2 Korinthiërs 5:1-21

2 Korinthiërs 5:1-21 AFR20

Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het wat van God kom, 'n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. As ons net nie ontklee en nakend gevind sal word nie! Want ons wat nog in die tentwoning is, sug as mense wat swaarkry, omdat ons nie ontklee nie, maar geklee wil word, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. Hy wat ons juis hiervoor voorberei het, is God, wat aan ons die Gees as waarborg gegee het. Daarom is ons altyd vol moed, al weet ons dat, terwyl ons nog in die aardse liggaam woon, ons nie by die Here woon nie; want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie. Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. Daarom, of ons reeds inwoon, of nog nie inwoon nie, streef ons daarna om vir Hom welgevallig te wees. Want ons moet almal voor die regterstoel van •Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in sy liggaamlike bestaan gedoen het, of dit goed of kwaad was. Aangesien ons weet wat ontsag vir die Here is, probeer ons mense oortuig. Maar by God is ons deeglik bekend, en ek hoop om ook in julle gewete so bekend te wees. Ons is nie weer besig om onsself by julle aan te beveel nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teen dié wat hulle op die uiterlike voorkoms beroem, en nie op wat in die hart is nie. As ons buite onsself is, is dit vir God; as ons by ons verstand is, is dit vir julle. Die liefde van •Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is. Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons 'n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.

Video for 2 Korinthiërs 5:1-21

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Korinthiërs 5:1-21