2 Konings 5:15-27

2 Konings 5:15-27 AFR20

Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.” Maar Elisa het gesê: “So waar as die HERE leef in wie se diens ek staan, ek sal dit nie neem nie!” Naäman het by hom aangedring om dit te aanvaar, maar hy het geweier. Toe sê Naäman: “As u nie kan nie, laat daar dan asseblief aan u dienaar twee muilvragte grond gegee word; want u dienaar sal nie meer 'n •brandoffer of 'n •maaltydoffer aan ander gode bring nie, net aan die HERE. In die volgende geval moet die HERE u dienaar vergewe: Wanneer my heer in die tempel van Rimmon ingaan om daar in aanbidding te buig, leun hy gewoonlik op my arm, en dan moet ek ook in die tempel van Rimmon in aanbidding buig. Wanneer ek dan in die tempel van Rimmon in aanbidding buig, moet die HERE asseblief u dienaar daarvoor vergewe.” Elisa het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Naäman was al 'n hele ent van hom af weg, toe dink Gehasi, die dienaar van Elisa, die man van God: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, lig daarvan laat afkom deur nie uit sy hand te neem wat hy gebring het nie. So waar as die HERE leef, ek gaan beslis agter hom aan hardloop en iets van hom neem. Gehasi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien iemand hardloop agter hom aan, spring hy van die strydwa af om hom tegemoet te gaan en vra: “Is alles reg?” Hy antwoord toe: “Alles is reg. My heer het my gestuur om te sê, ‘Kyk, daar het nou net twee jong manne van die heuwelland van Efraim af by my aangekom. Hulle is van die profetegroep. Gee asseblief vir hulle 'n kikkar silwer en twee stelle klere. ’ ” Daarop sê Naäman: “Wees so vriendelik en aanvaar twee kikkar! ” Hy het by hom aangedring en twee kikkar silwer in twee sakke toegebind, asook twee stelle klere. Hy het dit vir twee van sy dienaars gegee, en hulle het dit voor Gehasi gedra. Maar toe hy by die stadsheuwel kom, het hy dit uit hulle hande geneem en veilig in die huis gebêre. Hy het die manne weggestuur, en hulle het vertrek; maar hy het na binne gegaan en by sy heer gaan staan. Elisa het vir hom gevra: “Vanwaar, Gehasi?” Hy het geantwoord: “U dienaar het nêrens heen gegaan nie.” Elisa sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees teenwoordig toe 'n man van sy strydwa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Was die tyd dan ryp om silwer te neem, om klere te neem, en daarmee olyfboorde en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne te bekom? Die velsiekte van Naäman sal aan jou en jou nageslag kleef vir altyd.” Toe Gehasi van hom af weggaan, het hy die velsiekte gehad – soos sneeu.