2 KONINGS 5:15-27
2 KONINGS 5:15-27 Bybel vir almal (ABA)
Hy het teruggegaan na die man van God toe en hy en al sy mense het voor Elisa kom staan. Naäman het gesê: “Luister asseblief, ek weet nou daar is op die hele aarde nie 'n ander God nie, daar is net die God van Israel. En nou wil ek graag vir jou 'n present gee.” Maar Elisa het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, die Here vir wie ek werk, ek sal niks van jou neem nie.” Naäman het aangehou, maar Elisa wou niks neem nie. Toe sê Naäman: “As jy niks wil neem nie, mag ek dan asseblief 'n vrag grond saamneem, soveel soos twee muile kan dra? Ek wil van nou af net vir die Here offers bring, nie meer vir ander gode nie. Maar daar is een ding wat die Here vir my moet vergewe: Wanneer my koning in die tempel van Rimmon kom om daar te aanbid, dan sal die koning vir my sê ek moet langs hom staan en ek moet saam met hom aanbid. Die Here moet my vergewe wanneer ek dit doen.” Elisa het vir Naäman gesê: “Goed, dit is nie 'n probleem nie.” Naäman het weggegaan, maar hy was nog nie ver weg van Elisa nie. Gehasi, wat vir Elisa, die man van God, gewerk het, het gedink en vir homself gesê: “Kyk wat het my meneer gedoen, hy het hierdie Arameër laat weggaan en hy het niks geneem van die presente wat hy gebring het nie. So seker soos die Here lewe, ek sal hardloop en wanneer ek by hom kom, sal ek iets by hom kry.” Gehasi hardloop toe na Naäman toe, en toe Naäman sien daar kom iemand wat na hom toe hardloop, het hy stilgehou. Hy het afgeklim van die wa en hy het gewag vir die man. Toe Gehasi by hom kom, het Naäman gevra: “Is daar iets verkeerd?” Gehasi het gesê: “Nee, daar is niks verkeerd nie. My meneer het my gestuur om te sê daar het nou twee jongmanne van die Efraim-berg by hom gekom. Hulle is profete, en jy moet asseblief vir my meneer 'n talent silwer gee en ook klere vir twee persone.” Naäman het geantwoord: “Jy moet asseblief twee talente silwer neem.” Hy het aangehou sê dat Gehasi dit moet neem en hy het die twee talente silwer in twee sakke toegebind, en ook die klere. Hy het dit vir twee jongmanne gegee, en hulle het dit gedra en saam met Gehasi gegaan. Toe hulle bo-op die heuwel kom, het Gehasi die goed geneem wat die jongmanne gedra het en hy het dit in sy huis gaan bêre. Toe het hy vir hulle gesê hulle moet teruggaan, en hulle het gegaan. Gehasi het teruggekom by sy meneer, en toe hy by Elisa staan, vra Elisa: “Van waar kom jy, Gehasi?” Gehasi het gesê: “Nee, ek was nie weg nie.” Toe sê Elisa: “Ek het gesien hoe die man van sy wa afgeklim het en vir jou gewag het. Dit is nie nou die tyd om silwer en klere te neem nie, en ook nie olyfboorde en wingerde en skape en bokke en beeste en slawe en slavinne nie. Naäman was melaats, en sy siekte sal nou aan jou vassit en ook aan jou nageslag, julle sal altyd melaats wees.” En toe Gehasi weggaan van Elisa, was Gehasi melaats, sy vel was so wit soos sneeu.
2 KONINGS 5:15-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog 'n geskenk aan van u dienaar. Maar hy sê: So waar as die HERE leef voor wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie! En hy het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier. En Naäman het gesê: So nie, laat dan tog aan u dienaar 'n vrag grond gegee word, soveel as 'n paar muile kan dra; want u dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die HERE. Mag die HERE in hierdie saak u dienaar vergewe: as my heer in die huis van Rimmon ingaan om hom daar neer te buig, terwyl hy op my hand leun, sodat ek my ook in die huis van Rimmon neerbuig — as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, mag die HERE dan tog in hierdie saak u dienaar vergewe. En hy sê vir hom: Gaan in vrede! Nadat hy 'n ent pad van hom weggetrek het, sê Gehási, die dienaar van Elísa, die man van God: Kyk, my heer het hierdie Arameër Naäman verskoon deur nie uit sy hand aan te neem wat hy gebring het nie. So waar as die HERE leef, sekerlik sal ek agter hom aan loop en iets van hom aanneem. So het Gehási dan Naäman haastig gevolg. En toe Naäman een agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgespring hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed? En hy antwoord: Dit gaan goed; my heer stuur my om te sê: Kyk, daar het nou net twee jongmanne, profete-seuns, van die gebergte van Efraim af, na my gekom. Gee aan hulle tog 'n talent silwer en twee stel klere. En Naäman sê: Neem asseblief twee talente! En hy het by hom aangehou en twee talente silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met twee stel klere aan twee van sy dienaars gegee, wat dit voor hom uit gedra het. En toe hy by die heuwel aankom, het hy dit uit hulle hand geneem en in die huis in bewaring gegee en die manne laat gaan; en hulle het weggegaan. Toe hy dan inkom en by sy heer staan, sê Elísa vir hom: Vanwaar, Gehási? En hy antwoord: U dienaar het nêrens heengegaan nie. Maar hy sê vir hom: Het my hart nie saamgegaan toe 'n man van sy wa af omgedraai het jou tegemoet nie? Is dit tyd om die silwer te neem en om klere te neem en olyfbome en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne? Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.
2 KONINGS 5:15-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.” Maar Elisa het gesê: “So seker as die Here leef in wie se diens ek is, ek sal dit nie aanvaar nie.” Naäman het by Elisa daarop aangedring om dit te aanvaar, maar hy het bly weier. Toe sê Naäman: “As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander god nie. Daar is net een ding wat die Here my asseblief sal moet vergewe: as my koning na die tempel van Rimmon toe kom om te aanbid, en ek hom moet vergesel, en ek dan in die tempel van Rimmon aanbid wanneer hy daar aanbid, mag die Here my dit vergewe!” Elisa het van Naäman afskeid geneem, maar toe hy 'n ent weg was, het Gehasi, die slaaf van Elisa die man van God, vir homself gesê: “Meneer het hierdie Arameër Naäman laat wegkom sonder om iets te aanvaar van alles wat hy gebring het. So seker as die Here leef, ek gaan agter hom aan hardloop en ek sal iets van hom aanvaar.” Gehasi is agter Naäman aan. Toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa af afgespring, hom tegemoet gegaan en gevra: “Wat is verkeerd?” “Niks nie,” het hy geantwoord. “Die profeet het my gestuur om te sê: Daar het nou net twee jongmanne van die profetegemeenskap hier aangekom van die Efraimsberge af, en sal u nie asseblief vir hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gee nie.” Naäman het gesê: “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar.” Hy het by hom daarop aangedring, die ag en sestig kilogram silwer in twee geldsakke toegebind en dit saam met die twee stelle klere aan twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra. Toe hy by Die Bult kom, het hy dit by hulle gevat en in sy kamer gaan wegsteek. Toe hy die manne laat gaan het en hulle daar weg is, en hy inkom en by die profeet gaan staan, vra Elisa vir hom: “Waar kom jy vandaan, Gehasi?” Hy het geantwoord: “Ek was nêrens heen nie.” Hy sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees by jou toe iemand van sy wa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Moes jy dié geleentheid aangryp om silwer en klere in die hande te kry, of olyfboorde en wingerde, kleinvee en grootvee, slawe en slavinne? Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.” Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu.
2 KONINGS 5:15-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.” Maar Elisa het gesê: “So waar as die HERE leef in wie se diens ek staan, ek sal dit nie neem nie!” Naäman het by hom aangedring om dit te aanvaar, maar hy het geweier. Toe sê Naäman: “As u nie kan nie, laat daar dan asseblief aan u dienaar twee muilvragte grond gegee word; want u dienaar sal nie meer 'n •brandoffer of 'n •maaltydoffer aan ander gode bring nie, net aan die HERE. In die volgende geval moet die HERE u dienaar vergewe: Wanneer my heer in die tempel van Rimmon ingaan om daar in aanbidding te buig, leun hy gewoonlik op my arm, en dan moet ek ook in die tempel van Rimmon in aanbidding buig. Wanneer ek dan in die tempel van Rimmon in aanbidding buig, moet die HERE asseblief u dienaar daarvoor vergewe.” Elisa het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Naäman was al 'n hele ent van hom af weg, toe dink Gehasi, die dienaar van Elisa, die man van God: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, lig daarvan laat afkom deur nie uit sy hand te neem wat hy gebring het nie. So waar as die HERE leef, ek gaan beslis agter hom aan hardloop en iets van hom neem. Gehasi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien iemand hardloop agter hom aan, spring hy van die strydwa af om hom tegemoet te gaan en vra: “Is alles reg?” Hy antwoord toe: “Alles is reg. My heer het my gestuur om te sê, ‘Kyk, daar het nou net twee jong manne van die heuwelland van Efraim af by my aangekom. Hulle is van die profetegroep. Gee asseblief vir hulle 'n kikkar silwer en twee stelle klere. ’ ” Daarop sê Naäman: “Wees so vriendelik en aanvaar twee kikkar! ” Hy het by hom aangedring en twee kikkar silwer in twee sakke toegebind, asook twee stelle klere. Hy het dit vir twee van sy dienaars gegee, en hulle het dit voor Gehasi gedra. Maar toe hy by die stadsheuwel kom, het hy dit uit hulle hande geneem en veilig in die huis gebêre. Hy het die manne weggestuur, en hulle het vertrek; maar hy het na binne gegaan en by sy heer gaan staan. Elisa het vir hom gevra: “Vanwaar, Gehasi?” Hy het geantwoord: “U dienaar het nêrens heen gegaan nie.” Elisa sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees teenwoordig toe 'n man van sy strydwa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Was die tyd dan ryp om silwer te neem, om klere te neem, en daarmee olyfboorde en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne te bekom? Die velsiekte van Naäman sal aan jou en jou nageslag kleef vir altyd.” Toe Gehasi van hom af weggaan, het hy die velsiekte gehad – soos sneeu.
2 KONINGS 5:15-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het na die man van God teruggekeer, hy en sy hele menigte, en gekom en voor hom gaan staan; en hy het gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel; Bid, neem 'n seën van u kneg. Maar hy sê: So waar as die HERE leef voor wie ek staan, ek sal niemand aanneem nie. En hy het hom aangespoor om dit te neem; maar hy het geweier. Toe sê Naäman: Sal daar tog nie twee muile grond aan u dienaar gegee word nie? want u dienaar sal voortaan geen brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie, maar aan die HERE. In hierdie saak vergewe die HERE u kneg dat as my heer in die huis van Rimmon ingaan om daar te aanbid, en hy op my hand leun en ek my neerbuig in die huis van Rimmon; as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, vergewe die HERE u kneg in hierdie saak. En hy sê vir hom: Gaan in vrede. Daarom het hy 'n entjie van hom af weggegaan. Maar Gehasi, die dienaar van Elísa, die man van God, het gesê: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, gespaar deur nie uit sy hand te ontvang wat hy gebring het nie; maar so waar as die HERE leef, ek sal agter hom aan hardloop en neem ietwat van hom. Gehasi het toe vir Naäman gevolg. En toe Naäman hom agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgeklim hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed? En hy sê: Alles is goed. My heer het my gestuur om te sê: Kyk, nou het daar twee jongmanne uit die profete-seuns na my gekom van die berg Efraim af; gee tog vir hulle 'n talent silwer en twee onderklere. Toe sê Naäman: Wees tevrede, neem twee talente. En hy het by hom aangedring en twee talente silwer in twee sakke gebind, met twee onderklere, en dit op twee van sy dienaars gelê; en hulle het dit voor hom gedra. En toe hy by die toring kom, het hy dit uit hulle hand geneem en dit in die huis gegee; en hy het die manne laat gaan, en hulle het weggegaan. Maar hy het ingegaan en voor sy heer gaan staan. En Elísa sê vir hom: Waar kom jy vandaan, Gehasi? En hy sê: U dienaar het nêrens heen gegaan nie. En hy sê vir hom: Het my hart nie saam met jou gegaan toe die man omgedraai het van sy strydwa jou tegemoet nie? Is dit 'n tyd om geld te ontvang en om klere te ontvang en olyfbome en wingerde en skape en beeste en slawe en slavinne? Daarom sal die melaatsheid van Naäman aan jou en jou nageslag vir ewig kleef. En hy het van sy aangesig weggegaan, 'n melaatse so wit soos sneeu.
2 KONINGS 5:15-27 Die Boodskap (DB)
Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.” Elisa het volstrek geweier. Hy het gesê: “Net so seker as wat ek is dat die Here wat ek dien, lewe, so seker is ek dat ek nooit die geskenk van jou sal aanvaar nie!” Hoe Naäman ook al by hom gepleit het, Elisa het die geskenk bly weier. Toe sê Naäman vir hom: “As u dan niks wil hê nie, mag ek maar iets vra? Kan ek ’n vraggie grond hiervandaan saamneem? Ek wil van nou af nie meer vir enige ander gode diere offer nie. Ek wil net die Here só vereer. Maar daar is ’n probleem. Ek moet soms saam met my koning na die tempel van Rimmon, die god van die Arameërs, toe gaan. Wanneer die koning wil kniel, moet ek saam met hom kniel. Dit sal dan kan lyk of ek ook vir Rimmon vereer. Mag die Here my dit vergewe!” Elisa het geantwoord: “Gaan maar sonder bekommernis,” en Naäman het huis toe gegaan. Elisa se assistent, Gehasi, het vir homself gesê: “Ek kan nie glo dat Elisa hierdie Arameër laat gaan het sonder om die geskenk te vat wat hy saamgebring het nie. Ek gaan beslis agter hom aanhardloop om ten minste iets by hom te kry!” Gehasi is toe haastig agter Naäman aan. Toe Naäman hom sien, het hy van sy wa afgeklim en na hom toe gegaan. Hy het vir Gehasi gevra: “Is alles reg?” “Ja, dankie,” het hy geantwoord, “maar Elisa het my gou met ’n versoek gestuur. Hy sê daar het nou pas twee jong profete uit die bergland van Efraim by hom aangekom. Sal u asseblief vir hulle 34 kilogram silwer en twee stelle klere gee?” Naäman het geantwoord: “Natuurlik ja, maar ek verdubbel dit. Vat 68 kilogram silwer vir hulle saam.” Hy het dadelik 68 kilogram silwer in twee geldsakke gesit. Hy het die geld en twee stelle klere vir sy assistente gegee om dit vir Gehasi huis toe te dra. Toe hulle by die heuwel kom, het Gehasi die goed by hulle gevat en hulle teruggestuur. Hy het die geskenke in die huis gaan wegsteek. Toe hy weer by Elisa kom, het Elisa vir hom gevra: “Waar was jy, Gehasi?” “Ek was nêrens heen nie,” het hy geantwoord. Maar Elisa het gesê: “Gehasi, ek was in die gees dáár toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet. Dis tog nie nou die tyd om geld en klere in die hande te kry, of om olyfboorde, wingerde, skape en beeste of slawe en slavinne bymekaar te maak nie! Omdat jy dit gedoen het, gaan jy en jou nageslag altyd aan die velsiekte ly waarvan Naäman so pas gesond geword het.” Toe Gehasi van Elisa af weggaan, was sy vel reeds spierwit uitgeslaan van die siekte.
2 KONINGS 5:15-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.” Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die HERE leef, Hy vir wie ek dien, ek sal geen geskenke aanvaar nie.” Naäman het daarop aangedring dat hy die geskenk aanvaar, maar Elisa het geweier. Naäman sê toe: “As u dit nie wil neem nie, sal u toelaat dat ek twee muilvragte grond kry om saam te vat? Van nou af sal ek nooit weer brandoffers of ander offers aan enige god bring nie as net aan die HERE. Maar mag die HERE my vergewe ten opsigte van hierdie één ding: Wanneer my heer die koning ingaan in die tempel van die god Rimmon om daar te aanbid en op my arm leun, mag die HERE my vergewe wanneer ek ook moet buig in die tempel van Rimmon.” “Gaan in vrede,” antwoord Elisa. Naäman het toe sy terugtog begin. Toe hy ’n entjie weg was, sê Gehasi, die dienaar van Elisa die man van God, vir homself: “My heer moes nie toegelaat het dat hierdie Arameër Naäman weggaan sonder om ’n geskenk te aanvaar uit alles wat hy saamgebring het nie. So seker as die HERE leef, ek sal hom agternasit en iets by hom kry.” Gehasi het hom toe agternagesit. Toe Naäman sien hoe hy agter hom aan hardloop, klim hy af van sy wa en gaan om hom te ontmoet. “Is daar iets verkeerd?” vra Naäman. “Nee, alles is reg,” antwoord Gehasi. “My meester het my gestuur om vir u te sê twee jong profete het so pas uit die Efraimsberge aangekom. Hy sou graag 34 kilogram silwer en twee stelle klere wou hê om vir hulle te gee.” “Sekerlik, maar vat 68 kilogram silwer,” sê Naäman. Hy het by hom daarop aangedring om die 68 kilogram silwer en twee stelle klere te neem. Dit het hy in twee sakke gepak en saam met die twee stelle klere aan twee van sy dienaars gegee om dit voor Gehasi uit te dra. Toe hulle by die heuwel kom, vat Gehasi die geskenke by die dienaars en steek dit weg in sy huis. Daarna het hy die manne teruggestuur. Toe hy by die profeet kom, vra Elisa vir hom: “Waar was jy, Gehasi?” “Ek was nêrens heen nie,” antwoord hy. Maar Elisa sê vir hom: “Het my hart nie saamgegaan toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet nie? Is dit die tyd om geld en klere, olyfboorde en wingerde, skape en beeste, slawe en slavinne in die hande te kry? Omdat jy dit gedoen het, sal jy en jou nageslag vir altyd ly aan die melaatsheid van Naäman.” Toe Gehasi die vertrek verlaat, was hy reeds melaats, so wit soos sneeu.