het ook die geweldige geluid gehoor en dadelik na die gebou toe gehardloop waar die gelowiges bymekaar was. Hulle was stomgeslaan toe hulle daar aankom en hoor hoe die gelowiges in verskillende tale praat. “Hoe kan dit wees?” het hulle vir mekaar gevra. “Hierdie mense kom dan daar van Galilea af. Hoe kry hulle dit reg om nou in ons eie taal met ons te praat? Hier tussen ons is mense van oral in die wêreld. Kyk net, hier is Perse, Mediërs, Elamiete en ook mense wat in Mesopotamië bly. Ons merk ook mense op uit Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en uit dele van Libië. Ja, daar staan selfs ’n klompie uit Rome. Behalwe al die Jode van oor die hele wêreld staan hier ook mense uit ander volke wat later die Joodse geloof aangeneem het. Daar is inwoners van die eiland Kreta en ook ’n groep Arabiere. En tog hoor ons almal nou in ons eie taal hoe dié mense met ons praat oor al die groot dinge wat God doen.” Die skare kon nie mooi uitmaak wat aan die gebeur was nie. Hulle het verbaas vir mekaar gevra: “Wat gaan aan?” ’n Paar spotters het gesê: “Hierdie spul mense is dronk. Hulle het heeltemal te veel wyn gedrink.” Saam met die elf ander apostels het Petrus vir die skare beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Vriende, mede-Jode en inwoners van Jerusalem, luister nou mooi na my.Hierdie mense is nie dronk soos party van julle dink nie. Dis dan nou eers nege-uur in die oggend. Kom ek vertel julle wat hier aan die gebeur is. Die woorde van Joël het pas waar geword. Julle onthou hoe hy geskryf het: ‘Aan die einde van die tyd,’ sê God, ‘sal Ek my Gees gee aan almal wat in My glo. Dan sal Ek my wil aan julle seuns en julle dogters bekendmaak. Hulle sal profete wees wat my wil bekendmaak. ‘Met julle jongmense sal Ek in visioene praat. En met die ouer mense onder julle sal Ek in drome praat. Op almal wat My dien, mans en vroue, sal Ek aan die einde van die tyd my Gees uitstort. ‘Hulle sal my wil aan ander mense bekendmaak. Ek sal ook groot tekens in die lug en op die aarde laat gebeur. Bloed en vuur en donker rook sal hemel en aarde vul. Ek sal die son pikswart maak, en die maan so rooi soos bloed. ‘Al hierdie dinge sal gebeur kort voordat die groot dag van die Here aanbreek; daardie dag waarop Hy na die wêreld toe terugkom.Almal wat die Here se Naam aanroep en Hom smeek om hulle sondes weg te vat, sal gered word.’” “Vriende, julle moet mooi luister na wat ek nou vir julle wil sê. Jesus van Nasaret is die Man wat deur God aangestel is om groot wonderwerke en tekens onder julle te doen. Hy is ’n rukkie gelede hier in Jerusalem deur ’n spul goddelose mense gevang, presies net soos God dit beplan het. Daarna het julle almal Hom laat doodmaak.Maar God het Hom weer lewendig gemaak. Hy het al die bande van die dood van Jesus afgegooi en Hom lewendig daar laat uitstap. Hoor wat Dawid oor Jesus geskryf het: ‘Die Here is elke tree van die pad by my. Daarom kan ek niks oorkom nie. My lewe loop oor van vreugde. Ek vertel vir almal hoe goed die Here is. Nie eens die dood kan my meer bangmaak nie, want U sal nooit toelaat dat die kloue van die dood my vir altyd vashou nie. U sal nooit u eie kind, u oogappel, daar in die doderyk laat vergaan nie. U stap heeltyd saam met my op die pad wat na die lewe toe lei. Ek jubel daaroor.’ “Vriende, julle weet net so goed soos ek dat Dawid lankal dood en begrawe is. Sy graf is hier by ons in Jerusalem. Dawid was egter ’n boodskapper van God. Daarom het hy geweet dat God ’n belofte aan hom gemaak het dat iemand uit sy nageslag altyd oor sy koninkryk sou heers. Hy het geweet dat die Messias uit die dood sou opstaan. Dawid het gesien dat die doderyk met al sy gevare God se Gestuurde nooit gevange sou hou nie. “Jesus het hierdie woorde van Dawid waar laat word. Dit het gebeur toe God Hom lewendig gemaak het. Ons weet dit, want ons het Jesus met ons eie oë gesien nadat Hy weer lewendig geword het. Daarna het God die heel belangrikste plek in die hemel aan Hom gegee. Toe Jesus daar aankom, het Hy die Heilige Gees by sy Vader ontvang soos God aan Hom beloof het. Daarna het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur. Dit kan julle nou met julle eie oë sien en met julle eie ore hoor. “Maar nog iets oor Dawid. Ons weet hy het nie self lewendig hemel toe gegaan nie. Dawid vertel egter in een van sy psalms hoe God met die Messias praat. God het vir Hom gesê: ‘Sit hier langs My. Dit is die heel belangrikste plek in die hemel. Sit hier totdat Ek al jou vyande onder jou voete vertrap het.’ “Almal in Israel moet vandag een ding besef: hierdie Jesus wat julle aan die kruis vasgespyker het, is nou deur God as die Here en die Messias aangestel. Hy heers nou oor almal in die hemel en op die aarde. Net Hy kan ons red.” Die skare wat na Petrus gestaan en luister het, is diep deur sy woorde geraak. “Sê asseblief vir ons wat ons nou moet doen. Hoe kan ons die saak tussen ons en God regmaak?” het hulle vir die apostels gevra. “Laat staan dadelik julle sondes. Kom terug na God toe,” het Petrus geantwoord. “Laat julle ook doop in die Naam van Jesus Christus. God sal julle sondes dan vergewe. Julle sal ook die Heilige Gees ontvang. Hierdie groot hemelse Geskenk is bedoel vir elkeen van julle. En ook vir julle kinders. Ja, selfs vir al die ander mense wat op die oomblik nog ver van God af lewe. Binnekort sal hulle ook van Hom hoor en deur God nader geroep word.”

HANDELINGE 2:5-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome – Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra. Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê. Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op. Hy het die skare met ’n harde stem toegespreek: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, neem nou deeglik kennis en luister goed na wat ek gaan sê: Julle moet nou goed luister! Party van julle beweer hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie! Dis heeltemal te vroeg daarvoor. Mense is nie nege-uur in die oggend al dronk nie. Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het: ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op elke mens. Julle seuns en dogters sal die woord van God verkondig; julle jongmense sal gesigte sien, en julle oumense sal drome droom. Ja, op die mans en vroue wat in my diens staan, sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal my woord verkondig. En Ek sal wonders gee bo in die hemelruim en wondertekens onder op die aarde – bloed en vuur en rookwolke. Die son sal ’n donker kol word, en die maan ’n bloedkol, voordat die groot en heerlike Dag van die Here kom. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.’ “Luister na wat ek gaan sê, geagte mede-Israeliete! Soos julle self weet, het God in die openbaar by julle bevestig dat Jesus van Nasaret die Here is. Dit is bevestig deur kragtige dade, wonders en tekens wat God Hom by julle laat doen het. Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor. God het Hom egter van die smarte van die dood gered en Hom opgewek, want die dood kon Hom nie in sy greep hou nie. “Koning Dawid het die volgende van Hom gesê: ‘Ek het die Here altyd by my gesien. Niks en niemand sal my laat wankel nie, want Hy is hier reg by my. Dis hoekom my hart bly is, en my tong jubel! Ja, nog meer: omdat ek hoop het, leef ek rustig. Ek weet U sal my gees nie in Hades agterlaat nie of toelaat dat u Heilige in die graf vergaan nie. U het my die paaie geleer wat na die lewe lei, U sal my bly maak met u teenwoordigheid.’ “Geagte volksgenote, verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons. “Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit. Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat: Hy sal nie in Hades agtergelaat word nie, sy liggaam sal nie in die graf vergaan nie. “Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan. Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor. Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?” Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid