HANDELINGE 2:5-39

HANDELINGE 2:5-39 NLV

Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs, en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat! Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome – Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!” Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra. Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê. Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op. Hy het die skare met ’n harde stem toegespreek: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, neem nou deeglik kennis en luister goed na wat ek gaan sê: Julle moet nou goed luister! Party van julle beweer hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie! Dis heeltemal te vroeg daarvoor. Mense is nie nege-uur in die oggend al dronk nie. Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het: ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op elke mens. Julle seuns en dogters sal die woord van God verkondig; julle jongmense sal gesigte sien, en julle oumense sal drome droom. Ja, op die mans en vroue wat in my diens staan, sal Ek in daardie dae my Gees uitstort en hulle sal my woord verkondig. En Ek sal wonders gee bo in die hemelruim en wondertekens onder op die aarde – bloed en vuur en rookwolke. Die son sal ’n donker kol word, en die maan ’n bloedkol, voordat die groot en heerlike Dag van die Here kom. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.’ “Luister na wat ek gaan sê, geagte mede-Israeliete! Soos julle self weet, het God in die openbaar by julle bevestig dat Jesus van Nasaret die Here is. Dit is bevestig deur kragtige dade, wonders en tekens wat God Hom by julle laat doen het. Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor. God het Hom egter van die smarte van die dood gered en Hom opgewek, want die dood kon Hom nie in sy greep hou nie. “Koning Dawid het die volgende van Hom gesê: ‘Ek het die Here altyd by my gesien. Niks en niemand sal my laat wankel nie, want Hy is hier reg by my. Dis hoekom my hart bly is, en my tong jubel! Ja, nog meer: omdat ek hoop het, leef ek rustig. Ek weet U sal my gees nie in Hades agterlaat nie of toelaat dat u Heilige in die graf vergaan nie. U het my die paaie geleer wat na die lewe lei, U sal my bly maak met u teenwoordigheid.’ “Geagte volksgenote, verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons. “Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit. Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat: Hy sal nie in Hades agtergelaat word nie, sy liggaam sal nie in die graf vergaan nie. “Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan. Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor. Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?” Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid